Covid-19: Hoe gemaak wanneer skole sluit?

Foto ter illustrasie. (Foto:
Anna Samoylova/Unsplash.)

Skole regoor die land sluit môre amptelik hul hekke nadat pres. Cyril Ramaphosa die uitbreking van Covid-19 Sondag tot ʼn nasionale ramp verklaar het.

Die gevolg is dat keuter-, laer- en hoërskole van Woensdag 18 Maart gesluit sal wees om eers weer op 14 April te heropen. Die maatreëls om leerlinge tuis te hou stem ooreen met die noodmaatreël dat byeenkomste met 100 en meer mense aanwesig tans verbied word.

Vir skoliere bring die langer vakansie tien minder skooldae mee. Nie net beteken dit minder dae op die skoolbanke nie, maar ook meer dae wat kinders tuis moet bly sonder om te mag deelneem aan opvoedkundige vakansieprogramme wat gewoonlik in groepe tydens vakansies plaasvind. Ouers word ook nou getaak met toesig oor en opvoeding van hul kinders.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gedurende Dinsdagaand se funksie. (Foto: Elaine Krige/Maroela Media)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag in ʼn verklaring gesê die Junie-vakansie sal met ʼn week uitgestel word, om op te maak vir verlore skooltyd. “Skole word ook aangemoedig om hul ure ná die vakansie te verleng.”

Motshekga het ʼn beroep op ouers gedoen om hul sleutelrol in die onderrig van hul kinders te besef. Sy vra dat ouers sal saamwerk om die belange van hulle kinders ʼn prioriteit te maak. Skole is ook aangemoedig om leerlinge opdragte te gee wat hulle tuis kan voltooi.

Hoe sorg jy as ouer of voog dat jou kind tuis bly én die nodige opvoedkundige stimulering kry wat hy of sy nodig het?

Gaan aanlyn skool

Ouers kan in die gerief van hul huis van opvoedkundige aanlynplatforms en toepassingsprogramme (apps) gebruik maak om kleuters en kinders akademies te stimuleer.

Marnelda de Beer, ʼn grondslagspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), moedig ouers aan om by Wolkskool, ʼn aanlyn leerplatform, en regstreekse aanlynlesse aan te sluit. Die SOS het ook in die lig van Covid-19 ’n vyfpuntplan ontwikkel om onderwysers, ouers en leerders by te staan om “kontinuïteit in onderrig te verseker”. Volgens De Beer wil hulle die gemeenskap, ouers en kinders help en het SOS ʼn verskeidenheid aanlyn materiaal gratis vir die publiek beskikbaar gestel.

Mienke Sebriets, ’n graad 10-leerling van die Wes-Kaap (Foto verskaf)

Die vyfpuntplan sluit onder meer aanlyn onderrig en videolesse volgens die KABV-kurrikulum in. Videolesse bied gesinkroniseerde en nie-gesinkroniseerde onderrig en stel kinders in staat om tuis aan akademiese aktiwiteite deel te neem. Vakke soos wiskunde, fisiese wetenskappe, natuurwetenskappe, sosiale wetenskappe en Afrikaans-huistaal sal spesiale aandag geniet.

Die SOS stel ’n gratis platform hiervoor beskikbaar en kan by www.skole.co.za besoek word.

Verder moedig SOS ook skole en onderwysers aan om bestaande hulpbronne soos videolesse en werkkaarte met ander skole en onderwysers te deel.

Daar is ook ʼn verskeidenheid aanlyn akademiese materiaal wat leerlinge kan aflaai om tydens die verlengde skoolvakansie te gebruik. Akademiese materiaal sowel as opvoedkundige speletjies kan hier by Afrikaans.com, verkry word.

Wat van kleuterskole?

Kleuterskole, nes laer -en hoërskole, is wetlik verplig om te sluit, selfs al word minder as 100 kinders hier onderrig. Skooleienaars wat nie aan dié bepalings voldoen nie, kan strafregtelik aangekla word.

Gauteng se departement vir maatskaplike ontwikkeling was een van die eerste provinsiale departemente wat aangekondig het dat alle vroeë kinderontwikkelingsentrums en spesiale dagsorgsentrums teen Woensdag 18 Maart gesluit moet word. Ander provinsies het gevolg en sommige ouers hou hul kinders reeds van Maandag by die huis.

De Beer meen dat die besluit om vroeë kinderontwikkeling sentrums en dagversorgers te sluit ʼn slim plan is aangesien kinders in só ʼn omgewing maklik by mekaar aansteek. Sy voeg egter by dat dit ook vir ouers ʼn uitdaging kan wees, omdat hulle nie ʼn veilige plek het om hul kinders te laat terwyl hulle by die werk is nie.

ʼn Kleuterskool in Pretoria het onderneem om weekliks aan ouers inligting, temas en idees te stuur oor wat hulle kan doen om kinders besig te hou en te stimuleer. Onderwysers sal ook video’s stuur en met kleuters gesels om in kontak te bly.

Skooltasse buite ‘n klaskamer, (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Ouers met wie Maroela Media gesels het sê hulle gaan hul kinders by familielede hou of van die huis af werk.

