Covid-19: Gevalle in SA neem steeds stadig toe

Die styging in Covid-19-gevalle in Suid-Afrika.

Die totale getal Covid-19-gevalle in Suid-Afrika staan nou op 1462. Dit het dus met 82 gevalle of 6% toegeneem sedert Woensdag. Dit is ʼn redelik stadige toename in vergelyking met verlede week toe gevalle daagliks met tussen 20% en 40% toegeneem het. Dié syfer kan egter skeefgetrek word deur ʼn toename in die aantal uitstaande toetsuitslae of persone wat die siekte onder lede het en nie hulself laat toets nie.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Donderdagaand die jongste syfers bekendgemaak. Hy sê beamptes wag steeds om te bevestig of daar wel sedert Woensdag nog twee sterftes weens Covid-19 in Suid-Afrika plaasgevind het. Teen Woensdag het vyf mense reeds weens dié siekte in die land gesterf.

Mkhize meen Suid-Afrikaners sien reeds die effek van die streng regulasies wat die afgelope week toegepas is, om die verspreiding van die virus te bekamp.

“Die feit dat ons die grense toegemaak het en mense grotendeels in hul huise is, beteken daar is nie groot groepe mense wat met mekaar meng nie,” sê hy. “Maar dit is steeds te vroeg om behoorlike gevolgtrekkings te maak.”

Die Wes-Kaap het die grootste toename in gevalle getoon. Dié provinsie se getal het met 27 gevalle toegeneem van 326 tot 353. Die aantal gevalle in KwaZulu-Natal het met 20 toegeneem van 186 tot 206 en in Gauteng is 18 nuwe gevalle aangemeld, wat die getal gevalle hier opstoot van 645 tot 663. Dié provinsie het steeds die meeste gevalle. Die Noord-Kaap het nog die minste gevalle (7) aangemeld en dit wil voorkom of geen nuwe gevalle die afgelope 24 uur hier aangemeld is nie. Daar is egter 94 gevalle wat nog nie aan ʼn bepaalde provinsie verbind kan word nie.

Mkhize het Suid-Afrikaners aangemoedig om hulself te laat toets en gesê baie moet nog in die volgende twee weke op dié gebied gedoen word. Hy is egter in sy skik met die mate van selfvertroue waarmee mediese personeel optree.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

Die aantal Covid-19-gevalle in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jan ·

Hoekom tel maroelamedia nie ook dagliks die gevalle van kanker diabetes en tb nie dan sal ons sien 98 persent van koronagevalle herstel ten volle…

Pieter ·

Die gevalle wat jy noem is volgens die media nie nuuswaardig nie.Covid verkoop .

netekalleen ·

As ons land so gereed was vir die virus,hoekom vat die toets uitslae so lank?? Dit gaan veroorsaak dat ons ” o so gehoorsame landsburgers”nogsteeds die strate gaan invaar en die polisie en regering se waarskuwings ignoreer en ander aansteek.

antieke antie ·

jy is reg .. baie van our people steur hulle nie aan die reels nie… en die ‘ wetstoepassers met uniforms’ sal die ‘mag’ gebruik en misbruik…

1Lulu ·

My man se uitslae was binne 24uur bekend gewees. Dit was by Tshwane Distrik Hospitaal. Moet sê dit het my verwagtinge oortref. Het gedink dit sou 3-4 dae neem. Die personeel was ook baie vriendelik en behulpsaam.

Petrus Johannes ·

Ek sien die Minister van gesondheid seg die wat mense nie in “GROOT GROEPE ” is nie help baie.Minister u sit seker by u huis en sien niks raak nie .

Gert ·

Die rede hoekom daar ‘n toename in die Wes Kaap is.is omdat daar werklik toetse gedoen word.

marius ·

Geen beswaar om getoets te word as die dok tor in dieselfde ry staan vir ure by die kliniek waar geen toestelle is nie .

Janc ·

Kinders word toegelaat om ‘n begrafnis by te woon maar ouers mag nie kinders van een veilige huis na ‘n ander veilige huis vervoer nie? Maak glad nie sin nie maar okay!

antieke antie ·

en die hele ‘ekstended ‘ familie kan gaan….so die mense wat ‘land
toe toer’ kan net se hulle is familie van die oom se niggie se neef en hulle gaan by die bure kuier…

JC Venter ·

“Gevalle in Suid-Afrika neem steeds stadiger toe”, dit is nou %-gewys, maar die gevalle waarop die % bereken word, het intussen heelwat gestyg. Tog blyk dit wel die geval te wees %-gewys asook getalle per dag, dat daar ‘n draaipunt was. Net ‘n voorbeeld: 40%van bv 100 = 40 gevalle. 6% van 1000 = 60 gevalle. Daarom behoort die statistiek eintlik progressief én kumulatief weergegee te word.

JC Venter ·

“Gevalle in Suid-Afrika neem steeds stadiger toe”, terloops, dit is nou % gewys soos per die berig hier bo.

Wie kan help met statistiek soos ek hier voor, voorgestel het van dag een af?

antieke antie ·

eerstens vertrou ek nie die wat die rekords hou en update nie… en ek weet hoe lieg die mense….. en die verskillende ministers praat nie dieselfde storie nie…… en lock down is lankal nie meer geldig met almal wat nou weer taxi ry nie

charmaine ·

Hulle se daar is mense wat die virus het maar hulle weet dit nie, nou hoe noe?
Ek kan my nie laat toets vir griep as ek nie siek voel of as ek weet ek het dit nie.
Net verskonings!

antieke antie ·

hierdie verslapping van sekere reels met taxis ens gaan die lockdown n flop…. en dan is dit erger….

Vriendelike Frikkie ·

Hierdie lockdown is ‘n groot grap. Omtrent elke winkelsentrum staan vol karre. Mense loop meesal sonder handskoene en maskers. Die toue buite die winkels het so ‘n effentjiese spasie tussen die mense getoon, maar beslis nie 1-2m nie. Binne die winkel word die hoeveelheid mense beheer maar nie hoeveel in ‘n gang is nie. Daar is baie minder verkeer, maar dis nog steeds soos Sondag verkeer. Ek het vanoggend regoor Pretoria gery om te sien hy lyk die paaie en om by ‘n spesifieke biltongwinkel te kom. In ‘n 40km retoer rit het ek nie een blokkade van enige aard gesien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.