Covid-19: Ingenieurs maak plan met siftingstoetse by skole

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Ayanda Ndamane, ANA)

Ingenieurs aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n toestel ontwerp om siftingstoetse vir Covid-19 by skole te vergemaklik. Dié toestel, wat siftingstoetse sal digitaliseer, kan moontlike opeenhopings by skoolhekke voorkom, waar leerders vanaf volgende maand soggens vir simptome van Covid-19 nagegaan sal moet word.

Maroela Media het vroeër berig die minister van basiese onderwys het bevestig dat skole op 1 Junie vir gr. 7’s en gr. 12’s sal heropen.

Die NWU wys daarop dat honderde leerders by sommige skole op een slag by die skoolhekke vir die virus nagegaan sal moet word. Leerders se temperatuur sal dus elkeen gemeet en noukeurig neergeskryf moet word. Indien ’n leerder ʼn hoë temperatuur registreer, moet die departement van gesondheid ooreenkomstig veiligheidsmaatreëls in kennis gestel word.

Volgens die universiteit gaan nie alle skole noodwendig kapasiteit hê vir dié tydsame proses nie. Ingenieurs aan die NWU, onder leiding van prof. Leenta Grobler, ’n spesialis in gesondheidsverwante ingenieursinnovasies, glo hulle het ’n oplossing gevind deur dié proses te digitaliseer en dus te bespoedig.

Luidens ’n verklaring het die span ingenieurs ’n toestel ontwerp wat sal toelaat dat elke persoon wat gemagtig is om ’n spesifieke eiendom te betree, ’n identifikasieskyfie kry. ’n Vasleggingstasie sal dan by alle toegangspunte opgerig word, met onder andere ’n databasis, ’n skyfieleser wat die skyfie deur middel van ’n QR-kode lees en ’n digitale termometer wat gekoppel is aan ’n Android-selfoon. Die data word dan deur middel van die selfoon opgeneem en gestoor.

“Hierdie toestel sal aansienlik baie tyd vir onderwysers en werkers bespaar en kan ’n radikale impak hê op siftingsprotokolle,” het Grobler gesê.

Luidens die verklaring beplan Grobler en haar span om hul toestel gedurende die eerste week van Junie by skole in Potchefstroom op die proef te stel.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marius ·

Hier is dit , die antichris se stelsel . (Elektroniese skyfie) en alles wat saam met dit gaan .Hoe tragies is dit nie .Ja en oormore is dieselfde konsep betrokke as jy gaan inkopies doen , of is ek nou heeltemal van die pad af ? Vra maar net .

Die Wolf ·

Praktiese manier om n komplekse situasie wat gaan kom te beheer. Sterkte daarmee.

Colani ·

Daar is Masjienne wat gebruik word by werks plekke wat ñ klok kaart stelsel genoem word wat met jou duim afdruk werk hkm dan nie so een by die skool gebruik nie sit net tempratuur by .Môre verloor die kind die kaart : *wat gebeur dan? * .

TRP ·

Want as almal dieselfde bio-metric gebruik en een kind het die virus opgetel versprei hy dalk met die stelsel.

JohanR ·

Solank ietsie nie met ‘n naald by die stelsel in die kind ingeent word nie. Ouers kyk daai storie mooi uit want daai dae kom. As ek ‘n ouer was sou ek saam met my kind skool toe gaan net om te kyk wat gebeure op dag een. As ek nie van dit hou nie dan vat die kind huis toe.

Johan ·

Ek sal my kop op ‘n blok sit dat die tipe oplossings orals sal posvat, sonder om pogings te koördineer en duplikasie uit te skakel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.