Covid-19: Hiér gaan Gautengers hul waarskynlik kan laat inent

(Argieffoto: Ted S. Warren/AP)

Van hospitale, klinieke en apteke tot betaalpunte van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en kerke sal ingespan word om die bevolking van Gauteng teen Covid-19 te laat inent.

Dit luidens ’n voorlegging Vrydag deur die provinsiale departement van gesondheid in die Gautengse wetgewer. Dit word beoog om eersdaags alle openbare en private gesondheidsorgfasiliteite in dié provinsie as inentingspersele te gebruik om soveel moontlik gesondheidswerkers as deel van fase 1 van die regering se inentingsprogram teen Covid-19 in te ent.

Gauteng het tans 402 klinieke en 33 hospitale in die openbare sektor en 165 private hospitale en klinieke beskikbaar wat as inentingspersele gedurende fase 1 kan dien.

Gemeenskapsapteke, waaronder Clicks- en Dis-Chem-apteke sal na verwagting gedurende fase 2 en 3 ingespan word om inentings toe te dien.

Dié inentings sal waarskynlik minder as R40 per dosis beloop.

Fase 2

Luidens die voorlegging word gedurende fase 2 beoog om dié provinsie se noodsaaklike werkers met behulp van ’n uitreikprogram by hul werkplek teen Covid-19 in te ent.

Sassa-betaalpunte, sale en kerke sal in inentingsentrums omskep word waar spesifiek diegene ouer as 60 jaar ingeënt sal kan word.

Diegene bo die ouderdom van 18 met komorbiditeite sal na verwagting by die betrokke hospitaal of kliniek waar hulle tans hul medikasie ontvang, ingeënt word. Die entstof sal ook sommer toegedien word wanneer hulle hul medikasie by die hospitaal of kliniek gaan afhaal.

Wat gevangenes betref, sal die Gautengse wetgewer gedurende fase 2 nou saam met korrektiewe dienste werk om te verseker dat gevangenes en korrektiewe beamptes die entstof ontvang. Die entstof sal waarskynlik by apteke in die provinsie se gevangenissentrums toegedien word.

Fase 3

Almal bo die ouderdom van 18 wat nog nie tydens die eerste fases ingeënt is nie, sal gedurende fase 3 waarskynlik by kettingapteke soos Clicks en Dis-Chem asook ander onafhanklike apteke in die provinsie ingeënt word. Dit sal egter in mense se geografiese woongebiede moet geskied en die proses sal gelei word deur geokaarte.

Daar is tans meer as 1 200 van dié sogenaamde gemeenskapsapteke in Gauteng.

“Om die totale teikenbevolking teen die einde van 2021 te bereik, word ’n gemiddeld van 95 747 entstowwe per dag benodig as ons in ag neem dat twee dosisse per pasiënt nodig is en daar 21 werksdae per maand beskikbaar is, openbare vakansiedae uitgesluit,” lui die voorlegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jaco ·

Is dié inëntings vir almal, of net vir “our people”? Ek vra maar net, want 2 stelle reëls geld mos maar vir amper alles in dié anti-wit SA. Wit mens mag op ‘n stadium nie eens kospakkies gekry het nie. Daars ook allerhande hulpfondse vir sukkelende besighede, maar hulle móét BEE wees. Dan onthou ek ook dat ramaphosa gesê het dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. So ja, ek dink vra maar eers, voordat te hoë verwagtinge geskep word.

Lizzy8 ·

Ons gaan beslis daarvoor betaal, dit kan ek jou se. Of ons gaan kry is n ander storie

Die Wolf ·

Soos dit vir my klink sal dit ongeveer R80.00 beloop vir die twee dosisse. Wie moet betaal en wie gratis gaan kry is n ander storie.

Piet ·

Die koste is nie ‘n probleem vir die helfte van Maroela lesers wat in elk geval nie belangstel om ingeent te word nie. Siende dat jy nie gedwing gaan word om dit te neem nie, behoort jy daarvoor te betaal as jy dit kan bekostig. Natuurlik, as jy bereid is om te wag daarvoor by jou plaaslike kliniek (en waarskynlik in ‘n lang ry te staan) sal dit gratis wees.

Chris dupreez ·

Mag dit deur jou huisdokter ook gedoen word. Ek dink dis veiliger

Piet ·

Natuurlik, jy gaan egter moet betaal vir die konsultasie en die shot. hulle gaan definitief niks verniet doen nie.

Tanniepetoors ·

Alweer “clueless”. Dis net staatsdepartemente wat deesdae 21 of selfs minder werksdae per maand het. Privaat besighede soos Clicks en Dischem lewer diens meestal 7 dae per week, alhoewel miskien nie kliniekdienste 7 dae per week nie.

Dana ·

Slegs mense bo 18? Dit is mos nie regverdig nie. As my 17 jarige dogter nie die inenting kan kry, wil ek dit ook nie hê.

Tanniepetoors ·

Dis jou keuse as jy jou kind moedswillig wees wil laat. Ek gaan my twee wees kleinkinders defnitief nie verder onnodig traumatiseer deur nie te probeer verhoed dat ek onnodig die virus kry nie. Ek kan aan ander siektes of iets anders ook sterf, reggenoeg, maar ek hoef nie daarna te gaan soek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.