Covid-19: Jongste syfers in Gauteng, Wes-Kaap

(Foto: Vincent Ghilione)

Die totale getal bevestigde Covid-19-gevalle in Gauteng het teen Woensdag op 1 224 gestaan.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het gesê sewe mense in die provinsie het reeds aan die virus gesterf.

Altesaam 826 mense het reeds van die siekte herstel (mense wat die siekte opgedoen het, maar nou negatief daarvoor toets), wat die getal sogenaamde aktiewe voorvalle op 391 te staan bring.

In dié stadium word 46 mense in private en staatshospitale vir die siekte behandel.

Die meeste gevalle is in Johannesburg aangemeld, gevolg deur Ekurhuleni en die Tshwane-distrik.

Gesondheidswerkers

Kekana het gesê 28 gesondheidswerkers in die provinsie het tot dusver positief vir Covid-19 getoets. Al die pasiënte het slegs matige simptome getoon en afgesien van een persoon het niemand hospitaalbehandeling benodig nie. Dié persoon is Vrydag ontslaan.

Die eerste groep werkers wat positief vir die virus getoets het, het dit in hulle sosiale kringe opgedoen en nie by die werk nie, het Kekana gesê.

Elf van die werkers het herstel en die meeste van hulle het reeds teruggekeer werk toe. Die res van die groep word steeds fyn dopgehou.

Die ontsmetting van verskeie gesondheidsinstellings in die provinsie duur voort en die departement sê hy het in dié stadium nog genoeg persoonlike beskermingstoerusting vir mediese werkers.

Wes-Kaap

In die Wes-Kaap is 1 068 gevalle van Covid-19 bevestig en 22 sterftes – vyf meer as die vorige syfer –is in die provinsie aangemeld. Die jongste slagoffers is drie mans (onderskeidelik 43, 49 en 79 jaar oud) en twee vroue (54 en 95 jaar oud).

Altesaam 229 mense in die provinsie het van die virus herstel, wat die getal aktiewe voorvalle op 817 te staan bring, het Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Woensdag gesê.

Van dié pasiënte word 43 in hospitale behandel en 19 van hulle is in hoësorgeenhede.

Die provinsie het al meer as 20 000 mense vir Covid-19 getoets, hoewel daar groot kommer heers oor spanne wat aangeval word wanneer hulle in gemeenskappe ontplooi word om toetse vir die siekte te doen.

Winde sê vooruitskattings dui daarop dat tot 80 000 mense in die provinsie uiteindelik die virus kan opdoen en hoewel 90% van hulle tuis sal kan herstel, gaan daar steeds ʼn tekort aan hospitaalbeddens wees.

Winde sê die provinsie gaan 1 000 beddens in akute en 750 beddens in intensiewe sorgeenhede benodig. Die provinsie beoog om veldhospitale in te rig om in die tekort te voorsien.

Betogers op die Kaapse Vlakte. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Benewens die getal besmettings in die provinsie loop die Wes-Kaap ook deur onder talle voorvalle van openbare geweld en plundery. Winde het gesê die provinsie het reeds ʼn hele aantal stappe gedoen om te help waar hy kan.

“Laat ek dit egter duidelik stel: Misdaad gaan nie geduld word nie. Plundery is misdaad en die diefstal van voedselhulp moet ten sterkste veroordeel word,” het Winde gesê.

“Ons is reeds onder groot ruk om voedsel en hulp aan mense te verskaf en misdaad vererger dit selfs meer. Die diefstalle is tot groot nadeel van armes en diegene wat honger ly en wat op die voedselhulp staatmaak vir hulle oorlewing.”

Maroela Media is bewus daarvan dat daar soms teenstrydighede is in die Covid-19-syfers wat in berigte aangehaal en in grafieke aangedui word. Die syfers word egter net so oorgedra uit inligting wat van die departement van gesondheid ontvang word. – Red.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.