Covid-19 in nog ʼn Afrikaland bevestig

Foto: (AP Photo/Lee Jin-man)

Senegal is die vierde Afrikaland om ʼn geval van die koronavirus, oftewel Covid-19, aan te meld.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Armenië, Tsjeggië, die Dominikaanse Republiek, Luxemburg, Ysland en Indonesië ook in die afgelope 24 uur gevalle aangemeld. Daar is nou reeds amper 89 000 gevalle wêreldwyd en meer as 3 000 sterftes.

Lande buite China wat tans die ergste geraak word deur Covid-19 is Suid-Korea, Iran en Italië. In Suid-Korea is daar reeds meer as 4 800 gevalle en 28 sterftes aangemeld.

Senegal het Maandag sy eerste geval van die virus aangemeld. Die pasiënt is ʼn Franse burger wat in Senegal woon en op 26 Februarie na Dakar teruggekeer het ná ʼn besoek aan Frankryk. Hy sterk tans in ʼn hospitaal in Dakar aan.

Algerië het intussen nog twee gevalle aangemeld. Egipte en Nigerië is die ander twee Afrikalande wat reeds gevalle aangemeld het.

“Met Afrikalande wat gevalle bevestig, is die virus nie meer net ʼn bedreiging vir die vasteland nie maar ʼn werklikheid,” het dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streekdirekteur in Afrika, gesê. “Ons werk nou saam met lande in die streek om te verseker dat maatreëls ingestel word om te keer dat die virus verder versprei.”

Intussen is daar steeds geen bevestigde gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika aangeteken nie. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is daar tot 2 Maart altesaam 160 mense vir die virus getoets, maar al die uitslae was negatief.

Foto: (Choi Soo-ho/Yonhap via AP)

“Ons het egter met kommer kennis geneem van die ontstellende stigmatisering van mense uit die geraakte gebiede, wat nou lande in Asië, Europa en die Midde-Ooste insluit.

“Stigma het die potensiaal om mense te oortuig om hul siekte weg te steek om diskriminasie te ontduik en hulle dan te verhoed om gesondheidsorg te kry. Dit kan lei tot probleme om die verspreiding van Covid-19 te identifiseer en te beheer as dit hierheen versprei,” het Sinenhlanhla Jimoh, woordvoerder van Nios, gesê.

“Gegewe dat Covid-19 ʼn nuwe siekte is, is dit te verstane dat die moontlikheid dat dit na Suid-Afrika kan kom, verwarring en angs by die publiek kan veroorsaak.”

Jimoh het gesê enigiemand met simptome wat met asemhalingsiektes verband hou, waaronder hoes, koors en asemhalingsprobleme, en wat onlangs gereis het na lande waar die virus reeds aangemeld is, moet vroegtydig mediese hulp soek en inligting oor hul reisgeskiedenis met gesondheidsorgverskaffers deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Leon ·

Mensa wat deur OR Tambo en Kaapstad se lughawe kom word gemonitor. Die hawens van Richardsbaai, Durban, Oos Londen, Port Elizabeth en Kaapstad is oop. Die mense wat inkom word nie getoets nie. Daar is ‘n reuse gat waardeur die virus kan inkom. Die mense sal dan seker binneland toe kom en ek dink ons eerste gevalle sal Gauteng wees waneer dit te laat is.

Lola88 ·

Wat het nou geword van die persoon in Zimbabwe in gister se artikel? Is daar nog geen uitslag?

E ·

Ek weet ‘n skool het ‘n toer Thailand toe gekanselleer, oor die Corono virus. Maar ons ekonomie gaan dit nie vryspring nie. Baie goed word van China ingevoer – veral konstruksie material.

Kiewiet ·

E, Help my asb. Is die virus nie beperk tot mens tot mens oordraagbaar nie? ‘n Baksteen of n stuk yster kan sekerlik nie die virus verspry nie. Of kan dit?

netMYopinie ·

So ver my kennis strek, is daar nog nie onbemande bote en vliegtuie om goedere te vervoer nie. Iemand moet dit inlaai, hierheen bring en by doeane weer uitlaai.

HOOP ·

Kan nog steeds nie glo dat daar geen virus in SA is nie , dink as ons wakker skrik is dit te laat vir ons .

Train ·

In die lesers se opinie… Dink julle mens moet maar begin hand sanitizer en maskers begin koop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.