Covid-19: Groot kommer oor talle onderwysers wat sterf

Argieffoto (Foto: Verskaf)

Die onderwysdepartement het sy kommer uitgespreek oor die toenemende getal Covid-19-infeksies en -sterftes die afgelope feestyd wat die nuwe skooljaar kan beïnvloed.

Dit volg nadat ʼn woordvoerder van die departement, Elijah Mhlanga, Maandag gesê het dat die virus die lewens van 32 onderwysers in een week geëis het.

“Ek het verlede week inligting ontvang van 14 onderwysers wat binne een dag omgekom het. Op Sondag is ’n verdere 18 aan die virus dood. Dit bring die getal op 32 te staan. Al 32 sterftes is in een week in dieselfde provinsie aangemeld,” het Mhlanga op Twitter gesê.

“Al die hartseer en rou oor die vakansie is te veel. Baie gesinne moes in hierdie feestyd van hul geliefdes afskeid neem. Covid-19 het verwoestende gevolge.”

Mhlanga sê die departement vrees wat die getalle sal wees as alle provinsies die getal skoolpersoneel en onderwysers wat aan Covid-19 dood is, gaan rapporteer.

“Teen hierdie tempo van sterftes gaan ons ʼn groot probleem hê wanneer skole heropen. Skole gaan moontlik weens Covid-19 nie genoeg onderwysers hê nie.”

Siphiwe Mpungose, hoofsekretaris van die Educators Union of South Africa (Eusa), het gesê dat die vakbond kennis geneem het van tientalle onderwysers wat tussen 15 en 27 Desember aan Covid-19 dood is.

“Daar kan dalk nog sterftes wees waarvan ons nie weet nie,” het Mpungose gesê.

Volgens Mpungose is altesaam 343 onderwysers van hospitale in KwaZulu-Natal weggewys weens die tekort aan beddens.

Mpungose, asook Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, het ook hul kommer uitgespreek oor onderwysers wat eersdaags moet aanmeld om matriekvraestelle te begin merk.

Volgens Mpungose sal onderwysers veral ná die feestyd hulself na merksentrums wend vir ’n bykomende inkomste.

“Ons vrees dat die virus in die merksentrums dan veral onder onderwysers sal versprei. Eusa doen ’n beroep op die regering om ’n entstof aan onderwysers wat by merksentrums gaan merk, te verskaf.”

Mweli sê die departement sal verseker dat die nodige gesondheidsprotokols in merksentrums in plek is om die verspreiding van die virus te help bekamp.

“Ons het die aantal monitors in ons merksentrums verhoog en ek beoog om elke liewe sentrum in die land te besoek en dan verslag aan die betrokke ministers en LUR’e te lewer,” het Mweli gesê.

Die departement sê strenger maatreëls sal toegepas moet word om gesondheidsprotokolle te versterk wanneer skole in die nuwe jaar heropen.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.