Covid-19: Kabinet maak praktiese planne bekend

Zweli Mkhize. Foto: Elmond Jiyane

Die kabinet het Maandag omvattende inligting oor en praktiese planne ter bestryding van die koronavirus bekend gemaak.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het gesê die virus is nou vinnig besig om te versprei en dit lyk of die eerste voorvalle wat plaaslik versprei binnekort gediagnoseer sal word.

Die kabinet werk egter al weke aan ’n gebeurlikheidsplan waarby die private sektor en vakbonde onder meer betrek word.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het bevestig dat geld uit die nasionale rampfonds beskikbaar is, maar dat ander beplande bestedings ingekort gaan moet word omdat die stryd teen Covid-19 nou prioriteit is.

Die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het gesê die regulasies om pres. Cyril Ramaphosa se aankondigings prakties te implementeer, sal vandag voltooi wees.

Tito Mboweni, minister van finansies, tydens die lewering van sy begrotingsrede die afgelope week. (Foto: GCIS)

Verskeie tydelike veranderings in munisipale bestuur sal binne die volgende paar dae aangekondig word.

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, het verskeie belangrike ingrypings aangekondig. Eerstens werk die regering al weke daaraan om uitvoerkanale vir Suid-Afrikaanse produkte oop te hou. Daar is ook reeds met Suid-Afrikaanse produsente gepraat en die land kan in burgers se basiese behoeftes voorsien.

Die regering het die afgelope weke soveel moontlik saniteerders, mediese gesigsmaskers en mediese klere internasionaal aangekoop en plaaslike produksie van dié produkte is reeds vermeerder.

Wat arbeid betref vergader Patel en die minister van arbeid en werkskepping, Thulas Nxesi, vanmiddag met die voorste verteenwoordigers van sakebelange en arbeid by Nedlac om verkorte werkure, sluiting van besighede en werkplekke met meer as 100 werknemers te bespreek.

Planne word gemaak om ekonomiese verstadiging te bekamp, maar dit gaan taai gaan. Daar is tans geen beperking op die vervoer van goedere en produkte per spoor, lug of water nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: GCIS)

Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het alle besoekure in tronke afgeskaf. Die reusetaak om die land se tronke te ontsmet, het begin en ingewikkelde regulasies is geïmplementeer om nuwe aankomelinge in die tronk, ervare gevangenes en verhoorafwagtendes van mekaar te skei, asook om howe minder van ʼn higiëne-risiko te maak.

Verskeie sleutelbedrywe soos gesondheidsprodusente, die motorbedryf, kleinhandel, voedsel en mynbou is reeds voorberei en gebeurlikheidsplanne vir hierdie abnormale tye is gereed.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het gesê openbare vervoer is ’n broeiplek vir kieme. Treine, busse, vliegtuie en skepe word dus tans van hoek tot kant skoongemaak. Minibustaxi’s is veral ’n bron van kommer. Saniteringspunte gaan by taxistaanplekke aangebring word en taxi’s gaan ondersoek word om te kyk of hulle skoon is.

“Die probleem kom egter by die implementering van so ’n reusetaak, veral ook omdat taxigebruikers betaal met gebruikte kleingeld wat van hand tot hand aangegee word. Dis ’n korona-nagmerrie,” sê Mbalula.

Suid-Afrikaners van oor die wêreld is welkom om na die land terug te keer, sê die regering.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Niel

ohhh is dit al Dinsdag?

Moedeloos

Ek sê liewers niks.

Kobus

Wat ‘n grap.Soos gewoonlik baie planne maar wat van Beitbrug wat nie gesluit gaan word nie? Dan erken hulle dat dit die deur is van Afrika na SA.Lag wekkend

Johan Venter

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het gesê openbare vervoer is ’n broeiplek vir kieme. Treine, busse, vliegtuie en skepe word dus tans van hoek tot kant skoongemaak. Minibustaxi’s is veral ’n bron van kommer. Saniteringspunte gaan by taxistaanplekke aangebring word en taxi’s gaan ondersoek word om te kyk of hulle skoon is.

“Die probleem kom egter by die implementering van so ’n reusetaak, veral ook omdat taxigebruikers betaal met gebruikte kleingeld wat van hand tot hand aangegee word. Dis ’n korona-nagmerrie,” sê Mbalula.

So ook die nedersettings, taxis en taxistaanplekke in die landelike gebiede, voeg ek by.

Wat ‘n enorme taak!

Kwikkie

Hierdie voorbereiding moes al LANKAL gedoen geword het….