Covid-19: Mag ek weier om terug te keer werk toe?

Argieffoto (Foto: Engin Akyurt/Pixabay)

’n Komplekse regsproses ontvou, sou ’n werknemer bloot weier om nie terug te keer werk toe nie uit vrees dat hy of sy die nuwe koronavirus by die werk kan opdoen.

Volgens ’n regskenner sal werknemers wat weier om ná die algehele landwye afsondering terug te keer werk toe, redelike regverdiging moet kan toon dat hulle by die betrokke werkplek aan Covid-19 blootgestel gaan word. Dit sal egter baie moeilik of selfs onmoontlik wees om te doen.

Kenneth Coster verbonde aan die regsfirma Webber Wentzel waarsku werkgewers terselfdertyd dat wettige bepalings wat werknemers toelaat om aan ’n gevaarlike werksituasie te onttrek binne die konteks van Covid-19 moontlik deur werknemers of vakbonde uitgebuit kan word.

Dit is omdat werkgewers verplig sal word om werknemers te vergoed wanneer hulle hul dienste onttrek op grond van die oortuiging dat hulle Covid-19 by die werkplek kan opdoen.

Werkgewers kan dus slegs vergoeding staak indien hulle kan bewys dat werknemers in kwade trou opgetree het. Dit sal egter óók baie moeilik of selfs onmoontlik wees om te doen, verduidelik Coster.

Hy wys daarop dat die Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne en die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid werknemers die reg gee om hul dienste aan ’n gevaarlike werkplek te onttrek.

Die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid bepaal wel dat werknemers dit slegs mag doen mits hulle redelike regverdiging kan toon dat hul veiligheid in gedrang is by die betrokke werkplek. “Die wet vereis ook dat werknemers met werkgewers ’n gesprek voer oor die kwessie om die gevaar uit te klaar sodat werk veilig uitgevoer kan word,” verduidelik Coster.

Kenneth Coster (Foto: Verskaf)

Die Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne gee ook nie die werknemer ’n uitdruklike reg om aan ’n gevaarlike werkplek te onttrek nie, maar vereis dat hy of sy eers die situasie by die werkgewer of gesondheids- en veiligheidsverteenwoordigers aanmeld.

“Die eerste probleem met die bestuur van gevaar in die werkplek wat Covid-19 betref, is dat dit onsigbaar is omdat dit ’n mikroskopiese virus is en sommige mense geen simptome toon nie. Die tweede probleem is dat ons weet dit is baie aansteeklik, al weet ons nog relatief min van die virus,” verduidelik Coster.

“Na ons mening is dit egter onmoontlik vir werknemers om redelike regverdiging te toon oor hoekom hulle aan die werkplek onttrek as daar nie objektiewe kriteria is nie,” verduidelik Coster.

“Slegs as werknemers simptome van die virus aan hul medewerkers toon of positief getoets het vir Covid-19 en die inligting word bekend aan hul medewerkers, kan die medewerkers redelike regverdiging toon om aan die werkplek te onttrek.

“Selfs dan kom dit nie noodwendig op redelike regverdiging neer as die werkgewer die toepaslike stappe gedoen het soos die ontsmetting van die werkplek en siftingstoetse vir alle werknemers wat met die besmette werknemers in aanraking gekom het nie,” volgens Coster.

Hy doen die volgende aanbevelings aan werkgewers:

  • Tree in gesprek met die regering om duidelike parameters te stel oor wat aanvaarbare maatreëls sal wees om ’n veilige werkplek te vestig en te onderhou.
  • Doen ’n risikobepaling voor werknemers terugkeer werk toe, spesifiek wat die hantering van moontlike onveilige gebiede of toestande betref. Verseker dat die nodige veiligheidsmaatreëls ingestel is. Dit sluit in die beskikbaarheid van persoonlike beskermende toerusting, die handhaaf van sosiale afstand en goeie handhigiëne.
  • Voldoen aan alle vereistes soos voorgeskryf in die departement van arbeid se direktief vir veiligheid en gesondheid, waar van toepassing.
  • Bring gereeld gesondheids- en veiligheidskomitees byeen om die werkplek proaktief te monitor en om enige kommer wat deur werknemers rakende Covid-19 geopper word, aan te raak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem ·

Kyk hoe gaan dit niu op myne. Ek gaan afsiek boek voor ek terug gaan werk toe

marius ·

Die gewone mense is platgevee deur hierdie gemors wat met wetgewing in hul kele afgedruk is , en dan is die onus nog op hulle ook ? Wie gaan die werknemers beskerm ? Waarom word die myne waar trosbesmetting plaasvind nie permanent gesluit nie ? Wat se regres regte het die mense , en hoe baklei hulle teen ‘n stelsel wat geheel en al disfunksioneel is ? As ‘n fondasie vou is dit baie vinnig voor die luukse suite waar die ryk en belangrikes wegkruip homself te pletter val !

Danie ·

Dit is nou sommer vertraag. Jy kan hierdie virus enige plek kry. Ek is al keelvol vir hierdie mense wat wil God speel. Nou kom hulle as jy oor 60 is moet jy eerder by die huis bly, maar nou gaan daai oupa gou n brood koop en daar kry hy die virus. Nee man laat almal gaan verplig word om te gaan werk sodat ons die ekonomie aan die gang kan kry en vir die wat nou so bang is kry geloof man God is die gewer en nemer van lewe maar dit is omdat julle Hom nie ken nie. Ek is oor 60 en wil ook nie nou doodgaan nie maar kom ek vertel jou as jou tyd daar is dan is hy daar. Die jare daar in Angola skiet hulle n vriend hy beland in 1 militere hospitaal sterk aan en gaan huis toe n week voor hy moet terug grens toe ry n bus hom dood. Dus bly nou in jou huis en wag vir 18 maande om hopelik onslae te raak van die virus en dan loop jy lekker uit jou huis en die volgende oomblik slaan die weer jou dood.

Francois ·

Kruisig my maar ek glo almal het die reg op lewe en keuse. As jy wil gaan werk en betaal word is ek 100% agter jou maar as jy voel jy wil nie gaan werk en sodoende geen salaris kry is dit jou keuse maar moenie namens almsl besluit wie wil en mag gaan werk nie. Gun elkeen sy eie besluit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.