Covid-19-gevalle in SA nou op 85; uitslae van Wuhan-groep bekend

(Argieffoto: pixabay)

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het Dinsdagaand laat aangekondig Suid-Afrika het nou 85 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus, oftewel Covid-19. Dit is ʼn styging van 23 gevalle sedert die vorige aankondiging ʼn enkele dag tevore gedoen is.

Die meeste van die nuwe gevalle, altesame 14, is in Gauteng aangemeld. Vier van die Gautengse pasiënte – drie vroue en ʼn man – wat die virus opgedoen het, het geen internasionale reisgeskiedenis nie, het Mkhize gesê.

Die getal bevestigde nuwe gevalle in KwaZulu-Natal staan op vier. Twee van die gevalle is kinders. ʼn Vyfjarige seuntjie en ʼn driejarige seuntjie – albei sonder enige internasionale reisgeskiedenis – het positief vir die virus getoets.

In die Wes-Kaap is vyf nuwe gevalle bevestig. Hulle sluit in ʼn driejarige seuntjie wat na die Verenigde Koninkryk gereis het.

“Dit is noemenswaardig dat daar agt voorvalle van plaaslike oordrag is. Ek moet die publiek ook inlig dat daar ʼn bespreking met klinici, epidemioloë en viroloë was oor wanneer ons as regering die uitslae aan die publiek moet bekend maak.

“Dié kenners het die kwessie van ʼn etiese verpligting geopper om die pasiënte in te lig sodra hul toetsuitslae beskikbaar is,” het Mkhize gesê.

“Dit beteken dus sodra ʼn bevestigende toets in ʼn staatslaboratorium gedoen is, is die pasiënte reeds oor hul aanvanklike toetsuitslae ingelig. Dié verduideliking is belangrik omdat die regering aangekondig het dat alle positiewe toetsuitslae ook deur staatslaboratoriums en die Nios [Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes] bevestig gaan word.”

Mkhize het gesê waar toetsuitslae verskil, sal ʼn aankondiging gedoen word oor die spesifieke uitslag wat aanvanklik aangekondig is, tesame met die uitslag van die bevestigende toetse.

“Ons respekteer die feit dat private laboratoriums die kapasiteit het om toetse te doen en uitslae uit te reik, maar ons bedoeling is om te verseker die inligting en uitslae wat aan die publiek verskaf word, is geloofwaardig.”

The Ranch Hotel in Polokwane. (Foto: Google)

Toetsuitslae van Wuhan-groep

Die minister het ook aangekondig dat nie een van die groep Suid-Afrikaners wat die afgelope naweek vanuit Wuhan, China, na Suid-Afrika gerepatrieer is, positief vir Covid-19 getoets het nie.

“Ons gaan voort om hulle vir die voorgeskrewe tydperk in kwarantyn te hou en sal daarna begin met die proses om hulle met die gemeenskap te herenig.”

Die groep word by die luukse The Ranch Hotel in Limpopo in isolasie gehou waar lede van die polisie en die weermag hulle bewaak om te verseker dat hulle nie met enigiemand anders in kontak kom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andre ·

Dit gaan al weer soos met HIV waar hulle alles probeer wegsteek. Ek wil weet ook WAAR is die gevalle!

Raakvatter ·

Korrek, WAAR?? Nie watter provinsie nie, maar watter dorp.

Lolla ·

MM gee reeld inligting van waar al die gevalle is en die persoon se ouderdom. Hou maar net die berigte dop.

charmaine ·

Dis nie hulle wat vir die blyplek gevra het nie was die regering.

Oujongvrou ·

En waar hou die ander nou 5**vakansie en wie bewaak hulle? Daai politieke skuif wat miljoene kos gaan julle nog kom byt. Geld kon gebruik gewees het om toetse aan te koop, en vele ander dinge

Sandra ·

Ek dink die private laboratoriums se uitslae is meer korrekas die van die staat. Onse liewe staatslaboratoriums kan dan nie eers met hul dag tot dag take byhou nie, wat nog te meer met die bevestiging van die uitslae van private laboratoriums? Nee wat, hulle probeer nou shine vang, maar hulle mis dit met km’s!

Agter die skerms..... ·

Stem saam Debbie lekker gratis vakansie – maar hierdie mense het seker ook werke wat hulle moet aan rapporteer of geld het wat hulle moet verdien. Miskien doen hulle dit maar deur Laptops of iets – maar dit is soos jy se gratis vakansie. Hoe lank word hulle in kwarantyn gehou?

Bella ·

mens noem dit voorsorg om die land se mense te beskerm. julle wat nou so aangaan oor die “gratis” vakansie, indien die mense positief was vir die virus en vry was om die hele land vol te toer, sou julle natuurlik die ouens gewees het wat weereens die meeste keel sou opsit op die swak bedryf van die land. daai mense verlang na hul eie mense en hoewel die hotel luuks is, sou ek dink dat hulle eerder in so onsekere tyd eerder saam met hul geliefdes wou wees.

Belinda ·

Alles goed en wel, ek stem saam met jou, hou hul in kwarantyn, maar beslis nie in ‘n 5ster hotel nie. Slaan tente in die Bosveld in hitte op, dit maak die virus dood. Ek stem saam met die klaers bo oor die spandeer van miljoene wat vir toetse en meds gebruik kon gewees het.

Daizee ·

Is dit so dat daar 2 gevalle ook in De Aar aangemeld is waarvan een persoon ‘n Chinees is?!

Johan Venter ·

Nou wonder ek hoe gaan dit daar in die noordelike halfrond met Brexit?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.