Covid-19: Hoe dit die kunste kelder en hoe jy kan help

Die enorme impak op die vermaak- en kunstebedryf is wêreldwyd tasbaar. (Foto: Unsplash)

Sowat 173 000 mense wêreldwyd is reeds met die korona (Covid-19)-virus besmet sedert dit in Desember verlede jaar in Wuhan in China uitgebreek het. Elke sektor van die wêreldekonomie word tans deur dié uitbreking beïnvloed en die vermaakbedryf is nie immuun nie.

Wêreldwyd word die een na die ander kunste- en rolprentfees gekanselleer, bioskope en teaters word toegemaak en konserte word uitgestel of selfs afgestel, in ʼn poging om die verspreiding van dié virus te bekamp.

Die enorme impak op die vermaak- en kunstebedryf is wêreldwyd tasbaar. In New York in die VSA is onder meer die Broadway-teaterkompleks gesluit tot 12 April; in Milaan, Italië, is die verhoë van die Teatro alla Scala-operahuis ook verlate en die gewilde Comédie-Française-staatsteater in Parys, Frankryk, het ook die gordyn tot verdere kennisgewing laat sak.

Ook op eie bodem is die kunstebedryf ʼn stewige knou toegedien deur die uitbreking van Covid-19. Teater- en buitelugkonserte word afgestel of uitgestel, teaters word toegemaak en die aanbied van markte en feeste is in die gedrang.

Volgens Wian Smith-Venter, eienaar en besturende direkteur van The Marketing Zoo, staan hulle bont sedert president Cyril Ramaphosa Sondagaand die Covid-19-uitbreking in Suid-Afrika tot ʼn nasionale ramp verklaar het en drastiese landswye maatreëls geïmplementeer is om die verspreiding van die virus te bestuur.

Een van dié maatreëls stipuleer dat byeenkomste van meer as 100 persone verbied word.

Lizz Meiring as die weduwee Cliquot in ‘Die weduwee se sjampanje’ wat vanjaar op die KKNK-fees sou debuteer. (Foto: Verskaf)

“ʼn Maandag was lanklaas so blou. Alles het oornag verander. Sedert vanoggend hou die fone nie op lui en die e-posse hou nie op inkom nie – mense wil vertonings kanselleer,” sê Smith-Venter.

The Marketing Zoo is ʼn bemarkingsmaatskappy wat spesialiseer in die bemarking van kunstenaars in die vermaaklikheidsbedryf.

“Al stel jy net die geleentheid of vertoning uit, verloor jy steeds die deposito wat jy betaal het om die oorspronklike datum vas te maak. Jy kan ook nie die geld terugkry vir die bemarking wat jy reeds vir die oorspronklike datum gedoen het nie. Maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, jy gaan verloor,” verduidelik hy.

Hy voeg by dat bekende venues soos Weiveld in Pretoria ook hulle deure vir minstens 30 dae gaan sluit. “Dit het ʼn hengse uitwerking op die inkomste van kunstenaars, die venue en al die personeel.”

Volgens Smith-Venter word hulle sosialemediakliënte ook deur dié pandemie en voorsorgmaatreëls geraak. “Ons moet byvoorbeeld inhoud skep vir sekere venues, en word betaal vir die inhoud. As daar nie vertonings is nie, is daar nie inhoud nie. Dit is ʼn bose kringloop.”

Smith-Venter voeg by dat sy kollegas en vriende in die bedryf hoogs gespanne is oor die onsekere wolk wat hang oor hul brood en botter. “Ek kan agterkom mense is teleurgestel, emosioneel en gefrustreerd,” sê hy.

Ismail Mahomed, direkteur van die Mark-teater in Johannesburg, het in ʼn Facebook-inskrywing gesê kunstenaars wonder of hul bestuurders nie vanaf versekeringsmaatskappye kan eis vir kansellasies wat buite hulle beheer is nie.

“Die realiteit is dat versekeringsmaatskappye reeds verklaar het dat hulle nie enige verliese sal dek wat ʼn direkte uitkoms is van die koronavirus nie,” skryf Mohamed.

Die bestuur en direksie van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het Saterdag aangekondig dat dié fees op Oudtshoorn nie soos beplan van 23 tot 29 Maart sal voortgaan nie.

Lizz Meiring, veteraan-aktrise en raadslid van die Teaterbystandsfonds (TBF), is een van die kunstenaars wat die kansellasie van die KKNK aan haar sak voel. Haar teaterproduksie Die Weduwee se Sjampanje sou op dié fees debuteer. Michelle Botha is saam met Meiring in dié produksie te sien.

