Covid-19 in Gauteng: ‘Storm is hier’; drastiese maatreëls oorweeg  

Premier David Makhura. (Foto: @GautengProvince/Twitter)

Daar gaan moontlik daarna gekyk word om weer meer drastiese maatreëls, soos in geval van die vlak 4- en vlak 5- regulasies van die afsonderingstydperk, in Gauteng in te stel.

“Die storm is hier,” het David Makhura, premier van Gauteng, Donderdag tydens ʼn mediakonferensie gesê. “In Junie het ons ʼn skerp styging in die aantal bevestigde gevalle op ʼn daaglikse basis gesien. Gauteng het nou die meeste aktiewe gevalle.”

Volgens Makhura is die provinsiale Covid-19-bevelsraad besig om met verskeie sektore te konsulteer oor die nodigheid om weer van die drastiese maatreëls in te stel in ʼn poging om die pandemie te beveg.

“Ons sal ook voorleggings doen aan die nasionale Covid-19-bevelsraad oor die noodsaaklikheid om streng maatreëls weer in te stel, insluitend moontlike afwisselende en gelokaliseerde afsonderingstydperke en die verlangsaming van die heropening van sektore en skole. Ons moet doen wat ook al nodig is om die verspreiding van die pandemie in bedwang te bring.”

Persone met Covid-19 wat in hospitale opgeneem word, het volgens Makhura ook die afgelope 14 dae eksponensieel toegeneem. “Die sterftesyfer is steeds laag, maar dit neem toe. Die pandemie loop vinniger as die geprojekteerde piek van September.”

Gauteng het tans 32 743 aktiewe Covid-19-gevalle. Op 24 Junie was daar 19 382 aktiewe gevalle. Daar is Woensdag die grootste toename in gevalle per dag nóg aangeteken met 3 063 nuwe gevalle. Oor ʼn tydperk van sewe dae, van 25 Junie tot 1 Julie, is 19 818 gevalle aangemeld.

In totaal is 4 455 mense al in Gauteng in openbare en private hospitale opgeneem weens Covid-19. Hiervan is 1 133 pasiënte reeds ontslaan en 244 dood. Tans word daar 3 091 Covid-19-pasiënte in Gautengse hospitale behandel. ʼn Totaal van 151 pasiënte is op ventilators en 493 pasiënte ontvang suurstof.

Van die 244 mense wat in Gauteng aan Covid-19 dood is, het 142 diabetes of hipertensie of albei gehad.

Daar word tans gewerk om meer hospitaalbeddens en gesondheidspersoneel in die openbare sektor beskikbaar te maak, insluitend veldhospitaalbeddens by Nasrec en die Tshwane Events Centre. Daar word beoog om teen einde Julie 4 500 ekstra beddens gereed te hê ter voorbereiding op die piek.

Daar is ook bekend gemaak dat 1 614 van Gauteng se 172 113 staatsamptenare sedert Maart al positief vir Covid-19 getoets het. Dit sluit gesondheidsorgwerkers en onderwysers in. Talle skole, insluitend 165 openbare skole en 39 skole vir kinders met spesiale behoeftes, is steeds gesluit. Minstens 24 onafhanklike skole is ook gesluit. In totaal word 176 skole in Gauteng deur Covid-19 geraak met 108 leerlinge en 311 onderwysers wat positief getoets het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hano

Dalk is ek nie Baie slim nie, maar as dit waar is gaan Gauteng alleen meer gevalle as die hele Italie he nieteenstaande lockdown.

Renee

En die staat doen niks aan die taxis wat 110% oorvol is nie. Wat vir die een goed is ook goed vir die ander. Nou skrik julle wakker Nee die regering is te bang om taxis vas te vat hoe wil hulle die epidemie bestry.

Die Wolf

Monde was groot oor die Weskaap. En Nou? Ons almal het dit voorspel. Probeer nou om one step ahead of the sherrif te wees.Lekker gedut.

Anel

Soos ek sê, dit lot weet nie wat om hulle aangaan nie. Hulle is meer bekommerd oor 2000+ wat moontlik aan die virus dood is. Wat het geword van gewone verkoue en griep? Kry mens dit nie meer hierdie jaar nie? Het mense nie verlede jaar siek geword nie? So vir die paar wat dood is moet 60milj ander in armoede en hongersnood en wat nie nog alles nie, verval! Almal het gek geword. Dink bietjie meer rasioneel. Daar is niks meer geld in die land nie, maar alles moet nog steeds toe. Keelvol verby.

Willem

Hulle wil almal onder lockdown sit omdat hulle mense nie reëls wil nakom nie