Covid-19-kontaknasporing gestaak

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Luca Sola/AFP)

Die departement van gesondheid het ingestem om die nasporing en verpligte kwarantyn van mense met wie Covid-19-pasiënte in kontak was, met onmiddellike inwerktreding te staak. Dié hersienings geld egter nie in gevalle van groepuitbrekings nie.

Die departement het nou ook beslis dat persone wat in aanraking met ’n Covid-19-pasient gekom het, nie vir die koronavirus getoets hoef te word nie tensy hulle simptome begin ontwikkel.

Persone wat wel positief getoets het vir Covid-19, word steeds verplig om te isoleer.

Covid-19-pasiënte wat matige simptome toon en nié in die hospitaal opgeneem hoef te word nie,  word voortaan verplig om hulle agt dae lank te isoleer. Hulle moet deurgaans maskers dra. Dít terwyl persone wat ernstige simptome toon en hospitaliseer moet word, hulle tien dae lank sal moet isoleer.

Pasiente wat geen simptome toon nie, hoef hulself nie te isoleer nie.

Pasiënte sal ná hul isolasie toegelaat word om terug te keer werk toe sonder dat dit nodig is om ’n negatiewe toetsuitslag te toon.

Die departement het dié hersienings aan sy protokolle gemaak op aanbeveling van die nasionale koronavirusbevelsraad. Die hersienings geld vir ingeënte sowel as nie-ingeënte mense.

Dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal (DG) van die departement van gesondheid, sê in ‘n memorandum ’n groot aantal mense het reeds ʼn vorm van immuniteit teen Covid-19 ontwikkel en “inperkingstrategieë is nie meer gepas nie”, veral wanneer die nuwe Omikron-variant in ag geneem word.

Die DG het ook daarop gewys dat talle mense asimptomaties is, dat nie alle simptomatiese mense hulle laat toets vir Covid-19 nie terwyl nie alle negatiewe toetsuitslae ’n ware weerspieëling is nie.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig dat die sogenaamde opvolginentingsdosisse (aanspoor-inspuiting oftewel booster) van die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 reeds Vrydag vir Suid-Afrikaners beskikbaar is.

Van 28 Desember sal die nasionale inentingsprogram ook derde dosisse Pfizer-entstowwe aan enigiemand verskaf wat sy of haar laaste dosis minstens ses maande gelede ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.