Covid-19: ‘Inentings werk, maar verpligting nie’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Entstowwe is steeds doeltreffend ten einde infeksie, ernstige siekte, hospitaalbehandeling en sterfte weens die Delta-variant van die koronavirus te voorkom.

“Hoewel die entstowwe se doeltreffendheid teen simptomatiese Covid-19 effe taan in die aangesig van die Delta-variant, bied dit steeds vir die meeste mense uitstekende beskerming teen hospitaalbehandeling of sterfte. Dit blyk duidelik uit die data van lande met hoë inentingskoerse wat deur ʼn Delta-golf getref is,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Die SNI het ʼn opvolgverslag opgestel om te kyk na die invloed van die Delta-variant, asook na lande met suksesvolle entstofprogramme. In die vorige entstof-verslag is die doeltreffendheid van entstowwe asook die veiligheid daarvan breedvoerig uiteengesit.

Werk Covid-19-entstowwe teen die Delta-variant?

connie-mulder-en-flip-buys-tweede-groot-trek

Connie Mulder, hoof van die SNI. (Foto: Reint Dykema)

Die Delta-variant, oftewel die B.1.617.2-variant, is eerste in Desember 2020 in Indië opgemerk. Binne maande het die Delta-variant eers deur Indië en daarna na die res van die wêreld versprei, dermate dat die Delta-variant tans vir 99% van Covid-19-gevalle in die VSA, Brittanje en Suid-Afrika verantwoordelik is.

Die Delta-variant, wat dubbel so aansteeklik as die oorspronklike Covid-19-virus is en ook dodeliker blyk te wees met ʼn hoër hospitaalopnamekoers as ander Covid-19-variante, het opnuut die vraag laat ontstaan rakende bestaande entstowwe se doeltreffendheid teen infeksie, hospitaalbehandeling en sterfte weens dié variant.

Israel word dikwels as ʼn voorbeeld gebruik omdat dié land uitsonderlik vinnig meer as 60% van sy algehele bevolking ingeënt het waarna ʼn plato bereik is. Die Delta-variant het Israel se Covid-19-gevalle skerp laat toeneem, maar dit is duidelik dat gevalle van hospitaalopname en sterftes laer is.

Ook in die Verenigde Koninkryk en die VSA is daar ʼn toename in gevalle beleef weens die Delta-variant, maar voorlopige studies wys daarop dat daar nie ʼn wesenlike toename in hospitaalopname of sterftes weens dié variant was nie.

Die toename in nuwe gevalle is grotendeels gedryf deur die oningeënte jeugbevolking, met amper die helfte van gevalle wat aangemeld is onder ʼn oningeënte persoon onder 19. Dít ondanks die feit dat Covid-19 tot dusver ouer bevolkings geteiken het. Dit blyk dat die Delta-variant uniek onder kinders en jonger mense, veral oningeënte jongmense, kan versprei, wat dui op die patroon van hoë gevalle maar beter kliniese uitkomste.

“Die aantal gevalle wat so drasties weens die Delta-variant gestyg het, is iets wat wel verder ondersoek moet word,” meen Mulder.

Delta-variant in SA

(Argieffoto: Unsplash)

Die Delta-golf het Suid-Afrika hard getref. Dit het aansienlik langer gehou as vorige golwe, maar met soortgelyke sterftesyfers. Suid-Afrika se entstofprogram het laat op dreef gekom in vergelyking met die res van die wêreld, met net sowat 13% van die bevolking wat volledig teen Covid-19 ingeënt is.

“Wat besonder kommerwekkend is, is dat die golwe telkens groter word, met Suid-Afrika se derde golf wat groter was as die tweede golf. In Suid-Afrika self blyk dit wel dat die paar entstowwe wat reeds toegedien is, wel suksesvol was teen die Delta-variant.”

Volgens Mulder is daar hoop dat Suid-Afrika met genoegsame inenting die pandemie hopelik die hoof kan bied en Covid-19 in die nabye toekoms as endemiese siekte begin behandel. “ʼn Siekte wat endemies word, impliseer geen nodigheid vir inperking of spesiale maatreëls wat vryhede inperk nie, aangesien gesondheidsorg nie onder druk gaan verkeer nie.”

