Covid-19: Kerke, begrafnisondernemers raak kreatief

(Argieffoto: pixabay)

Geleenthede word op ’n streep gekanselleer sedert pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand afgekondig het dat byeenkomste van meer as 100 persone voortaan verbied word weens die nuwe koronavirus (Covid-19). Dit raak kerke, begrafnisondernemers en selfs die parlement.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het Maandag aan Maroela Media gesê verskeie NG-gemeentes het reeds met kreatiewe idees vorendag gekom om voorsorgmaatreëls by kerke te implementeer.

Volgens Claassen word nou oorweeg om kerkdienste regstreeks op die internet uit te saai. Dit sal vereis dat ’n leraar vir ’n leë kerk preek en gemeentelede dan via internet inskakel. Daar word ook gekyk na die moontlikheid om kerkdienste op verskille tye aan te bied, met slegs ’n bepaalde getal mense per diens.

Ook die Nederduitsch Hervormde Kerk beraam planne.

“Die kerk is nes ander liggame verbonde aan die bepalings van die noodtoestand en ons moet natuurlik die belange van ons lidmate in ag neem,” sê dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Volgens Van Wyk het die Nederduitsch Hervormde Kerk Maandagoggend vergader en besluit dat elke kerkraad self moet besluit hoe om sy spesifieke situasie te hanteer. Klein gemeentes met minder as 100 lidmate kan voortgaan, mits hulle ook maatreëls tref om die verspreiding van die virus tussen lidmate te bekamp.

kerk-bankies

Foto: Nikko Tan/Pexels.com

Die kerk sal ook eredienste vooraf opneem wat van die kerk se webtuiste afgelaai kan word. Die kerk het ’n vennootskap met die Christelike platform GLOmedia.tv aangegaan wat bepaal dat sy lidmate vanaf eerskomende Sondag een erediens per week gratis op dié platform kan kyk.

Neville Norden, uitvoerende hoof van Lewende Woord, sê aan Maroela Media dié kerkgroep sal voortaan ook aanlynpreke vir lidmate beskikbaar stel. Sommige van die kerkgroep se gemeentes sal by preke op sy platform kan inskakel, terwyl hulle steeds hul eie interaktiewe platforms sal hê.

“Dis vir ons baie belangrik om steeds ons gemeenskap te dien,” sê Norden.

Hansie Reinecke, ‘n pastoor van Every Nation Tshwane, meen die uitdaging van kleiner byeenkomste is in werklikheid ’n groot geleentheid om lidmate bymekaar te bring en toe te rus in dié tyd. Dié kerk beplan dat sy lidmate in hul kleingroepe bymekaar kom en saam na ’n preek en bemoediging van 15 minute sal luister. Die groepe sal dan in groepverband materiaal bespreek.

“Jy moet steeds in jou gemeenskap van gelowiges kan bly. Daar is so baie goeie materiaal aanlyn beskikbaar, maar wees versigtig om nie net in TV-kerk betrokke te raak nie maar raak terug betrokke in jou gemeenskap,” sê Reinecke.

Begrafnisse

Argieffoto

Sonja Smith, hoof van Sonja Smith-begrafnisondernemers, verduidelik aan Maroela Media dat haar takke voortaan begrafnisse per uitnodiging sal hanteer. Dit beteken dat die familie van ’n oorledene ’n aantal mense (onder 100) na die begrafnis van ’n geliefde kan uitnooi. ’n Begrafnisdiens kan ook regstreeks uitgesaai word sodat roubeklaers vanuit hul huise kan inskakel.

“Dit het ’n geweldige ingryping op al die industrieë, nié net begrafnisondernemers nie. Ons moet almal aanpassings maak en die nodige voorsorg tref,” sê Smith.

Volgens Smith moet begrafnisondernemers gesondheidsmaatreëls soos bepaal deur die departement van gesondheid instel wanneer dit kom by die hanteer van die liggaam. Dit sluit in dat liggame in ’n lyksak na ’n lykshuis vervoer moet word. Persone wat die liggaam hanteer, moet ook beskermende kleredrag dra en die trollie waarop die liggaam vervoer word, moet deeglik ontsmet word.

Niks verander wat betref die manier waarop ʼn persoon begrawe word nie.

Parlementêre sittings

Tito Mboweni lewer Woensdag sy begrotingsrede in die parlement. (Foto: Siyabulela Duda)

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, het aan Maroela Media bevestig dat alle Suid-Afrikaanse parlementsittings tans afgestel is, behalwe die parlementsitting oor die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste wat Woensdag plaasvind. Dié debat en stemmery is nodig sodat geld toegewys kan word aan provinsies om noodsaaklike dienste te lewer.

Komiteesittings van die parlement gaan vir eers voort, hoewel die Nasionale Raad van Provinsies se openbare sittings wat vandeesweek dwarsoor die land sou plaasvind, afgestel is.

