Covid-19 in SA: ‘Berei voor vir die ergste,’ sê DA

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Kamran Jebreili, AP)

Die DA glo hoewel onnodige paniek nie gesaai moet word nie, Suid-Afrikaners wél vir die ergste behoort voor te berei noudat die gevreesde nuwe koronavirus, bekend as Covid-19, op tuisbodem aangemeld is.

’n Man (38) van KwaZulu-Natal het Woensdag positief vir Covid-19 getoets nadat hy en sy vrou Sondag vanuit Italië teruggekeer het.

Siviwe Gwarube, die DA se skaduminister van gesondheid, het vanmiddag gedurende ’n debat oor die Covid-19 in die parlement gesê die gebreke in die land se gesondheidstelsel moet nou so spoedig moontlik aandag kry. “Dit is tyd vir beslissende en verenigde leierskap. As ons dit verkeerd hanteer, sál daar ’n verlies van lewens wees wat voorkom kon gewees het.”

Gwarube het gedurende sy toespreek gesê Zweli Mkhize, minister van gesondheid, moet parlementslede inlig oor die nodige maatreëls wat getref word in verband met die toets, isolasie en behandeling van gevalle, veral by lughawens, hawens en grensposte.

Die VF Plus het in ’n verklaring sy kommer oor veral grensposte uitgespreek.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder vir gesondheid, meen daar is nie voldoende beheer oor die daaglikse toestroming van mense oor Suid-Afrika se grense nie en die land sal vinnig die voorbeeld van ander lande moet begin volg om sy grense toe te maak en te beskerm.

Argieffoto ter illustrasie

Volgens Van Staden kan mense ongesiens vanaf Botswana, Zimbabwe, Lesotho en Swaziland die grens na Suid-Afrika oorsteek.

“Grensbeheer moet opgeskerp word. Strenger grensbeheer is nie ʼn manier om teen iemand te diskrimineer nie, maar om die veiligheid van Suid-Afrika se burgers te beskerm. Die lewensbedreigende gevaar van die virus is wesenlik en groot, en alle Suid-Afrikaners moet hande vat om die gevaar te stuit. Dit is nie goed genoeg om net die land se lughawens en hawens te beskerm nie,” sê Van Staden.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaner wat positief vir die virus getoets het, het Sondag saam met ’n groep van tien mense in Suid-Afrika geland. Hy het Dinsdag dokter toe gegaan met simptome van koors, hoofpyn, ’n seer keel en ’n hoes.

Hy én die dokter word tans tuis in kwarantyn gehou.

Minstens 3 283 mense is reeds weens die virus dood en meer as 95 000 bevestigde gevalle aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ivana ·

Hoekom word sy vrou en kinders nie ook in kwarantyn gehou nie en is mense wat van die lande af kom waar die virus is nie outomaties veronderstel om 3weke in kwarantyn te wees nie.

netekalleen ·

Gaan die ander wat saam hom gekom het.opgesoek word en getoets.word?????

Herpiet ·

En met wie het daai ander 9 wat saam geland het weer met ander mense in aanraking gekom?Lewer kommentaar…

E ·

Wel ek dink daar is ‘n klompe bekommerde mense wat saam met daai ou op die vlug was…

Moedeloos ·

Ja in vorige berig word genoem dat die passasiers opgespoor word vir toetse

Pieter J ·

Sien is glo. Ek moet eers sien of die regering bevoeg is om dit reg te hanteer.

Dries ·

Wanneer dit ‘n totale pandemie raak, moet die mense van die land net asseblief onthou, Malema het gese daar moet geen grense wees nie, grense is ‘n koloniale euwel. Onthou dit, mense!

Djanes ·

Dis nie n arm man siekte nie. Dit word ironies juis deur baie van die ryker mense wat oorsee vakansie kan hou en besigheid oorsee doen en oral rondvlieg in d land ingebring en nie die ouens wat per voet oor d grens probeer inkom nie.
Dit gaan wel daardie mense wat nie goeie mediese sorg kan bekostig sou hulle dit oodoen nie die hardtse slaan.

Moedeloos ·

Jammer maar nie almal wat ryk is kry dit nie. Gaan kyk na MADE IN CHINA produkte. Hierdie produkte is hanteer deur werkers wat dalk hierdie virus onderlede gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.