Covid-19: GPF’s help waar moontlik

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, Faith Mazibuko, het die hulp van duisende gemeenskapspatrolleerders ingeroep. (Foto: Twitter)

Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en ander buurtwaggroepe doen wat hulle kan om die polisie by te staan tydens die staat van algehele inperking wat sedert Donderdag om 23:59 geld.

Die LUR van gemeenskapsveiligheid in Gauteng, Faith Mazibuko, het die afgelope naweek gesê 3 000 gemeenskapspatrolleerders word opgeroep om te help verseker dat sake by moontlike brandpunte vlot verloop.

Die patrolleerders hou onder meer ʼn ogie oor diegene wat wag om hul maatskaplike toelae te ontvang, of help om toue by winkelsentrums of kruidenierswinkels te beheer.

Barend van Heerden, voorsitter van die Springs-GPF, sê hulle werk nou saam met die polisie om te help waar daar ook al ʼn behoefte ontstaan. Hulle is reeds onder meer by Sassa-betaalpunte ontplooi, of snel inwoners te hulp wanneer ʼn noodgeval ontstaan. Dit word gedoen ingevolge die aanwysings wat Mazibuko die naweek uitgereik het.

Van Heerden sê dié GPF met sy sowat 3 000 lede het nagenoeg 800 lede wat gewoonlik gemeenskapspatrollies doen. Dié patrollies is vir die duur van die staat van algehele inperking opgeskort. “Ons probeer in dié stadium blootstelling aan die nuwe koronavirus sover moontlik beperk,” sê Van Heerden.

Hy sê hulle werk nou saam met die stasiebevelvoerder om te verseker alles gebeur ingevolge tersaaklike wetgewing.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê dié burgerregtegroep se lede werk ingevolge die Polisiewet. “Ons het by verskillende polisiestasies hulp aangebied en sal reageer waar die polisie aandui daar ʼn behoefte is,” sê hy.

Dié beginsel geld in stede, maar ook op die platteland waar AfriForum nagenoeg 150 landelike beveiligingsnetwerke het. Cameron sê tydens die staat van algehele afsondering word lede van dié strukture gevra om hul eie plase te patrolleer en gesamentlike patrollies is opgeskort. Daar word ook elke aand ʼn bestekopname gedoen van waar moontlike brandpunte is, of kan ontstaan.

Cameron sê ook AfriForum steun die DA se oproep dat bestaande GPF’s in landelike gebiede opgeroep word om die polisie by te staan.

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, het Sondag gesê misdadigers in landelike gebiede kan dalk die afsonderingstydperk uitbuit. “Die DA steun die voorneme van die polisie-opdrag dat GPF’s en buurtwagte nié tydens die afsonderingstydperk aktief ontplooi word nie. In dig bevolkte stedelike gebiede is dit uiters belangrik om die verspreiding van die koronavirus te beperk,” het Whitfield gesê.

Landelike gebiede lyk egter heel anders en is yl bevolk, wat inwoners in dié tyd selfs meer kwesbaar vir misdaad kan maak. Die polisie fokus boonop op die afdwing van die bepalings wat met die afsondering gepaardgaan.

Whitfield sê dit is belangrik dat die polisie die ontplooiing van bestaande strukture oorweeg om hul oë en ore in landelike gebiede te wees.

“Die gemeenskapspolisiëringstrukture moet binne die bestaande bevelsraamwerk bly en aan alle wetgewing voldoen. Dit moet duidelik gestel word dat slegs die polisie, met die steun van die weermag, bepalings mag afdwing,” het Whitfield gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Ek sal net eers seker maak wat my lewens polis bepaal ,die meeste polisse betaal nie uit waneer jy iets oorkom terwyl jy by patrolies of polisie optredes betrokke is en jy dit nie bekend gemaak het nie,is daar dalk n kenner wat kan help hiermee.

Sarel ·

Het gister ons toelaes gaan trek en inkopies probeer doen maar winkelsentrums was te vol. Sentrum Sekuriteut het hulle hsnde vol gehad maar was nie opgewasse teen die skares nie. Mense het die reels van 1mtr afstandcgeignoreer omrede daar net te veel was. Publiek was onbeskof met Seuriteit terwyl die Sekuriteiitbeamptes te allle tye rustig en profesioneel opgetree het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.