Covid-19: Gevangene sterf; nóg beamptes toets positief

(Foto: pixabay)

Die departement van korrektiewe dienste het bevestig dat ʼn gevangene se dood vroeër die maand Covid-19-verwant is.

Volgens Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, is dit bevestig dat die dood van ʼn 50-jarige gevangene Covid-19-verwant was met respiratoriese versaking wat as die oorsaak van dood aangedui word. Dié gevangene is op 20 Mei in ʼn gevangenis in Oos-Londen in die Oos-Kaap dood.

Die getal Covid-19-gevalle onder gevangenes en beamptes het intussen tot 719 gestyg. Volgens Nxumalo het 246 beamptes en 473 gevangenes reeds positief vir Covid-19 getoets, met altesaam 143 mense wat van die virus herstel het.

Nxumalo het ook bevestig dat nog nege beamptes in die Wes-Kaap en een beampte in die Oos-Kaap positief vir Covid-19 getoets het.

Altesaam 413 gevangenes en 76 beamptes in die Oos-Kaap het al positief vir Covid-19 getoets en drie sterftes is aangemeld. Volgens Nxumalo het 72 van hulle reeds van die virus herstel.

In die Wes-Kaap het altesaam 51 gevangenes en 155 beamptes al positief getoets, twee sterftes is aangemeld en 59 van hulle het reeds van die virus herstel.

In Limpopo het twee beamptes positief vir Covid-19 getoets en een personeellid van die virus herstel. In Gauteng het sewe beamptes en nege gevangenes positief getoets en 10 van hulle het reeds van die virus herstel.

In die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal het onderskeidelik twee beamptes in elk van die provinsies positief vir Covid-19 getoets. In die Vrystaat het een beampte positief getoets. Daar is ook een beampte wat positief getoets het by die departement se hoofkantoor, maar reeds van die virus herstel het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.