Covid-19: Gewysigde riglyne vir skole aangekondig

Leerders aan die Laerskool Pierneef maak reg vir skool. (Foto: Verskaf)

Die drukgroep Equal Education het die gewysigde Covid-19-regulasies wat die departement van onderwys Dinsdag aangekondig het, verwelkom.

Die nuwe regulasies wat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, afgekondig het oor die heropening van skole en die maatreëls wat ingestel moet word om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, vervang alle vorige bepalings.

Equal Education en SECTION27 het vroeër vandeesmaand in ʼn brief aan Motshekga en haar departement kommer oor die wettigheid en grondwetlikheid van sekere bepalings in die oorspronklike regulasies te kenne gegee. Ná samesprekings met die departement is verskeie veranderinge aangebring in ooreenstemming met die drukgroepe se voorstelle aan die departement.

Terwyl die verantwoordelikheid vir die voldoening aan minimum vereistes grootliks by skole berus, was daar geen aanduiding in die regulasies oor wie verantwoordelik is as ʼn skool nié aan die voorwaardes voldoen nie, het die organisasies gesê.

Die regulasies bepaal nou dat die skool in só ʼn geval in samewerking met die departement ʼn plan moet opstel om te verseker alle voorwaardes word nagekom.

Die hoof van die provinsiale onderwysdepartement moet voortaan die geleidelike terugkeer van leerders na skole monitor en daar moet elke twee weke terugvoer aan die departement gegee word oor die getal Covid-19-gevalle by ʼn skool, enige versuim om aan maatreëls te voldoen en of die skool mag heropen.

Veranderinge is ook aangebring wat betref die onderrig van kinders wat nie skool bywoon nie. Die gewysigde regulasies stel dit nou duidelik dat die departementshoof ʼn verantwoordelikheid het om reëlings met die skool te tref om te verseker leerders wat nie klasse kan bywoon nie, word steeds in ag geneem. Dit sluit leerders in wat weens siekte moet tuisbly.

Die vereiste dat alle leerders permitte moet hê, is in die nuwe regulasies herroep. Slegs leerders wat tussen provinsies reis, het voortaan ʼn permit nodig.

“Dit volg op ons kommer dat die bepalings irrasioneel, onbillik en ongrondwetlik is,” het Equal Education en SECTION27 gesê.

Die gewysigde regulasies maak ook voorsiening daarvoor dat die minister saam met haar eweknie by gesondheid die onderwysdepartement se maatreëls gereeld moet hersien sodat dit in ooreenstemming met huidige beste praktyke is.

Die organisasies sê hulle is wel teleurgesteld dat daar steeds geen verpligting op die staat geplaas word om minstens twee materiaalmaskers aan elke leerder te voorsien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.