Covid-19: Hofbevel teen kerk gekry  

hof-hamer

Argieffoto

Die Gautengse departement van gesondheid het ʼn hofbevel teen ʼn kerk in Katlehong bekom rakende die nuwe regulasies oor Covid-19.

Kwara Kekana, woordvoerder van die departement, het gesê ingevolge die hofbevel word die kerk met onmiddellike ingang verbied om ʼn kerkdiens te hou wat nie in ooreenstemming is nie met die regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur nie.

Besorgdheid rondom ʼn byeenkoms van die kerk is deur lede van die gemeenskap onder die departement se aandag gebring.

“Nie-nakoming van die regulasies wat in die Staatskoerant verskyn het, kan tot ʼn boete of inhegtenisneming lei,” het Kekana benadruk. “Massabyeenkomste stel mense aan groot risiko bloot.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand onder meer ʼn verbod op byeenkomste van meer as 100 mense aangekondig om die verdere verspreiding van Covid-19 te voorkom.

Die departement het ook vroeër die week ʼn hofbevel bekom om ʼn gesin wat geweier het om in kwarantyn geplaas te word, te dwing om aan die versoek gehoor te gee.

ʼn Vrou en haar dogter het albei positief getoets vir die Covid-19-virus. Die man het geweier om getoets te word en het die hospitaal verlaat sonder dat enige monsters geneem is.

Die saak is direk by die polisie aangemeld om die gesin op te spoor. Die gesin is Dinsdagmiddag opgespoor en na ʼn gesondheidsfasiliteit geneem.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.</em

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.