Covid-19: Kommer oor situasie in Oos-Kaap

(Argieffoto)

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sê hy is bekommerd oor die toename in Covid-19-gevalle in die Oos-Kaap.

Die minister en pres. Cyril Ramaphosa het die Wes-Kaap – waar 65% van Suid-Afrika se Covid-19-gevalle tot dusver aangemeld is – die afgelope week besoek en fokus nou op die Oos-Kaap.

Die Oos-Kaap het soortgelyke koronavirusgetalle as Gauteng, maar het die tweede hoogste sterftesyfer en sy ligging en verbintenis met die Wes-Kaap maak die provinsie veral kwesbaar, het Mkhize gesê.

Daar was boonop ʼn toename in die infeksiekoers onder gesondheidswerkers – in die staatsdiens én private gesondheidsorginstellings. Teen Saterdag het die Oos-Kaap 258 Covid-19-gevalle onder gesondheidswerkers gehad, asook 14 Covid-19-verwante sterftes.

Mkhize sal later vandeesweek terugkeer na die Oos-Kaap, terwyl sy adjunk weer die Wes-Kaap sal besoek.

Volgens Mkhize voer hulle deurlopend samesprekings met die LUR en direkteur-generaal vir gesondheid en hy ontvang daagliks ʼn verslag van die situasie in die Wes-Kaap. “Die provinsie word verdeel in brandpunte in sub-distrikte om ʼn gemeenskapsgeoriënteerde reaksie daarop te verseker. Desentralisering is veral belangrik vir landelike gebiede om te verseker daar is genoeg hulpbronne om die epidemie plaaslik te bestuur.”

Sedert sy laaste besoek aan die provinsie in April het die nasionale gesondheidsdepartement in die Oos-Kaap ingegryp en verskeie kenners daarheen gestuur om die provinsie te help.

Die provinsie het reeds twee groot besendings persoonlike beskermingstoerusting ontvang. Lede van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) werk saam met opsporingspanne en gemeenskapswerkers om siftingstoetse te doen, asook om die behoefte aan persoonlike beskermingstoerusting te bepaal.

Teen die begin van Mei was daar genoeg voorraad vir vier weke en die verkrygingsproses is versnel om te verseker dit bly só.

Twintig Kubaanse dokters is ook in die provinsie ontplooi en ʼn bykomende 840 verpleërs is na die Oos-Kaap gestuur.

Die agterstand by toetssentrums is reeds omtrent heeltemal uitgewis. In Port Elizabeth is die agterstand verminder van 13 000 tot 5 106 en teen Maandag behoort dit tot 4 000 verminder te word. Deur die loop van die week sal ook dié toetse na verwagting afgehandel word. Daar is egter steeds ʼn tekort aan toetsstelle en meer van dié toerusting sal na Oos-Londen gestuur word. Die provinsie maak ook gebruik van toerusting wat nié die kundigheid van ʼn patoloog benodig nie.

Talle noodsaaklike werkers pendel tussen die Wes-Kaap en ander provinsies en die Wes- én Oos-Kaap doen siftingstoetse langs provinsiale paaie. Die Wes-Kaap het nou ook ʼn program van stapel gestuur om seisoensreisigers te toets voordat hulle terugkeer na die Oos-Kaap.

Die provinsie se premiers vergader gereeld om beter maniere te vind om die uitwerking van interprovinsiale beweging op die verspreiding van Covid-19 te verminder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Die regering moet ophou om 100de duisende Oos-Kaapenaars vir stemdoeleindes na plakkerskampe in die Wes-Kaap te skuif. Hulle pendel gereeld tussen die 2 provinsies, so dis net vanselfsprekend dat dit tussen die 2 provinsies gaan verspei. Daar is nie ‘n plaasvervanger vir logika en gesonde verstand nie.

Jaco ·

Ek het gedink corona affekteer net die Wes-Kaap as ‘n soort van “straf” omdat die “rassistiese” DA daar in beheer is. So dis vreemd dat dit nou in die ANC-beheerde Oos-Kaap ook toeneem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.