Volgens Mothapo is geen besluit nog geneem oor die openbare sittings rakende die wysiging van art. 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik nie.

Die opskorting van aspekte van die parlement se werk het ernstige grondwetlike implikasies wat tans deur die parlement se regsadviseurs bestudeer word. Die verkeerde toepassing van die Grondwet kan regeringsbesluite ongeldig maak.

Thandi Modise, die speaker van die Nasionale Vergadering, sal môre ’n aankondiging daaroor doen, het Mothapo verseker.

Ander sosiale geleenthede

Verskeie kosfeeste, musiekfeeste en kunstefeeste is in dié stadium uitgestel.

Die Fijnwyn-fees wat eerskomende naweek in Pretoria sou plaasvind, is Maandag uitgestel asook die musiekfees Park Acoustics wat een Sondag per maand by die Voortrekkermonument gehou word.

Daar sal later vandeesweek oor die lot van die Vrystaat Kunstefees besluit word. Dit nadat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees reeds aangedui het dat dié jaarlike instelling weens Covid-19 nie einde vandeesmaand sal plaasvind soos aanvanklik beplan nie.

Die bestuur van die Vrystaat Kunstefees het Sondag in ’n kort verklaring gesê dié fees sal moontlik na die tweede helfte van die jaar uitgestel word. Die fees se raad vergader Woensdag rakende dié besluit. Die 14de Suid-Afrikaanse Rolprent‑ en Televisie-toekennings (Saftas) vind ook nie meer op 27 en 28 Maart plaas nie.

Penguin-uitgewers het reeds aangedui dat alle boekbekendstellings vir eers uitgestel word. “Die risiko vir ons skrywers, personeel, boekwinkelvennote en lesers is net te groot en ons glo dat ons in hierdie vroeë dae van verspreiding in Suid-Afrika alles in ons vermoë moet doen om die koronavirus te bekamp,” lui ’n verklaring.

600 Voortrekkers is die afgelope Saterdag tydens die hoogtepunt van die feesvierringe ingelyf (Foto: Maroela Media)

Voortrekkers

Die Voortrekkers het intussen ook aangekondig dat alle Voortrekkerkampe van groter as 100 kampeerders wat tydens die Maart-skoolvakansie sou plaasvind, afgestel word. “Alhoewel dit buite ons wil en beheer is, vra die Voortrekkers opreg verskoning hiervoor. Ons besef dat kampe en ouers reeds groot koste aangegaan het en is saam met elke Voortrekker baie teleurgesteld. Ons moet egter as landsburgers ons samewerking aan die regering bied ten einde die virus te bekamp,” lui ’n verklaring.

Luidens die verklaring is Lunsklip, Thaba, Rhus Keeti, NPD, SPDW en Kamp Miernes reeds afgestel. Jakaranda, Hoëveld, die vyf Verkennerkampe van die Vrystaatse Voortrekkers en Herfskamp is nog in gesprek en sal direk met die betrokke ouers en jeuglede skakel.

’n Aantal Voortrekkerkampe het minder as 100 bywoners en gaan dus voort soos beplan.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Scalla ·

Hoe gaan hul die getalle beheer met uitbetaling van SASSA waar duisende saamdrom tydens betaaldag?

Phillip ·

Dis goed dat kerke dit op die intrnet kan vreistel maar ons wat nie internet het by die hiusse nie moet maar daar sonder klaar kom. Ek teekin in by my werk . By die hius het ek nie die luuksheid nie

Wessel ·

Hierdie Corona virus histerie word nou heeltemal uit verband geruk. As gekyk word na die aantal sterftes wereld wyd is bv. TB sterftes, 500 keer meer as die van die Corona virus en so kan jy aangaan met Maasels en Malaria ens.
Die media wereldwyd blaas hierdie vress aan en die wereld ekonomie word nou geknak.

Blackies ·

Stem saam. Duiwel buit ons uit met vrees en nou word alle kerk byeenkomste gekanselleer.

Anel ·

Mense het heeltemal mal geraak. Meer mense gaan jaarliks dood aan baie ander siektes maar nou raak mense absoluut paranoïs. My man met erge sinus kon nie geopereer word gister nie. Die hospitaal het hom weggewys want hy het 2 weke geled teruggekeer van Nederland. By ‘n ander kliniek wat die spesialus toe reel wou die narkotiseur nie aan hom raak nie want hy is amper 70 en hulle het nie beskermende klere vir hom nie, en agv sy hoë ouderdom kan hy doodgaan. Spesialis woedend en sê dat die virus lyk vir hom belangriker as ‘n mens wat moontlik breinvliesontsteking kan kry. Hy moes toe eers getoets word en sal na 48 uur weet. Intussen wil hy serf van hoodpyn want niks help nie. Al 2 kursusse antibiotika en kortisoon. So, mense is besig om die see heeltemal oder die eendjie uit te ruk. As jy gewoonlik griep kry sal jy moonlik siek word, anders nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.