Verpligte inentings

‘n Gesondheidsorgwerker word by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ingeënt. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die voordele van entstowwe spruit duidelik uit regte wêrelddata van lande wat met suksesvolle entstofprogramme feitlik alle regulasies kon skrap en Covid-19 as endemies kan hanteer, sê Mulder.

“Gevolglik het die debat daaroor begin woed of ʼn mens dan nie entstowwe bloot moet verplig vir die bevolking nie. ʼn Vinnige blik na sukseslande met inenting wys dat verpligting geensins as kritiek noodsaaklike voorwaarde vir hoë inentingskoerse dien nie.”

Uit die 20 lande met meer as 1 miljoen inwoners wat tans die hoogste inentingskoerse in die wêreld het, het slegs drie lande entstowwe wesenlik vir werkers verplig. Dit impliseer dat 85% van lande in die top-20 van die wêreld met hoë inentingskoerse inenting vrywillig laat.

“Die maatreël wat geld in 14 uit die 20 lande is dat toegang tot plekke soos restaurante, konserte en nagklubs beperk word vir mense wat nie ingeënt is nie deur óf ʼn bewys van herstel van Covid-19, óf ʼn onlangse negatiewe Covid-19-toets óf ʼn bewys van inenting te toon. Dít blyk as aansporing te kon dien om mense sover te kry om hulleself te laat inent. Werksplekke word egter nie geraak deur die meerderheid van hierdie beperkings nie. Dít is ʼn baie belangrike oorweging. Mense se vermoë om ʼn inkomste te verdien is slegs in Italië en Griekeland wesenlik volgens inentingstatus aangetas.”

Die debat oor verpligte inenting is in alle lande gevoer en die lande met die hoogste inentingskoerse handhaaf feitlik deur die bank ʼn sterk standpunt vir vrywillige inenting, wys Mulder daarop.

(Argieffoto: GCIS)

“Denemarke en Portugal het van die begin van hulle inentingsveldtogte af dit duidelik gemaak dat hulle nie inenting verpligtend gaan maak nie en dat jy nie jou werk kwyt sal wees as jy jou nie wil laat inent nie. Hierdie regerings het die vertroue van burgers behou en dit sodoende reggekry dat mense hulle vrywillig en in massas laat inent.”

Suid-Afrikaners se besonder lae vertroue in die regering en regeringsinstellings ná afloop van die pandemie impliseer dat die regering se kommunikasie met landsburgers in die pad van ʼn suksesvolle inentingsprogram staan.

“Mense moet voel dat alle belanghebbendes in die samelewing saambaklei teen die pandemie en nie teen mekaar nie. Erg gepolariseerde debat verhard net posisies en maak dit onmoontlik om waarlik saam as groep deur die pandemie te kom. Veral rakende ʼn sensitiewe onderwerp soos verpligte inenting is genuanseerde redevoering kritiek noodsaaklik. Die regulasies en maatreëls wat ingestel word, moet sin maak vir die breër bevolking en verduidelik kan word.”

‘Vertroue kan nie verplig word nie’

(Argieffoto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

In Suid-Afrika is daar met reg ʼn groot vertrouensbreuk met die regering, meen dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Mense vertrou die regering met min dinge. Daar is dus ook by baie mense ʼn onderliggende wantroue in die regering se inentingsproses.”

Die gebrek aan vertroue in die regering impliseer dat die regering so vinnig moontlik uit die pad moet tree ten einde instellings wat meer vertroue inboesem, toe te laat om ʼn rasionele, nie-polariserende debat oor entstowwe en inenting te voer en sodoende met aansporings, vertroue en goeie inligting meer mense ingeënt te kry voor die volgende golf Suid-Afrika tref.

