Covid-19 knou ook inkomste in tolgeld

Argieffoto

Motoriste het kragtens die jongste beskikbare syfers binne een jaar meer as R2,3 miljard aan tolgeld betaal by die tolhekke op die N3-hoofweg tussen Johannesburg en Durban.

Dié syfer is in die parlement deur die minister van vervoer, Fikile Mbalula, bekend gemaak in antwoord op ʼn vraag deur die IVP-LP Petros Sithole.

Die jongste beskikbare syfers is vir 2019-’20-boekjaar. Daarvolgens is meer as R272 miljoen betaal by Sanral se Mariannhill-tolhek buite Pinetown, en sowat R2,03 miljard by die N3-tolkonsessie se tolhekke by die De Hoek-plaza naby Heidelberg, die Wilge-plaza by Villiers, die Tugela-plaza by Ladysmith en die Mooirivier-plaza, sowel as enkele afrit-tolhekke.

Volgens Mbalula is die verwagting dat die inkomste uit tolhekke vir 2020-’21-boekjaar sowat 25% laer sal wees weens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande afsonderingstydperk.

Die inkomste uit tolgeld word volgens die minister gebruik om die skuld te delg van die aanvanklike padkonstruksie en ander aanlopende kapitaaluitgawes wat dikwels weens groter verkeersdruk ontstaan. Dit word ook uitgegee op instandhoudingswerk, koste wat aangegaan word om tolgeld in te samel, personeeluitgawes, die koste daaraan verbonde om gras te sny en om noodvoertuie te bedryf om mense te help wat enjinmoeilikheid, pap bande en ander motorprobleme op die roete ontwikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

007 ·

Nou hoekom is die tol paaie dan in so swak toestand, seker om Fikile se hoë lewens standaard te onderhou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.