Covid-19: Limpopo-dokter herstel volkome

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

ʼn 28-jarige dokter wat die eerste persoon was om positief te toets vir Covid-19 in Limpopo, het ten volle herstel.

Die dokter het positief getoets nadat hy van Europa na Limpopo teruggekeer het.

Volgens dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, is die dokter intussen weer vir Covid-19 getoets en was die uitslag negatief.

Ramathuba het gesê die dokter het onmiddellik na sy terugkeer van Europa homself begin isoleer. Hy het hierna positief getoets en voortgegaan met selfisolasie. Hy is ná sy isolasie weer getoets en volgens Ramathuba is hy gereed om nou weer deel te word van die samelewing.

“Hierdie is ʼn teken van hoop vir die gemeenskap om te sê as ons dit reg doen kan ons die verspreiding van die virus beheer.”

Limpopo het tans 13 bevestigde Covid-19-gevalle, insluitend die geval van die dokter. Volgens Ramathuba is slegs een van die gevalle vermoedelik weens plaaslike oordrag. Daar word egter nog ondersoek gedoen om vas te stel of dit wel so is.

Ses van die bevestigde gevalle in die provinsie is in die Waterberg-distrik. “Drie van die gevalle is ʼn Wes-Kaapse gesin wat na Europa gereis het en by hul terugkeer hulself in isolasie geplaas het op ʼn plaas in die distrik.” Die ander drie gevalle is ʼn Japanse burger wat na sy tuisland gereis het, ʼn Australiese burger wat ook na sy tuisland gereis het en ʼn Zimbabwiese burger wat onlangs in Suid-Afrika aangekom het.

Daar is tans vier bevestigde gevalle in die Capricorn-distrik, wat die dokter insluit. Die ander drie is ʼn 44-jarige vrou wat na Londen gereis het. Volgens Ramathuba het die vrou nie onmiddellik met selfisolasie begin nie. Sy het wel met selfisolasie begin nadat sy positief getoets het. Almal met wie sy in kontak was is opgespoor en getoets en volgens Ramathuba het niemand positief getoets nie. Die ander gevalle is ʼn 44-jarige wat op ʼn passasierskip na die Portugese eilande gereis het en ʼn 54-jarige man wat na Nigerië gereis het.

In die Vhembde-distrik is daar twee bevestigde gevalle. ʼn 54-jarige vrou wat na die VSA gereis het en ʼn 45-jarige vrou met geen reisgeskiedenis nie het albei positief getoets. Die 45-jarige vrou is die persoon wat vermoedelik plaaslik aan die virus blootgestel is.

Slegs een bevestigde geval is al in die Mopani-distrik aangemeld. Dit is ʼn 30-jarige man wat in Gauteng getoets is en nie met selfisolasie begin het nie, maar eerder na Limpopo teruggekeer het. “Hy is sedertdien in hegtenis geneem en na ʼn isolasie-perseel by die Modimolle MDR TB-hospitaal geneem. Daar word intussen gepoog om mense met wie hy in kontak was op te spoor en te toets.”

Sekhukhune is die enigste distrik in die provinsie waar daar nog geen bevestigde gevalle aangemeld is nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

Nou as die dokter volkome herstel het us dit mos nie altyd dodelik nie dis dieselfde in china wat al vir geeuime tyd weer op en running is nadat almal gedink het dis die einde vd wereld

Chantel ·

Nie vir almal nie, jy is reg. Lees asb al die inligting gepubliseer deur die WHO, dit help om mens meer perspektief te gee. Sterkte vir jou en jou gesin. Ons almal moet hoop

Cecil ·

Dit beteken nie dat deurdat die Dr herstel het ons kan voirtgaan en doen wat ons wil nie.
Dinge is nog nie reg nie maar sal reg kom na n tyd.

Sean ·

Maroela kan julle asb uitvind wat se wenke die dokter kan gee indien iemand posetief getoets word asb Op die stadium het ons n berg vol rate en weet nie werklik wat werk en werk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.