Covid-19: Hofsaak dreig ter wille van dokter se veiligheid

Argieffoto: Pixabay

Die eerste arbeidsverwante hofsaak oor Covid-19 kan so vroeg as volgende week in die arbeidshof voorkom.

Solidariteit beplan om ʼn dringende aansoek namens dr. Megan Sarah Martin te bring. Dit volg nadat Martin ’n pasiënt by die Levai Mbata-gemeenskapsgesondheidsentrum behandel het wat simptome van die virus getoon het. Martin se versoek om verlof is geweier en sy is gedwing om aan te gaan om pasiënte te ondersoek.

In ʼn aanmaning wat aan die gemeenskapsgesondheidsentrum gestuur is, het Solidariteit die sentrum gemaan om vanoggend voor 10:00 ʼn onderneming te gee dat Martin op verlof geplaas sal word, hangende die uitslag van die toetse wat op die betrokke pasiënt gedoen is.

Die sentrum het nie by die spertyd gehou om so ʼn onderneming te gee nie, en Solidariteit vergader nou met sy regspan om finaal oor dringende regsoptrede te besluit.

“Gesondheidspraktisyns gaan ʼn deurslaggewende rol in die stryd teen Covid-19 speel. Ons moet hulle beskerm sodat hulle ons kan beskerm. Ons tree in die saak ten behoewe van gesondheidspersoneel op, maar ook ten behoewe van Suid-Afrikaners in die algemeen,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Solidariteit verwag ʼn stortvloed regsake voortspruitend uit Covid-19 weens die regsonsekerheid wat heers.”

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, sê dit is enige instelling se wetlike plig om die veiligheid van sy werknemers te verseker, asook om by die protokol te hou wat ten opsigte van die Covid-19-virus vereis word.

Die Levai Mbatha-gemeenskapsgesondheidsentrum het ook in gebreke gebly om die nodige toerusting vir persoonlike beskerming (“PPE”) aan gesondheidspersoneel beskikbaar te stel, wat dus die risiko op besmetting veelvuldig laat toeneem.

“Dr. Martin voel verantwoordelik vir haar pasiënte se veiligheid en welstand, maar voel nou dat sy hulle in gevaar moet stel omdat haar werkgewer dit van haar vereis.

“Aangesien daar nie aan Solidariteit se eis gehoor gegee is nie, gaan ons moontlik ʼn dringende aansoek bring om haar veiligheid en dié van haar pasiënte te verseker,” het Van der Bijl gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Cyril Ramaphosa het dan so mooi belowe ons sal almal saamwerk om die virus te beveg, alle politieke partye asook die staat en die private sektor.

Naas

Die kader in bevel van die Levai Mbatha-gemeenskapsgesondheidsentrum stem nie saam nie.