Covid-19: Infeksies in KZN bereik kruin

‘n Inwoner van Hammarsdale in KwaZulu-Natal word vir die nuwe koronavirus gesif. (Foto: Bongani Mbatha/ANA)

Die getal Covid-19-gevalle in KwaZulu-Natal het die afgelope paar dae beduidend gedaal, ʼn vroeë aanduiding dat die pandemie in dié provinsie sy kruin bereik het.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die afgelope naweek ook bevestig dat Suid-Afrika “oor die ergste is”.

“Ons kan sê ons is oor die skielike toename in stygings. Die plato het begin. In die Wes-Kaap is dit nou al meer as twee maande die geval en [gevalle in] KwaZulu-Natal neem nou ook af. Dit is aanduidend van ʼn belowende tyd,” het Mkhize gesê.

KwaZulu-Natal was tot onlangs die provinsie met die tweede meeste Covid-19-gevalle in die land. Die provinsie het nou altesaam 110 102 positiewe gevalle en 93 079 mense het reeds van die virus herstel. Die provinsie se sterftesyfer weens Covid-19 staan in hierdie stadium op 1 998.

Binne ʼn bestek van ʼn week het die getal nuwe gevalle wat daagliks aangemeld word, met meer as 300 gedaal, met 647 nuwe gevalle wat Maandag en 261 nuwe gevalle wat Dinsdag bevestig is.

“Wat kommerwekkend is, is dat vier van ons distrikte steeds die grootste getal gevalle in die provinsie oplewer – die King Cetshwayo-distrik, eThekwini, uMgungundlovu en Amajuba,” het Sihle Zikalala, KwaZulu-Natalse premier, gesê.

“Ons hou die uitwerking van interprovinsiale reise, die heropening van skole asook die heropening van meer sektore van die ekonomie fyn dop,” het Zikalala gesê.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, tydens ‘n vroeëre besoek aan die Clairwood-hospitaal in KwaZulu-Natal. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Die afsonderingsregulasies is verlede week verder verslap en laat onder meer nou weer die verkoop van alkohol en tabakprodukte in. Reise tussen provinsies word ook nou vir almal toegelaat.

Duisende leerders het boonop Maandag weer teruggekeer skool toe.

Volgens Zikalala het die heropening van skole in die provinsie glad verloop en die meeste onderwysers het aangemeld vir diens. Altesaam 22 onderwysers van die Chief Lokothwayo Primary School in Marianhill het egter glad nie vir werk opgedaag nie.

Die premier sê die provinsie sukkel wel met die verskaffing van water en sanitasiegeriewe by verskeie skole, asook ʼn tekort aan mobiele klasse en meubels by sommige ander. Die probleme word volgens hom egter bestuur.

Die minister het vroeër ook gesê daar is in hierdie stadium nie ʼn tekort aan persoonlike beskermingstoerusting nie, hoewel daar probleme met die administrasie van dié toerusting is. Dit is egter ʼn kwessie wat aandag geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Mmmmmm? Zweli…hoekom sal ons ‘n WOORD of ‘n SYFER uit jou mond glo? Behalwe natuurlik dat dit ‘n gulde geleentheid is om die ANC af te maak as te danke vir die fantastiese bestuur van die pandemie? Volgende is daar weer n TWEEDE kruin en n derde laagtepunt en seventy one hundred and 80 persent recovery en zero sterftes?

Wat sou verander het aan die jou en jou kopdoek bende se geneigdheid om te lieg en bedrieg voor die uitbreek van Covid 19?

DONT TRUST YOU WITH REASON!!!!!

Jan ·

Die feit dat inperking nerens ter wêreld enige wesenlike impak op die verspreiding van die virus gehad het nie en dat dit nie gevaarliker is as seisoenale griep nie, weerhou nie die regering om voort te gaan met hul duistere agenda nie. En die media speel steeds saam.

Kobus ·

Jan, waar kom jy aan die bog wat jy kwytraak? Of is dit deel van jou conspiracy theory- ek onthou jy het aanvanklik sterk gesteun op die gewese engelse sokkerspeler wat glo dat die virus eitlik veroorsaak word deur die 5G netwerk ( dieselfde ou wat glo die koningshuis is reptiele)… Staaf gerus jou stelling dat inperking maatreels, insluitende social distancing, beperking van getalle, reis en vlug beperkings ens. “Nerens ter wereld” enige impak gemaak het nie en dat die virus ” nie gevaarliker as die seisonale griep is nie. Volgens jou is die hele wereld deel van die conspiracy. Ek verstaan die wantroue jeens die SA regering, maar alle mense en lande is nie korup nie. Jy blameer die media vir die verspreiding van “fake news” maar jy is besig om presies te doen waarvan jy hulle van beskuldig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.