Covid-19-krisis ruk Eskom se sak

Die Lethabo-kragsentrale, noordoos van Sasolburg. (Argieffoto: Google Maps)

Eskom en Transnet se vermoë om ʼn inkomste te verdien gaan geweldig aan bande gelê word deur die ekonomiese gevolge van die Covid-19-gesondheidskrisis, het die adjunkminister van openbare ondernemings, Phumulo Masualle, Woensdag gesê.

Masualle het aan die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê die sukkelende kragvoorsiener se situasie word vererger deur die afsonderingstydperk wat gelei het tot die grootskaalse sluiting van maatskappye asook huishoudings en munisipaliteite se onvermoë om vir krag te betaal.

“Die opskort van ekonomiese aktiwiteite beteken ʼn nuwe uitdaging vir Eskom,” het hy gesê.

Masualle sê Eskom kon minstens die tyd gebruik om instandhoudingswerk tydens die afsonderingstydperk te doen, wat beteken hy gaan ʼn groter kapasiteit hê wanneer die ekonomie weer heropen.

Volgens Masualle gaan die krisis alle staatsbeheerde ondernemings raak, asook die regering se pogings om dié ondernemings in lewensvatbare, selfstandige ondernemings te verander. Transnet is veral ʼn bron van kommer.

Die sluit van hawens en die handelsbeperking beteken minder vrag kom die land binne en Transnet se toekoms hang nou af van hoe die heropening van die ekonomie hanteer word.

Hy sê Tito Mboweni, minister van finansies, se hersiene begroting wat binnekort voorgelê word, gaan meer lig werp op die departement se strategie oor die toekoms van staatsbeheerde ondernemings.

Die bestaande meesterplan en begrotingstoewysings is verlede jaar al afgehandel en het nie die wêreldwye gesondheidskrisis in berekening gebring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Jy kan nie nog van die belastinbetaler kry nie Eskom, want hulle het ook nie meer geld. Party van hulle le in hospitale (veral die kinders) met vanwoeding, party kan nie vandag ‘n grondboontjie toebroodtjie of piesang kry nie want die ANC het die deure gesluit. Ander het net in April halwe salaris gekry. en is in Mei afgedank soe daar is nie meer geld. Ons wonderlik ANC moet nog hulle lugredery bou wat uit die as van SAL gaan opstaan, en nou skreeu Denel nog vir reddings paket om hulle werkers te betaal. Maar wag daar is uitweg….miskien kan julle die pensioen van julle werkers kaal stroop. Die probleem met die NCCC is dat die 19 wat daar sit nie net konsentreer op Covid-19 nie, maar moet nou nog konsentreer om die land kommunistiese te draai. Hulle DINK ons is stupid!

Scalla ·

Is dit dalk nie die geval dat covid 19 gebruik word as verskoning om hul onvermoe te verberg nie???

Wondermaarnet ·

Covid 19 word in baie opsigte misbruik as verskoning. Siele wat altyd swak op skool presteer het is vreeslik bekommerd dat hulle sal druip en dit agv Covid 19 sê hulle.

Tokkel ·

Ag Eskom, as ‘n voëltjie op die draad kom sit gooi dit julle appelkar om..Julle is soos SAL soek net nog geld en geld en julle kom met niks te voorskyn nie..Privatiseer Eskom, dalk sal hulle dan wakker skrik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.