ʼn Ma van Kaapstad wie se vierjarige dogtertjie in ʼn internasionale kleuterskool in Groenpunt is, sê die skool sluit môre (Woensdag) en sy is nog nie seker wie na haar dogter gaan kyk nie. Volgens haar wil sy nie die risiko neem om haar bejaarde ouers te vra om toesig oor haar dogter te hou nie, en boonop beplan sy en haar man om hul huishulp op betaalde verlof te plaas om verspreiding van die virus te keer.

Nog ʼn ouer van twee kinders in Kaapstad sê sy moes intussen haar werk versoek om van die huis af te werk, omdat haar oppasser nie van openbare vervoer gebruik wil maak nie. In sommige gevalle is maatskappye tegemoetkomend en laat ouers toe om verlof te neem. ʼn Ander ouer het gesê sy en haar man gaan beurte neem om van die huis af te werk of verlof te neem.

Lees ook dié berig vir lekker doendinge tydens die langer skoolvakansie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Oubobbejaan ·

Die grootse probleum nou, van my vriende en werks mense waar vrou en man werk. Wie gaan nou na hul kinders kyk. Meeste ouers het niemand om na kinders by huis te kyk nie.

Lizzy8 ·

Ek los my twee kinders alleen by die huis, nou is ek ‘n slegte ouer by die werk? Ek het nie verlof nie, en absoluut niemand om na hulle te kyk nie, en ek is ‘n enkel ouer? Nou vra ek jou wat moet ek maak?

Fae Fubar ·

Nee, Lizzy. Dit maak nie van jou ‘n slegte ouer nie. Ons vyfjarige kleindogter moet noodgedwonge bedags by oupa bly van Donderdag af. Haar ouers en ouma werk voltyds en die sluiting van skole het ‘n reuse penarie veroorsaak. Vir almal. Oupa is angsbevange, want sy is ‘n wilde, vreeslose dogtertjie. Hy gaan vir die volgende maand nie vir ‘n oomblik sy waaksaamheid kan verslap met die kleinding in die omgewing nie. Daarom verstaan ek jou angs. Jy het geen ander keuse as om op God te vertrou om jou kosbare kinders veilig te hou nie. Ek bid saam dat elke kind wat deur hierdie omstandighede alleen tuis moet bly, onder God se Persoonlike beskerming sal wees. Sterkte vir jou.

Niné ·

Oorsese ouers bly by die huis met hulle kinders. Meeste wergewers verstaan hulle situasie. Baie besighede het gesluit en werknemers is op betaalde verlof. Regerings het rentekoerse verlaag en huurders is n maand grasie gegee. Ek dink om gesomd te bly is die eerste prioriteit. Daarna kan n mens weer planne maak. Maar as jy nie nou voorsorg tref nie en jy word siek, wie gaan dan na jou kinders kyk? Jou baas?

Yolandie ·

Dis regtig ‘n moeilike situasie waarin menige ouers hulle bevind in dat hulle hulle lang verlof Desember geneem het. Nie alle werke laat ‘n ouer toe om van die huis af te werk nie. Met inagneming dat dit ‘n gesondheids krises is moet daar by ‘n werkgewer ‘n “back up” wees. En ek hoop van harte dat as hulle ouers gaan tegemoet kom dat dit nie hulle negatielik benadeel nie.

Moedeloos ·

My kinders in selfde posisie. Pa en ma werk. Hul albei het Des/Jan hul jaarlikse verlof gehad omdat besighede daardie tyd gesluit het. Ons as ouma en oupa werk ook. My man kan sy werk so aanpas om wel na hulle te kan kyk maar ons bly hele ent vanaf hulle. So die kinders moet fisies by ons kom intrek vir die volgende paar weke en hul is maar 3 en 7 jaar oud.

Carina ·

Elke skool vakansie is ‘n ouer se nagmerrie. Die huidige een veral aangesien kinders nie my maats kan gaan kuier nie, kan nie gaan fliek nie, Malls is uit, ens. Ek kan nooit meer vakansie neem nie want ek werk saam met my man en doen die finansies. As ek nie daar is nie, word niks betaal nie. Dan staan die besigheid stil. En as hier nou ‘n Corona geval moet wees en ons almal word onder kwarentyn geplaas vir ‘n paar weke, staan die hele besigheid stil en dan kan ons maar permanent ons deure sluit. Ons kan nie bekostig om mense op betaalde verlof te stuur vir ‘n maand nie. Dit het ‘n geweldige negatiewe invloed op besighede en die ekonomie. Ons kan al klaar sien dat besigheid afneem as gevolg daarvan. Ek het darem nog ‘n familielid wat na my kind kan omsien, maar meeste van die tyd moet die kind maar alleen by die huis bly, of saam kom werk toe.

Johan Venter ·

En as jy ‘n boer is, dan sit jy ‘n kennisgewing by die plaas se hek: “Virus at work.”

Anoniem ·

Johan, hierdie is eintlik ‘n baie ernstige saak maar ek kon nie help om te glimlag op hierdie kommentaar van jou.

Anel ·

Dis alles goed en wel om te sê gaan aan lyn. Maar word daar besef dat nie almal daardie voorreg het nie? Kom tog by voor sulke goed gesê word of voor geste word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.