Covid-19: Gevalle styg tot 150

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Altesaam 150 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19 is nou in Suid-Afrika aangemeld. Dié syfer het dus in die afgelope 24 uur met 34 (22%) gestyg.

Volgens die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) is 76 van dié gevalle in Gauteng aangemeld, gevolg deur 46 gevalle in die Wes-Kaap. Altesaam 22 gevalle is tot op hede in KwaZulu-Natal aangemeld, vyf mense het in Mpumalanga positief getoets vir Covid-19 en een in Limpopo.

Volgens die Nios is slegs twee van al die gevalle plaaslik oorgedra.

Maroela Media het verneem dat vyf van dié gevalle in Midstream in Pretoria aangemeld is. Die pasiënte is tans in isolasie.

Jan Zeederberg, voorsitter van die Greater Midstream Forum, het gesê daar is tot dusver vyf bevestigde gevalle van Covid-19 in die landgoed. Niemand is gehospitaliseer nie en inwoners is gevra om tuis te bly.

Die landgoed het ook maatreëls ingestel om inwoners wat vermoed hulle het die virus opgedoen, by te staan. Daar is ʼn hospitaal, spreekkamers en ‘n patoloog op die landgoed en inwoners wat vir die virus getoets wil word, kan in die parkeerterrein by die patoloog stilhou waar ʼn monster geneem sal word.

Die forum het ʼn omvattende brief aan alle inwoners oor dié proses gestuur en koördineer dit sover moontlik om kontak tussen inwoners te help verminder.

Die skool in die landgoed is reeds ingevolge die regering se voorskrifte gesluit en kerke sal aanlyn dienste hou, het Zeederberg gesê.

Volgens hom reis talle van die landgoed se inwoners wêreldwyd en doen hulle alles moontlik om die verspreiding van die virus te help stuit.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagmiddag die media toegespreek nadat hy met geestelike leiers in Pretoria oor Covid-19 vergader het. Al die organisasies het die wens uitgespreek vir ’n nasionale biddag. ’n Datum hiervoor sal mettertyd bekendgemaak word.

Nkosazana Dlamini-Zuma Donderdag by die mediakonferensie in Pretoria. (Foto: Twitter)

“Ek is vol vertroue dat ons met al die wapenrusting tot ons beskikking hierdie oorlog sal oorwin,” het die president gesê voordat hy aan Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van maatskaplike ontwikkeling, oorgegee het.

Dlamini-Zuma het op haar beurt bevestig dat geen sterftes nog in Suid-Afrika aangemeld is nie.

Nuwe regulasies wat die verspreiding van Covid-19 moet bekamp, is Woensdag in die Staatskoerant gepubliseer. Volgens Dlamini-Zuma is regsverteenwoordigers nou besig om dié regulasies in te stel.

Dlamini-Zuma wys daarop dat hierdie regulasies voortaan wet is. Suid-Afrikaners wat dit nie gehoorsaam nie, kan dus beboet of selfs tronkstraf opgelê word. Die regulasies sluit in:

  • Sosiale byeenkomste van meer as 100 mense word in dié stadium nie toegelaat nie.
  • Sosiale byeenkomste van meer as 50 met alkohol beskikbaar, word nie toegelaat nie.
  • Alle plekke wat alkohol verkoop, mag vanaf Maandag tot Saterdag slegs tussen 09:00 en 18:00 bedryf word en Sondae tussen 09:00 en 13:00.
  • Geen besoekers sal vir die volgende 30 dae by korrektiewe dienste toegelaat word nie.
  • Mense wat behandeling, isolasie of kwarantyn weier, kan tronkstraf opgelê word.

Maroela Media het ook reeds omvattend oor die res van die regulasies berig.

Ebrahim Patel Donderdag by die mediakonferensie in Pretoria. (Foto: Twitter)

Ronald Lamola, minister van korrektiewe dienste, het op sy beurt gesê tronke word in dié stadium ontsmet. “Ons wil geen kanse waag nie,” het Lamola gesê.

Bheki Cele, minister van polisie, het ook ’n spreekbeurt gekry. Hy sê die reël oor sosiale byeenkomste van minder as 100 mense is nie buigbaar nie en geld selfs vir begrafnisse. “Dit is nie onderhandelbaar nie. Dit is die wet.”

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en ekonomiese ontwikkeling, sê dié departement werk onverpoos om seker te maak dat genoeg kos geproduseer en beskikbaar gestel word. “Fabrieke het reeds aangedui dat hulle genoeg voorraad het en boere verwag goeie oeste,” het Patel gesê.

Volgens Patel is die departement bewus van die paniekaankope wat vandeesweek plaasgevind het. Die departement sê paniekaankope word nie toegelaat nie. Winkels gaan nou stappe doen om kopers in te perk.

Volgens Patel is regulasies ook ingestel om buitensporige prysverhogings hok te slaan. Sou iemand nie gehoor hieraan gee nie, sal ’n boete gehef of selfs tronkstraf opgelê word.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Belinda ·

Ja nee maar hou maar die landsgrense oop!!!!!! Hoop niemand word verder toegelaat, al is hul burgers van die land, daar is mense van hoë geteisterde gebiede wat burgerskap het en ‘n vlug hiernatoe is ‘n verspreiding hiernatoe.

4ntj13 ·

Ons is uitgelewer aan mense wat hulself isoleer nadat hulle positief getoets het. Daardie mense beland nie op die regering se getallelys nie. Dis tyd dat iemand by die WHO vra die patoloë moet regerings omseil, en getalle direk verskaf. Ek is bekommerd ons regering hou van die tydbom waarop ons sit.

Theo ·

‘n Mense mag maar na ‘n kroeg gaan vanaf 9:00 to 18:00.So volgens die mense begin die virus in die oggend 9:00 te werk tot 18:00 dan pak hy sy goedjies op en gaan slaap.Jis dit is darem ‘n goeie virus so ons moet in ons passoppens wees net vir daardie tydperk.

Marthinus Johannes ·

NET in SA, tronkstrawwe gekoppel die siekte. Het gaan kyk na die noidmaatreels wat ander lande ingestel het, NET in SA.

Michael ·

Ek dink dit is belaglik om paniekerig te raak en n ton toilet papier te koop maar ek dink die getalle is ver meer as wat hulle sê

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.