“Die entstofdebat is reeds een van die mees polariserende debatte in die wêreld en verpligting gaan dit net vererger. Werkgewers kan ʼn positiewe rol speel. Werkgewers kan hulle vertrouensverhouding gebruik om werknemers aan te moedig om ingeënt te word. Verpligting gaan egter geensins help met vertroue nie.”

Lees dr. Hermann se volledige ope brief aan uitvoerende hoofde van Suid-Afrika hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Pietertjie ·

Ek wil graag ingeënt word met iets wat my liggaam se natuurlike immuniteitstelsel aktiveer, sodat my liggaam die teiken-patogeen kan vernietig en sodoende infeksie en verspreiding kan voorkom.

Robert ·

Die mens is ‘n snaakse ding… oortuig hom met weldeurdagte logika en hy stem in, dwing hom en hy kom in opstand.

Anel ·

Ons word met natuurlike imuniteit gebore. Het nue die die spuit nodig nie, tensy jy regtig sieklik is en gewoonlik siek word aan verkoue en griep. Maar as jy paranoïes is, is dit ook jou reg. Los ons ander, gesondes uit. Elkeen het die reg om oor homself te besluit. En dit is nou somer, in elke geval.

Zombie ·

Ek hoop dat jou en jou gesin se gesondheid vir ewig sal duur.

Barney ·

Mense wat die inspuiting kry moet ophou om mense wat dit nie wil kry nie te dwing. Dis my liggaam en my keuse en as jy bang is bly weg van my af. Hierdie mediese Apartheid het nou ver genoeg gegaan. Genoeg is genoeg.

Frannie ·

Vreemd dat ek wat beide my inentings gekry het dieselfde voel as jy. Julle wat nie inge-ent wil word nie hou aan en aan om julle siening op ander af te wil dwing. Respekteer die wat inge-ent wil word ook, soos wat julle gerespekteer wil word. To each his own.

Robert ·

Het my 2 gekry maar ek gaan vir seker nie iemand teen sy wil dwing nie. Dit is om myself te beskerm, niks meer nie. Ek kan covid nog kry en oordra… terwyl 99% mense glad nie in die hospitaal beland nie. Die jab beskerm net die persoon wat dit ontvang.

Samuel ·

Ek stem volkome saam dat verpligte inenting nie nodig is nie. Kommunikasie vanaf die regering is van die uiterste belang.

Dirk Mostert ·

Die CDC in die VSA het op 30 Julie afgekondig dat hulle sedert 1 Mei opgehou het om rekords te hou van “breakthrough cases”, dws infeksies, nagevolge en sterftes van mense wat reeds geent is. Sodoende word die indruk geskep dat infeksies en sterftes eintlik net onder ongeentes voorkom. Dis blatante misleiding. Die entstof is wel op diere getoets, maar die resultate word verswyg. Alle mense wat geent word is deel van ‘n proefneming met ‘n tipe entstof wat nooit voorheen op mense uitgetoets is nie. Mediese eksperimente op mense word deur die Nurenberg -kode internasionaal verbied.

Esme ·

Met verwysing na die ingeslote artikel, wil ek die volgende uitlating maak. President Cyril Ramaphoza het dit duidelik gestel dat inenting, NOOIT verpligtend sal word nie. Halleluja! Ek is geskok om te sien, hoeveel maatskappye nou hul werkers dwing om te gaan vir ‘n ‘vaksiene’ wat dood en verwoesting saai. Die Intensiewe Sorgeenhede is oorvol gevaksineerde pasiente. Ek het myself ook in so ‘n eenheid bevind en gedagtig aan wat daar gebeur het, wil dit vir my voorkom of daardie eenhede eerder ‘Moord Eenhede’ geword het – ek het nooit my chroniese medikasie ontvang nie. Dit het spoorloos verdwyn. Met my ontslag het ek die armbandjies van my arm verwyder – die een met die woorde DNR (Do Not Resuscitate) het my laat besef, dat die vyf mediese personeel se woorde, net voor my ontslag baie waar was – ‘Ons het nooit gedink jy gaan die 25 dae oorleef nie’.
My Skepper se genade het my deurgedra en laat besef dat Covid, vaksiene en die behandeling daarvan baie demonies is,

KB ·

Gaan maak gerus jou somme uit die wêreldwye data. Dan sal jy agterkom dat die sogenaamde “kenners” ook maar gemiddelde (en onder-gemiddelde) besluite neem. Suid-Afrika se “pandemie” is politici, uiterse swak mediese nasorg, impulsiewe besluite, geen beplanning en vrot (swak en te laat) aksies.
Die publiek raak keelvol hiervan.

