Covid-19 kelder wéér Kilian se borgtogaansoek

Zane Kilian. (Foto: Twitter)

Zane Kilian is in selfisolasie terwyl daar gewag word op ʼn medegevangene se uitslae wat gister vir Covid-19 getoets is.

Kilian kon gevolglik nie vandag in die hof verskyn nie en sy borgtogverhoor is weereens uitgestel.

Die verhoor is verlede week ook uitgestel toe die staatsaanklaer adv. Greg Wolmarans in selfisolasie was nadat hy die week tevore met ʼn werkskollega in aanraking was wat positief vir Covid-19 getoets het. Die borgtogverhoor is nou tot 15 Desember uitgestel.

“Dit is die eerste en enigste datum beskikbaar,” het Johan van Aswegen, Kilian se advokaat, vlugtig buite die hof aan Maroela Media gesê en bygevoeg dit is ook die laaste dag dat die landdros die saak kan aanhoor voordat sy met verlof gaan.

Vandag se uitstel is ʼn terugslag vir Kilian en sy regspan wat waarskynlik nie hierdie jaar nog borgtog vir hul kliënt sal kan verseker nie.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê alles hang nou af van die toetsuitslae. “Ons verwag die toetsuitslae op die medegevangene teen Donderdag of Vrydag. Indien dit positief is, sal die borgtogaansoek tot Januarie uitgestel word. Indien dit negatief is, sal ons volgende Dinsdag weer terug wees. Intussen bly die beskuldigde in isolasie.

“Ons hoop die toetsuitslae is negatief sodat ons met die borgtogaansoek kan begin. Die staat is gereed om met die aansoek te begin.”

Kilian is sedert 23 September in aanhouding nadat hy in verband met die sluipmoord op lt.kol Charl Kinnear in hegtenis geneem is. Intussen word hy ook by die aanval op William Booth, ʼn Kaapse prokureur, betrek. Dié saak kom weer Maandag 14 Desember in die Kaapstad-landdroshof voor.

Maandag se aansoek om borgtog gaan waarskynlik ook uitgestel word.

Kilian word met die Kinnear-moord én die aanval op Booth verbind weens onder meer sy betrokkenheid by die nasporing van selfoonseine deur die gebruik van selfoonnommers, bekend as ping. Die staat moet ook nog op Kilian se redes om borgtog reageer, asook op ’n beëdigde verklaring wat sy regspan einde November aan die staat oorhandig het.

Kilian word in die Bellville-streekhof aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en die onregmatige onderskep van kommunikasie.

Hy pleit onskuldig teen al die klagte teen hom. Volgens Kilian is die enigste feit wat hom met Kinnear se moord verbind die aantyging dat hy die selfoon van die slagoffer nagespoor het met die doel om hom op te spoor. Kilian gebruik spesifieke sagteware op sy selfoon om iemand anders se selfoon na te spoor. Hy doen dit met behulp van ʼn platform en ʼn unieke kode.

In sy beëdigde verklaring impliseer Kilian die oudpolisieman Bradley Goldblatt as ʼn persoon van belang met betrekking tot die nasporing van selfoonseine. Volgens Kilian het hy sy sagteware en kodes by Goldblatt gekoop. Kilian meen dat dié sagteware en kode wat Goldblatt aan hom verskaf het nie eksklusief aan hom uitgereik is nie en dat ander individue ook daartoe toegang gehad het. Hiervolgens meen hy dat sy kode hom nie met die misdaad kan verbind nie.

Intussen het Goldblatt, wat na bewering as ʼn getuie teen Kilian optree, verlede week ʼn aanval oorleef toe ʼn onbekende voertuig buite sy huis stilgehou en op sy huis en motor geskiet het. News24 het kort ná die voorval kringtelevisie-beeldmateriaal van die aanval geplaas. Die beeldmateriaal wys hoe ʼn wit Mercedes-Benz vlugtig buite Goldblatt se huis in Gauteng stop, skote afvuur en wegjaag.

Benewens bogenoemde redes het Kilian se regspan al vroeër aangevoer dat Kilian ten tyde van die moord op Kinnear nie in die Wes-Kaap was nie. Daar is glo bewyse gelewer dat hy op die middag van 18 September in Springs, Gauteng, was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Goldblatt getuig teen Killian,dan word daar op sy huis en motor gevuur.Hoekom? Is Kilian se alibi dat hy op 18 September in Springs was bevetig deur die ondersoekbeampte.Wie probeer Killian beskerm en hoekom.Hy beweer dan hy is onskuldig.Hierdie ondersoek raak baie mense in die misdaadwêreld wat eers ondersoek sal moet word.Kan daar bo redelike twyfel bewys word dat Killian Kinnear vermoor het en Booth probeer vermoor het.Kinnear het hoë profiel sake waaronder polisiemanne ondersoek

De Wet ·

Dit raak nou dik vir ‘n daler ! Die polisie weet presies wat aangaan . Hou op julle kriminele broeders beskerm . Hulle probeer Killian aan die toring hang want hulle kan nie self die korupte polisie lede in die onderwêreld hanteer nie . En dis die hoogs geplaastes !! Gee Zane borg nou !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.