Covid-19 het geen invloed op SA’ners se geluk – verslag

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Die toenemende aantal gevalle Covid-19 in die land blyk geen invloed op Suid-Afrikaners se geluk te hê nie. Kommer oor werk en afsonderingsregulasies speel wel ʼn rol in Suid-Afrikaners se gemoedstoestand.

Só toon ʼn voorlopige ondersoek na wat Suid-Afrikaners se geluk gedurende die Covid-19-pandemie beïnvloed. Die navorsing staan bekend as Suid-Afrika se Geluksindeks en word gebaseer op landsburgers se twiets op die sosialemediaplatform Twitter.

Prof. Talita Greyling van die Universiteit van Johannesburg en dr. Stephanie Rossouw van die Auckland Universiteit van Tegnologie het dié ondersoek in samewerking met Afstereo van stapel gestuur.

Die onderliggende emosies van Suid-Afrikaners se twiets word ook in die ondersoek ontleed, word in ʼn verklaring verduidelik.

Luidens die verklaring het die navorsers bevind dat namate die aantal aanlyn werksoektogte toeneem, die geluk van Suid-Afrikaners afneem.

Die navorsers het tot dieselfde gevolgtrekking gekom wat afsonderingsregulasies betref. Die geluksindeks het Woensdag ’n groot afname getoon nadat Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, meer besonderhede verskaf het oor riglyne wat vanaf 1 Mei sal geld. Toe het Suid-Afrikaners se geluksindeks van 6,57 uit 10 gedaal na 5,99 uit tien. Suid-Afrikaners se geluk in Maart, voordat algehele afsondering ingestel is, was gemiddeld 6,2 uit 10.

“Die kumulatiewe aantal Covid-19-gevalle hou verbasend genoeg nie betekenisvol verband met die gelukkigheidsindeks nie, hoewel die verhouding negatief is,” word daar in die verklaring verduidelik.

“Dit is duidelik uit die ontleding van twiets en die emosies wat hierdie twiets ondersteun dat die mense kwaad, gefrustreerd en verward is. Dit blyk uit twiets dat mense besorg is oor die talle teenstrydighede wat deur die beperkings geopenbaar is en wat blykbaar teen logika indruis. Die twiets onthul ook dat ’n verduideliking vir hierdie regulasies nodig is of dat die regering beter redes hiervoor moet verskaf. Dit is in teenstelling met die regulasies wat deur president Ramaphosa aangekondig is, waarin die ‘waarom’ duidelik uitgespel is,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.