Covid-19: Gevangenis in die Overberg ingeperk

(Argieffoto: Unsplash)

Die departement van korrektiewe dienste het ’n streng inperking by die Helderstroom-gevangenis op Caledon in die Overberg-streek ingestel in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 onder gevangenes en korrektiewe amptenare te beperk.

Dié maksimumsekuriteitsgevangenis het onlangs ’n toename in die aantal gevangenes wat positief toets vir die koronavirus beleef. Altesaam 87 gevangenes het nou reeds die virus opgedoen terwyl vyf korrektiewe beamptes positief getoets het.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement, sê dié pasiënte is reeds in isolasie geplaas terwyl die ontsmetting van die gevangenis geprioritiseer word om te verhoed dat nog gevangenes en korrektiewe amptenare Covid-19 opdoen.

“Hoewel slegs die maksimumsekuriteitsgevangenis in hierdie stadium geraak word, wil die departement geen kanse waag nie en die mediumsekuriteitsgevangenis word gemonitor. Maatreëls vir die voorkoming van infeksies word in alle bestuursareas reg oor die land verhoog, met spesifieke riglyne om voort te gaan met die ontsmetting van ontvangsareas, selle, kantore, voertuie en ablusiegeriewe.”

Daar is tans 859 aktiewe Covid-19-gevalle, 294 gevangenes en 565 amptenare, in die land se 243 korrektiewe sentrums.

Die land se tronke het reeds 9 097 bevestigde gevalle sedert die uitbreek van die koronavirus verlede jaar aangemeld. Hoewel 111 amptenare en 60 gevangenes die afgelope maande weens Covid-19 gesterf het, staan die departement se herstelkoers op 88%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.