Covid-19: Hoe virus in KZN-hospitaal versprei het

Netcare se St Augustine-hospitaal in Glenwood, Durban. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

’n Verslag is Woensdag deur die departement van gesondheid bekend gemaak ná die ondersoek na die uitbreking en vinnige verspreiding van Covid-19 in Netcare se St. Augustine-hospitaal in Durban. Dit volg nadat dié hospitaal sedert begin Maart tot einde April 119 bevestigde positiewe gevalle van Covid-19 aangemeld het.

Die ondersoek is deur dr. Richard Lessells, prof. Yunus Moosa en prof. Tulio de Oliveira, spesialiste in die veld van aansteeklike siektes, epidemiologie en virale genomika, gelei om vas te stel presies hoe die virus in die hospitaal versprei het. Ondersoekmetodes het oorsigte van mediese rekords, saalbesoeke en onderhoude met gesondheidsorgwerkers en bestuurspersoneel ingesluit.

Lessells sê deur middel van ʼn gedetailleerde ontleding van die tydlyne kon vasgestel word wanneer pasiënte in bepaalde sale was, wanneer hulle simptome begin toon het en wanneer hulle positief getoets het vir die virus. “Ons kon ʼn hipotese vorm van die waarskynlike ketting van gebeure en verstaan ​​hoe die virus in die hospitaal versprei het,” sê Lessells.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die Universiteit van KwaZulu-Natal is die logiese verduideliking agter die uitbreking van die virus in die hospitaal dat daar ʼn enkele blootstelling aan die virus in die hospitaal was. Daar word vermoed dat die virus moontlik deur ʼn pasiënt met Covid-19, wat in die noodgevalle-afdeling behandel is, na ʼn pasiënt wat terselfdertyd in noodgevalle opgeneem is vir ’n beroerte, oorgedra is.

Die virus het toe na dié enkele blootstelling soos ’n veldbrand deur die hospitaal onder pasiënte en personeellede in minstens vyf verskillende sale versprei.

Volgens Lessells is die eerste blootstelling aan die virus aanvanklik nie as Covid-19 gediagnoseer nie, omdat die dokters nie vermoed het dat dié pasiënt die virus onder lede gehad het nie. Sy het nie een van die tipiese risikofaktore gehad nie en het een episode van koors, sonder hoes of ander asemhalingsimptome, getoon.

“Teen die tyd wat sy met die virus gediagnoseer is, was verskeie ander pasiënte en gesondheidsorgwerkers reeds besmet,” sê Lessells.

Die ondersoek het ook aan die lig gebring dat die uitbreking in die St. Augustine-hospitaal gelei het tot die verspreiding van die virus na ʼn plaaslike ouetehuis, waar vier inwoners besmet is, asook na ʼn dialise-eenheid vir buitepasiënte, waar nege pasiënte en agt personeellede besmet is.

De Oliveira sê in die algemeen skat hulle dat die virusuitbreking in dié hospitaal en die verspreiding daarvan na ander instellings ongeveer 14% van die positiewe Covid-19-gevalle in KwaZulu-Natal tot einde April uitgemaak het.

Altesaam 39 pasiënte en 80 personeellede het positief vir die virus getoets. Van dié geïnfekteerdes het 15 mense gesterf, wat dui op ʼn sterftesyfer van 38,5%. Hoewel nie een van die personeellede dood is nie, moes 14 in die hospitaal opgeneem word. Die meeste personeellede wat besmet was, was verpleegsters en verpleegstudente wat direk met pasiënte in kontak was.

Ten spyte van die hoë sterftesyfer in die provinsie is byna al die sterftes geassosieer met erkende risikofaktore soos ouderdom asook chroniese gesondheidstoestande onder meer diabetes, hipertensie, hartsiekte en niersiekte.

Moosa het ʼn paar kernaanbevelings gemaak om die risiko van soortgelyke uitbrekings in hospitale te verminder. Dit sluit in om op die uitkyk te wees vir enige akute asemhalingsiektes onder pasiënte, om die nie-noodsaaklike beweging van pasiënte en personeellede tussen sale en afdelings te beperk, om die belangrikheid van handhigiëne voortdurend te beklemtoon en handhigiëne-praktyke te monitor en om liggaamsafstand binne en buite die hospitale te bevorder.

Moosa stel ook voor dat opleiding oor Covid-19, veral oor die voorkoming en beheer van infeksies, verpligtend vir alle personeel moet wees. Personeel wat direk met moontlike Covid-19-pasiënte werk, moet ook weekliks vir die virus getoets word.

Moosa stel ook voor hospitale moet afsonderlike sones (en aparte toegangspunte) vestig vir mense wat Covid-19 onder lede het (rooi sone), mense wat moontlik die virus het (geel sone) en mense wat waarskynlik nie die virus onder lede het nie (groen).

Netcare het die verslag verwelkom en Craig Murphy, Netcare se streeksdirekteur, sê al die aanbevelings wat in die verslag deur Moosa gemaak is, is reeds ten volle by die hospitaal toegepas.

“Twee van die grootste uitdagings wat met Covid-19 gepaard gaan, is dat diegene wat besmet is, nie altyd simptome toon nie en dat die virus hoogs aansteeklik is, ondanks die afwesigheid van simptome. Ondanks die teenwoordigheid van uitgebreide en effektiewe maatreëls om infeksies te voorkom, soos dié wat in Netcare-fasiliteite bestaan, hou enige werkplek of byeenkoms mense ʼn moontlike risiko vir infeksie in,” sê Murphy.

Lessels sê hy hoop dat lesse uit dié uitbreking geleer kan word. “Die Covid-19-pandemie is ʼn ongekende uitdaging vir die gesondheidstelsel en die gemeenskap in Suid-Afrika. Ons hoop dat lesse uit hierdie uitbreking gebruik kan word om gebiede uit te lig wat reg deur die private en openbare gesondheidstelsel versterk kan word, om te voorkom dat die virus verder versprei.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet parys ·

Wel wat is nuus . Die hospitale was nie op standaard om n virus te hanteer nie . Opleiding opleiding en weer opleiding . Hoe word faar bepaal dat hulle dit by pasiente aangesteek het of is dit maar net dievmaklikste uitweg. En dan is dit hulle wat na Pasiente moet omsien . Wil nie eers weet wat se behandeling die pasiente kry nie want niemand mag daar ingaan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.