Covid-19 kniehalter krieketreeks weer

Foto: Twitter.

Die eerste eendagwedstryd tussen die Proteas en die Engelse toerspan is weereens deur Covid-19 in die wiele gery.

Die reeks, wat uit drie wedstryde bestaan, sou reeds Vrydag op Nuweland begin het. Dit is uitgestel nadat iemand in die Protea-kamp positief vir Covid-19 getoets het.

Nou word daar berig dat die wedstryd in die Paarl ook afgelas is. Twee personeellede van die Vineyard Hotel in Kaapstad, waar die spelers in die sogenaamde bio-borrel bly, het positief vir die virus getoets.

KSA en die Engelse Krieketraad (ECB) het in ’n aanvanklike verklaring gesê dat die aanvang van die Paarl-wedstryd uitgestel is. Die Engelse spelers en bestuur het Saterdagaand opvolgtoetse ondergaan nadat die hotelwerkers positief getoets het.

Daar is egter bevestiging ontvang dat die wedstryd intussen afgelas is. Engeland keer op 10 Desember terug huis toe en die moontlikheid word al hoe groter dat die reeks nie betyds afgehandel gaan word nie.

Volgens die ECB het twee Engelse spelers onbevestigde positiewe uitslae ontvang. Die spelers en bestuur is nou in selfisolasie hul hotelkamers terwyl hulle op verdere instruksies van hul mediese span wag.

’n Besluit oor die oorblywende wedstryde sal geneem word sodra die toetsuitslae deur onafhanklike mediese kundiges bevestig is.

Ashleigh Giles, Engeland se direkteur van krieket, het gesê dat die toerspan saam met KSA sal werk om die pad vorentoe te bepaal.

“Dit is hartseer dat ons nie vandag kan speel nie, maar die welstand van ons spelers en ondersteuningspersoneel is die belangrikste,” het Giles gesê.

Op sy beurt het Graeme Smith ook die huidige stand van sake betreur.

“KSA doen alles in sy vermoë om die veiligheid en gesondheid van alle betrokkenes te verseker. Juis om dié rede het ons die gesamentlike besluit geneem om vandag se wedstryd te kanselleer.”

Volgens Roy Davies, die Vineyard Hotel se bestuurder, het nie een van die personeellede die bio-borrel sedert 16 November verlaat nie. Hy het byvoeg dat ’n ondersoek van stapel gestuur is om al die feite bymekaar te kry.

  • Intussen het Australië 182/5 ná 19.3 boulbeurte in die tweede T20-wedstryd teen Indië in Sydney. Toeskouers word by die wedstryd toegelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Die Wolf ·

Hulle was in elk geval van lotjie getik om hier te kom toer. You do not take anything for granted and believe promises.

Andre ·

Wie gee om ? Engeland kan eerder teen meriete spanne gaan meeding in ander lande.Nie hierdie sirkus nodig nie.

MakersMark ·

Swak besluitneming aan KSA en England se kant om met ‘n reeks voort te gaan te midde van CV19 pandemie.

Dirk Mostert ·

Asimptotiese positiewe uitslae. Onbevestigde positiewe uitslae. Negatiewe uitslae enkele dae na positiewe uitslae (Novak Djokovic o.a.). Positiewe uitslae vir ‘n papaja en ‘n boerbok. Die hele pandemie is gebaseer op positiewe uitslae. Wetenskaplike wette, teoriee en hipotese word nie gebaseer op inkonsekwente resultate nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.