Covid-19: Lande begin ook hul grense vir SA sluit

Argieffoto (Foto: Nick Zigic/Pixabay)

Duitsland het besluit om ’n reisverbod vir Suid-Afrika in te stel nadat ’n nuwe variant van die koronavirus ook hier kop uitgesteek het.

Jens Spahn, die Duitse minister van gesondheid, het Maandag bevestig alle reisigers vanaf die Verenigde Koninkryk (VK) en Suid-Afrika sal verbied word om Duitsland binne te gaan weens die nuwe variant van die koronavirus wat glo 70% meer aansteeklik is as die vorige.

Dit is nie in die stadium duidelik wanneer die verbod vir Suid-Afrikaanse reisigers opgehef sal word nie, hoewel die verbod vir die VK tans tot 31 Desember geld.

Duitsland beleef ook sy tweede golf van koronavirus-infeksies en skole en nie-noodsaaklike ondernemings se deure is gesluit in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan.

“Die prentjie sal aansienlik verander sou pasiënte veel vinniger besmet word,” meen Spahn.

Duitsland is nie die enigste land wat in dié stadium Suid-Afrikaanse reisigers toegang weier nie.

Die Israelse regering het Sondag gesê hy verbied buitelandse burgers wat van Brittanje, Denemarke en Suid-Afrika reis om Israel binne te kom. Dié verbod sal in die stadium sewe dae lank van krag wees.

Israelse landsburgers sal gedurende dié tydperk wel toegelaat word om hul land binne te kom, maar sal onderwerp word aan verpligte kwarantyn in hotelle wat deur die land se weermag bestuur word en as kwarantynsentrums dien.

“Die doel van die besluit is om te verhoed dat die nuwe variant Israel vanuit die buiteland binnekom. Terselfdertyd word die moontlikheid ondersoek dat die nuwe variant reeds in Israel is.”

Meer as 370 000 pasiënte in Israel het reeds positief getoets vir Covid-19 sedert die eerste bevestigde geval in Februarie in dié land aangemeld is. Covid-19 het net meer as 3 000 lewens vanjaar in Israel geëis.

El Salvador in Sentraal-Amerika het intussen ook aangedui dat mense wat die afgelope 30 dae in Suid-Afrika was vir eers nie in dié land toegelaat sal word nie.

Dít terwyl Turkye se minister van gesondheid, Fahrettin Koca, bevestig het dat alle vlugte vanaf Suid-Afrika tot verdere kennisgewing opgeskort word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.