Covid-19: Krisis dreig by Johannesburg-hospitaal

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg beleef tans ’n dringende tekort aan hospitaalpersoneel en sy bestuur is boonop bekommerd dat van die hospitaal se persoonlike beskermingstoerusting (PPE) nie op peil is nie.

Dít terwyl dié hospitaal tans die meeste Covid-19-pasiënte van al die hospitale in Gauteng behandel. Altesaam 280 pasiënte word tans in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal vir Covid-19 behandel. Verskeie personeellede het boonop reeds die koronavirus opgedoen.

Volgens Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het die hospitaal dié kwessies Dinsdag gedurende ’n voorlegging onder die aandag van die Gautengse wetgewer se gesondheidskomitee gebring.

Luidens die voorlegging het die hospitaal 7 132 goedgekeurde poste, maar 846 (12%) van dié poste is tans vakant. Dit sluit in agt uit 19 bestuursposte (42%) en 167 uit 886 administratiewe poste (20%).

Die hospitaal beleef ook ’n tekort aan 280 verpleegkundiges en 71 dokters. Hierdie tekort word net vererger deur die hoë aantal personeellede wat tans tuis aansterk nadat hulle positief getoets het vir Covid-19.

“Meer personeel word aangestel, maar volgens die voorlegging is die toegewese fondse minder as 50% van wat aanvanklik aangevra is. Die hospitaal probeer nou meer doen met minder te midde van Covid-19-infeksies onder personeel,” verduidelik Bloom in ’n verklaring.

Volgens Bloom sukkel die hospitaal boonop met verskaffers wat nie PPE-voorraad beskikbaar het nie of lank neem om die voorraad af te lewer en dan PPE van swak gehalte lewer.

“Dit wys hoe die swak keuse van PPE-verskaffers, waarskynlik weens korrupsie, die lewe van hospitaalpersoneel in gevaar stel,” meen Bloom.

Luidens die verklaring haas kontrakteurs hulle nou om 500 hospitaalbeddens aan die Chris Hani Baragwanath-hospitaal te verskaf. Dié beddens is bykomend tot die 480 van die hospitaal se 2 680 beddens wat aan Covid-19-pasiënte toegewys is. “Hierdie beddens benodig egter personeel wat nog nie deur die hospitaal aangestel is nie.”

Volgens Bloom word ander staatshospitale in Gauteng deur dieselfde uitdagings in die gesig gestaar.

“Die werklikheid is dat jare lange verwaarlosing en swak personeel in ons hospitale die stryd belemmer om soveel lewens moontlik te midde van die Covid-19-pandemie te red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

Onthou, vir die meeste is dit net ‘n ‘job’ en nie roeping nie en die vir wie dit ‘n roeping is mag of nie opgelei word nie of mag nie indiens geneem word nie. So, ANC kry vir julle. En julle was glo gereed vir dié.

Adam Adriaan ·

Dit is hoe die ANC/EFF alles tot in die afgrond in dompel. Hulle weet nie of hulle Athur of Mathur is nie. Al wat hulle weet is om te roof en te plunder

sopbeen ·

Hulle sal nooit erken dat “hulle” die oorsaak is dat alle staats instansies in ‘n gemors is nie. Dit sal altyd apartheid se skuld wees.

Jakes ·

Help my asb reg. Hulle behandel tans 280 Covid gevalle in Baragwanath hospitaal. Daar was 2680 beddens toegeken. Dis volgens hierdie berig. Nou hoe kan daar n tekort aan beddens wees as daar net 280 mense behandel word

Jackie ·

En hulle wil n Nasional Gesondheid Versekering in werking stel? As dit nie was dat Tom Moyane in die pad gesteek is nie, sou die enigste amper funksionerende dept ook reeds geflop het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.