Covid-19-gevalle by Anglo-myn neem toe

AngloGold Ashanti se Mponeng-myn. Foto: JMK/Wikimedia Commons

Die aantal Covid-19-gevalle by die AngloGold Ashanti se Mponeng-myn naby Carletonville het binne dae met 72 toegeneem. Die National Union of Mineworkers (NUM) het Dinsdag in ʼn verklaring gesê 196 Covid-19-gevalle is tot dusver by dié myn wes van Johannesburg aangemeld.

Maroela Media het vroeër berig dat 124 gevalle teen Sondag hier aangemeld is. Volgens NUM is 10 positiewe gevalle boonop ook by die Moab Khotsong-myn naby Orkney in Noordwes aangemeld.

Myne word tydens vlak 4 van afsondering toegelaat om op 50%-kapasiteit te funksioneer.

Argieffoto

Die vakbond sê Dinsdag in ʼn verklaring dat hulle uit die staanspoor teen dié reëling was en sê daar moes eers sekergemaak word dat myne wel aan al die veiligheid- en gesondheidsmaatreëls voldoen. “Sosiale afstand word byvoorbeeld in sommige gevalle glad nie gehandhaaf nie,” lui die verklaring. NUM stel voor dat alle myne wat ʼn hoë aantal Covid-19-infeksies het, tydelik gesluit word totdat die probleem reggestel word, maar eis dat werkers steeds 100% van hul salaris ontvang. “Daar is tans ʼn uitbraak van Covid-19 in die mynbedryf en die getalle styg teen ʼn angswekkende koers. Alle mynbestuurders wat nie aan die gesondheidsregulasies voldoen nie, behoort in hegtenis geneem te word,” sê die vakbond.

Num het ook die Limpopo-regering geprys vir hul vinnige optrede met die hantering van die hoë getal Covid-19-gevalle by Implats se Marula-myn vroeër die maand. Hier het 19 werkers positief vir Covid-19 getoets. Maroela Media het berig al die werkers was asimptomaties en ten spyte van die maatskappy se omvattende sifting-, toets- en opsporingsprotokol het trosbesmetting steeds plaasgevind.

“Mynwerkers kan nie opgeoffer word in ruil vir wins tydens die krisis nie. NUM sal nie huiwer om enige mynmaatskappy op die naam te noem indien hulle nie aan die nodige veiligheid- en gesondheidsmaatreëls voldoen nie,” sê die vakbond. Hy het mynwerkers ook aangemoedig om op te hou werk indien hulle voel hul lewens word bedreig.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willem ·

NUM gaan veroorsaak dat hier nog groter werkloosheid is in hierdie land

Frikkels ·

Alle unie base behoort gearresteer te word. Hulle veroorsaak dat maatskapye bankrot gaan en mense sonder werk en inkomste moet voortploeter. Myns insiens, is daar geen groter misdaad teen die mensdom as juis dit nie. Hulle is domastrant!

Cherokee ·

Sosiale afstand word in sommige gevalle glad nie gehandhaaf nie, lui die verklaring.
Dit is wanneer Cherokee hulle daarop wys dat hulle 2 meter van mekaar af behoort te wees, soos passasiers in taxis.

Skim se hond ·

Daar is die naweek bevestig dat die myn se toetse na 2 bekende labrotoriums gestuur is en dat al die toetse negatief was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.