Elke sektor van die wêreldekonomie word tans deur dié uitbreking beïnvloed en die vermaakbedryf is nie immuun nie. (Foto: Unsplash)

“As uitvoerende kunstenaar maar ook as raadslid van die TBF, is ek baie bekommerd oor die mense in ons bedryf. Nie net oor die KKNK nie, maar oor ander produksies wat ons in teaters sou doen wat meer as 100 sitplekke het wat nou afgestel gaan word. Nou sit talle mense, akteurs en tegnici, sonder werk.”

Meiring sê sy self het 11 optredes en drie gratis liefdadigheidsvertonings wat gekanselleer is. Tog bekommer sy haar ook oor die gemeenskap van Oudtshoorn.

“Ek tree al 25 jaar daar op tydens die KKNK. Ek weet vir ʼn feit dat sommige van daardie mense se jaarlikse inkomste tydens die fees gegenereer word. Die impak op elke feeswerker, skoonmaker en stelbouer is geweldig,” sê Meiring.

Sy voeg by dat sy weet van mense in die televisiebedryf wat nou werkloos is nadat talle stelle en ateljees ook gesluit is. “Die reisverbod het ook ʼn direkte impak op kunstenaars wat met buitelanders saamwerk. Nie net op kunstenaars nie, maar op grimeerkunstenaars, spyseniers en klankmengers.”

Meiring verduidelik dat dit ook nie ʼn haalbare opsie is om vertonings regstreeks te stroom nie. “Dit kos te veel geld. En om my eie werk uit te voer is nog een ding, maar ander mense se tekste en musiek het kopiereg op. Wat sal die koste en implikasies daarvan wees?”

Sy voeg by dat die publiek die uitvoerende kunste die broodnodige hupstoot kan gee deur vir kunstenaars werk te skep.

“Stel jou venue oop: Jou huis, jou stoep, jou sitkamer. Jou gemeenskapsaal of jou kerksaal, vir natuurlik minder as 100 mense gekombineerd. Skenk 70% van die kaartjieverkope en hou 30% vir jou oorhoofse uitgawes. Ons is bereid om te werk vir ons geld, want ons is nie die enigste bedryf wat swaar kry nie.”

Jakkie Louw (Foto: Facebook)

Sy is egter positief dat die kunstebedryf die wa deur die drif sal kan trek. “Ons maak planne en ons sal hierdeur kom. Ons sal ander kunstenaars ook help. Ons is kreatief en kan oor die muur van die noodlot klim.”

Alishia van Deventer, bemarkingsghoeroe in die Afrikaanse vermaakbedryf en hoof van publisiteit en bemarking by Starburst Promotions, doen ʼn beroep op die gemeenskap om die kunste te dra.

“Mense wat reeds kaartjies vir vertonings gekoop het, kan die geld skenk in plaas daarvan om die geld terug te vra,” stel Van Deventer voor.

“Aanhangers kan ook bemoedigende, persoonlike boodskappe aan kunstenaars en mense in die bedryf op sosiale media skryf. Dit klink klein, maar glo my dit laat mense moed skep. Koop ook die kunstenaars se musiek digitaal aan en as daar enige geleenthede is waar kunstenaars besluit om aanlyn vertonings te doen, ondersteun dit.”

Die sanger en musikant Jakkie Louw vertel hy en Anel, sy vrou en agent, ontvang sedert Maandagoggend hordes telefoonoproepe en navrae oor kansellasies van vertonings. Die sanger sou ook op die KKNK te sien gewees het.

“Toe skryf ek sommer ʼn liedjie, ‘Almal is banger om siek te word’, te midde van al die chaos en frustrasie om ʼn ligter oomblik te vind,” vertel hy oor dié liedjie.

Hy vertel dat sy konsert in Dubai later vanjaar ook gekanselleer is. “Mense is met reg baie paniekerig. Maar ek is ʼn gesinsman wat bekommerd is oor my inkomste,” sê dié pa van twee dogters. Louw doen ook gereeld poppekasvertonings en ander kinderteater.

  • SMS ‘TBF’ na 49701 om R30,00 aan die Teaterbystandsfonds te skenk. Vir meer inligting oor skenkingsopsies en bankbesonderhede, besoek die Facebook-blad.
  • Kyk hier na Jakkie Louw se video van “Almal is banger om siek te word”.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zacahara ·

Gou na Jakkie so song geluister. Baie oulik. Sterkte vir almal in die kunste-bedryf, ons moet net deurdruk, alles sal weer regkom.

Lynette ·

Die stelling “sowst 173 000 mense wêreldwyd is reeds met die virus besmet” is SO misleidend. Dit MOES gelees het ‘173 000 gevalle is reeds BEVESTIG” (nie besmet nie..want derduisende IS NOG NIE GETOETS NIE!!!!!). Die syfers dui NET op die mense wat GETOETS is en dan ook positief getoets is. Dis nie NAASTENBY die aantal mense wat wel BESMET is nie.Kry jul feite REG.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.