Karlahari ·

Israel is besig met derde rondte pfizer inenrings en oorweeg selfs n 4de rondte om die deilta variant hok te slaan.
Met ander woorde rondte 1 en 2 het gefaal.
Waar is natuurlike entstowwe van mense wat covid oorwin het? Waarsien ons die navorsing?
Wat is die regte behandeling vir Covid pasiënte by die huis?
Is natuurlike immuniniteit beter as inenting as jy covid gewen het?
Hoekom wag tot asemnood ontwikkel voor pasiënte in hospitaal toegelaat word?

Johan ·

Palestina gaan dalk nog glimlag wanneer die Israelies begin sterf aan kanker en ander neweefekte. Net tyd sal leer.

Hoekom ·

Met of sonder entstof, jy kan nogsteeds covid kry en dit aan ander oordra. Stop die dwing leuen, dit maak nie ‘n verskil om mense te forseer nie. Dit moet elke vry persoon se keuse bly…

Johan ·

As jou werkgewer jou dwing is dit baie maklik, gaan hy verantwoordelikheid vat vir jou gesondheid en neweefekte oor die volgende 10 jaar, indien nie is jou antwoord ook nee dankie. Ek het c19 goed oorleef dankie, ek glo ek sal weer, en indien nie, is dit maar so.

Johan ·

Dankie Z, sterkte vir julle ook. Ons het dit almal oorleef. Net my Skoonpa is risiko, hy was lekker versigtig en hy is gespuit so gou hy kon, altwee inspuitings en ons immuun is die buffer tussen hom en julle. Vertrou politici en hul medici en kom jou fout die moeilike manier agter.

Vrijburger ·

Die erge weerstand en wantroue in SA het begin die oomblik toe die ANC regering weer besluit het om die proses te ‘nasionaliseer’. As die privaaat sektor, soos in baie ander lande, toegelaat is om deel van die proses van invoer en inenting te wees sou die weerstand en wantroue baie minder gewees het.

En die ou-ou menslike wysheid geld – as jy mense probeer dwing, eerder as te oortuig, gaan hulle in opstand kom daarteen, selfs al was hulle van plan om ingeent te word.

A ·

Ek stem saam met julle teen-inenters, ek wil nie hê julle moet die inspuiting kry nie. My dag is vol schadenfreude elke oggend wanneer ek lees van nog ‘n teen-inenter wat in ISE beland of dood is.

En dis net die mense wat ek nie van hou wat afsterf. So dankie dat julle, hou aan met die goeie werk, ek is aan julle kant 100%.

Owlie ·

Dwang/Verpligting is absurd
Hoe kan enige een sê hierdie INSPUITING is so fantasties as daar gesê word dat dit nie vir die volgende variant werk nie Hoeveel inspuitings moet een men’s kry en dit terwyl niemand weet of jy as persoon enige newe effekte, siektes, voirvslle kan of sal kry nadat die inspuiting toe gedien is nie Die regering en pers sê baie maklik en vinnig dat niemsnd van die inspuiting siek raak nie SPOT ON Daar is mense wat NA die toedien van die inspuiting dirk raak of newe effekte kry Hou op mense dwing, laat elkeen sy eie besluit neem, vat areas met hul mense vas waar dit werklik nodig is en laat die lewe voirtgaan

Johan ·

Maar onthou Ow, om mag te hê is darem maar bitterlik lekker. Kyk maar hoe geniet politici dit om die ou nuttelose masker af te dwing. As dit nie vir hul absurditeit was nie sou meer mense hul kon vertrou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.