Covid-19 in Gauteng: Beamptes uitgewys oor korrupsie, leefstyloudits begin

Premier David Makhura. Foto: @GautengProvince/Twitter

Twee amptenare van die Gautengse departement van gesondheid is geïdentifiseer vir hul beweerde betrokkenheid by Covid-19-korrupsie.

David Makhura, premier van Gauteng, het Vrydag tydens die provinsie se weeklikse Covid-19-terugvoersessie gesê die verdoemende aantygings van korrupsie rakende die aankoop van persoonlike beskermende toerusting het die publiek alle vertroue laat verloor in die werk van die provinsie in die stryd teen Covid-19.

Volgens Makhura maak die spesiale ondersoekeenheid (SOE) egter goeie vordering in sy ondersoeke rakende Covid-19-verkryging. “Op grond van die bewyse dusver sal die SOE sake na ander staatsinstellings verwys sodat stappe gedoen kan word. ʼn Strafsaak is in dié verband geopen.”

Een van die twee beamptes wat geïdentifiseer is vir hul beweerde betrokkenheid by Covid-19-korrupsie is Vrydag geskors terwyl die ander beampte wat reeds bedank het ook strafregtelik vervolg sal word.

Makhura het intussen ook aangekondig dat hy en die tien LUR’e in die provinsiale regering aan leefstyloudits onderwerp sal word, ʼn onderneming wat hy al langer as twee jaar terug gegee het. Die staatsveiligheidsagentskap sal volgende week met die proses begin en dit na verwagting binne ses tot agt weke afhandel.

Die premier het tydens die terugvoersessie gesê die provinsiale regering is bemoedig deur die afname in die aantal nuwe positiewe Covid-19-gevalle per week en die groot toename in mense wat van die virus herstel het.

“Die aantal pasiënte in hospitale neem af en verminder die druk op die gesondheidstelsel. Ons het verwag dat Julie en Augustus die moeilikste maande gaan wees waartydens die gesondheidstelsel getoets sou word.”

Altesaam 189 159 Covid-19-gevalle is reeds in Gauteng aangemeld met 2 524 sterftes en 135 485 mense wat reeds van die virus herstel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Sarel ·

Net Twee??? Seker ook weer klein mannetjies wat in opdrag opgetree het.

Frederik C ·

2 524 Sterftes, maar hulle het 1 000 000 grafte laat grawe. Laat my dink meer leefstyloudits is nodig as net die van die PPE skelms.

JohanR ·

Die twee het seker die waskamers skoon gehou, en die skottelgoed gewas. ‘n Leefstyloudit vir ‘n ANC….daai moet ‘n riller wees! Wonder hoe ‘n leefstyloudit sal lyk vir President Nkosazana Dlamini-Zuma? Hulle sal daai oudit soe baie maal moet was, dat hy geen keuse sal he om die anderkant skoon uit te kom nie!

pokkel ·

korrupsie is teen die tyd al so normaal in ons regering dat daar netsowel ‘n Departement van Korrupsie gestig kan word om te verseker dat korruspie vlakke volhou en gegroei word en om omkoop fooie te reguleer en so

piper ·

ek wens die regering wil net so erenstig optree teen die 25 000 moorde en 55 000 verkragtings elke jaar as wat hulle optree teen huidige 8500 sterftes van corona 19. die wes-kaap moet net se bokker julle en hulle eie ding doen.

Kokerboom ·

En dink u waaragtig dat ons u moet glo mnr Makhura? So een skelm moet ‘n ander skelm ondersoek!Ons mag skape wees maar ons is ou skape!

Persheks Adri ·

Wat van die ANC en kopdoek en haar kinders en die res van die ministers huh?

Johan ·

Wie gaan die leefstyloudits doen Jacob Zuma en die Guptas vermoed ek.

JM ·

En die onbevoegdheid en geploeter het reeds begin. Wat anders het ons gedink?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.