Covid-19: Lesufi toets negatief; skool gesluit

lesufi-deur-ana-2019-03-11

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys. (Foto: ANA)

Die Gautengse departement van onderwys het in ʼn verklaring bevestig dat Panyaza Lesufi, provinsiale LUR vir onderwys, negatief getoets het vir Covid-19.

Lesufi het vanaf 9 Junie begin self-isoleer ná ʼn toets gedoen is. “Die uitslag van die toets is Saterdag bekend gemaak en daar is bevestig dat hy negatief getoets het,” het Steve Mabona, woordvoerder vir die departement, gesê.

Lesufi sal Sondag ook die familie besoek van ʼn graad 7-leerling van Kokosi Primary School wat Donderdag oorlede is.

Mev. NS Groenewald, skoolhoof van Boekenhout Primary School in Eldoradopark, het intussen gesê vier van die skool se onderwysers het positief getoets vir Covid-19. “Die onderwysers was nog tot Dinsdag by die skool en was in kontak met alle onderwysers.”

Groenewald het gesê die onderwysers het hul huisdokters besoek en daar is aangeraai dat hulle getoets moet word. “Hulle het hul uitslae Saterdag ontvang. Ek het die uitslae met die skoolbeheerliggaam en betrokke beamptes by die departement van onderwys bespreek en hulle het aangeraai dat alle akademiese aktiwiteit by die skool opgeskort moet word.”

Die skool is tot verdere kennisname gesluit.

Mnr. J Crisp, skoolhoof van Lancea Vale Secondary School, ook in Eldoradopark, het in ʼn omsendbrief aan ouers gesê ʼn personeellid het positief getoets vir Covid-19. “Die onderwyser was op 8 Junie by die skool en het die skool omstreeks 11:30 verlaat. Die skool is op 12 Junie in kennis gestel dat die onderwyser positief getoets het vir Covid-19.”

Die onderwyser het nie skoolgehou nie en geen matrikulant was in kontak met die persoon nie.

“Die saak is na die distrikskantoor verwys en die departement van gesondheid sal toetse doen volgens hul sifting- en toetsingsprotokol.”

Matrikulante en die personeel sal Maandag terugkeer skool toe.

“Ons wil ouers gerusstel dat die skool (kantore, klasse, personeelkamers en badkamers) daagliks ontsmet word. Die matrikulante se klasse word tydens die twee pouses en ná skool ook ontsmet, kragtens Covid-19-veiligheidsprotokol,” het Crisp verduidelik.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Agge nee ·

Kan Maroela nie asb in die gewoonte kom om te sê Skool tydelik gesluit ipv Skool gesluit. Dit kry net almal se “knickers in a knot” en dan word dit wyd en syd op Facebook verkondig. Soveel skole is gesluit, teen daardie tyd wat die hele onderwysbevolking flou val, is die skool alweer oop.

Francois ·

Dis so onregverdig. Die grootkoppe kan hulle uitslae bine 24-48 uur kry maar baie landsburgers mort tot 10 dae wag

Vranet ·

Die skole was vir byna 3 maande toe. Volgens berigte lewe die virus nie langer as ‘n paar uur op hout-, staal-, of sintetiese oppervlaktes nie. Waarom miljoene Rand spandeer om skole te ontsmet? Net nog ‘n geleentheid wat deur die ANC geskep word, om sy tenderpreneurkaders, die geleentheid te gee om die belastingbetalers se geld te mors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.