Covid-19: KZN nou meeste aktiewe gevalle

‘n Kennisgewingbord by ‘n skool in KwaZulu-Natal. (Foto: ANA)

KwaZulu-Natal blyk die nuwe episentrum van die koronavirus in Suid-Afrika te wees met die meeste aktiewe gevalle Covid-19 in die land tans in dié provinsie aangemeld.

Meer as 43 000 pasiënte in KwaZulu-Natal het in dié stadium Covid-19. Dít terwyl die Wes-Kaap, wat oorspronklik die episentrum van die koronavirus was, nou net minder as 8 000 aktiewe gevalle het.

KwaZulu-Natal het die afgelope week ’n beduidende toename in bevestigde gevalle aangeteken, hoewel die provinsie nog nie soveel pasiënte aan Covid-19 verloor het as ander provinsies nie.

Aktiewe gevalle

Altesaam 572 865 bevestigde gevalle Covid-19 is teen Donderdagaand in Suid-Afrika aangemeld.  Minder as ’n kwart van dié gevalle (123 978) is egter aktief. Dit beteken die oorgrote meerderheid van pasiënte het reeds van die virus herstel.

Luidens die jongste statistieke staan die getal aktiewe gevalle in KwaZulu-Natal tans op 43 145.

Dr. Zweli Mkhize gedurende ‘n besoek aan die Clairwood-hospitaal in KwaZulu-Natal. (Foto: Doctor Ngcobo/African News Agency)

Dít vergeleke met die 38 637 pasiënte in Gauteng wat op hierdie oomblik aan Covid-19 ly. Dié provinsie was verlede maand nog die episentrum van Covid-19 in Suid-Afrika met die meeste aktiewe gevalle van al die provinsies.

Maroela Media het in Julie berig dat Gautengse pasiënte reeds vinniger begin herstel het as wat nuwe Covid-19-gevalle in dié provinsie aangemeld is.

ʼn Beduidende afname in die gemiddelde aantal gevalle per week kan vanaf sowat ʼn maand gelede in Gauteng se statistieke opgemerk word. Soveel so dat slegs 19,7% van Gauteng se 195 820 bevestigde gevalle in dié stadium aktiewe gevalle is.

Dít terwyl 42% van KwaZulu-Natal se 102 233 bevestigde gevalle tans aktiewe gevalle is.

Gauteng het die afgelope week net oor die 8 000 nuwe gevalle Covid-19 aangemeld, met ʼn daaglike gemiddeld van 1 170. Dit is baie minder as die daaglikse gemiddeld van tussen 4 000 en 6 000 wat ʼn paar weke gelede aangemeld is.

KwaZulu-Natal het op sy beurt die afgelope week meer as 12 000 nuwe gevalle aangemeld, met ʼn daaglikse gemiddeld van 1 731. Dié provinsie het tussen verlede Vrydag en Saterdag 2 804 nuwe gevalle aangeteken.

Die Clairwood-hospitaal in Durban, KwaZulu-Natal. (Foto: Bongani Mbatha/African News Agency)

Die Vrystaat het tans die derde meeste aktiewe gevalle Covid-19 (14 662) in Suid-Afrika, gevolg deur Noordwes met 9 774 aktiewe gevalle.

Altesaam 7 941 pasiënte in die Wes-Kaap het in dié stadium Covid-19.

Die Noord-Kaap het nou 3 252 aktiewe gevalle, gevolg deur Mpumalanga (3 150), die Oos-Kaap (2 217) en Limpopo (1 150).

Sterftes

Dit lyk of die Wes-Kaap, Gauteng en die Oos-Kaap in dié stadium die meeste pasiënte weens  Covid-19  aan die dood afgestaan het.

Altesaam 3 506 pasiënte het tot op hede in die Wes-Kaap weens die koronavirus omgekom.

Gauteng se sterftesyfer staan tans op 2 791, gevolg deur KwaZulu-Natal (1 563). Die Oos-Kaap het in dié stadium 2 400 mense weens Covid-19 aan die dood afgestaan.

Die Noord-Kaap het die minste Covid-19-pasiënte van al die provinsies (76) aan die dood afgestaan.

Die land se dodetal staan tans op 11 270.

Sterftes en persone wat herstel het:

ProvinsieSterftesHerstel
Oos-Kaap2 40078 385
Vrystaat47614 911
Gauteng2 791154 392
KwaZulu-Natal1 56357 525
Limpopo1419 728
Mpumalanga16716 794
Noordwes15012 559
Noord-Kaap763 794
Wes-Kaap3 50689 529
Totaal11 270437 617

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jackie ·

Die regering se hulp mbt covid-19 finansiële bystand is streng volgens BBEEE maatstawwe, maar met statistiek tov covid is hulle doodstil. Die statistiek kan baie beteken om lokale brandpunte te identifiseer en kan help om die nodige maatreëls toe te pas. Dit hoef nie aan die groot klok gehang word nie, maar ek hoop die persone wat voorkomende maatreëls moet instel gebruik die statistiek.

pokkel ·

ek weet dis erg om mense aan die dood af te staan, maar as mens kyk na die getalle voel dit tog vir my asof ons dalk effe oorreageer het hierso, meer mense het seker al hul werk verloor as wat dood is aan COVID, ek weet van rokers en ou mense in die ouetehuis wat dit oorleef het sonder enige simptome en voor jy Amerika se getalle aanhaal, verwerk dit eers na persentasies, want hul bevolking is veel groter en hul stede veel digter bevolk, en selfs die lande wat die ergste getref is se sterftesyfers lyk nie so erg soos wat dit volgens my behoort te wees om die histerie te regverdig, so kan ons nie maar voortgaan met ons lewens, dra jou masker in die winkel, hou jou afstand, was jou hande, moenie op ander mense hoes nie, maar wegkruip lyk nie na ‘n oplossing nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.