Covid-19: Meer as 1 miljoen sterftes wêreldwyd

‘n Man staan by ‘n doodskis in Barcelona, Spanje. (Foto: AP Photo/Felipe Dana, File)

Covid-19 het sedert die uitbreking van die pandemie sowat nege maande gelede in Wuhan, China, reeds meer as 1 miljoen lewens oor die wêreld heen geëis.

Die gesaghebbende Johns Hopkins-Universiteit in die VSA het Dinsdagoggend aangedui dat die wêreldwye dodetal tot 1 001 821 gestyg het.

Dié aantal sterftes is meer as die bevolking van Jerusalem, meer as vier keer die aantal mense wat tydens die aardbewing en tsoenami in 2004 in die Indiese Oseaan dood is en meer as 335 keer die aantal mense wat destyds in die 9/11-aanvalle in New York omgekom het.

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het die dodetal as ’n verbysterende syfer beskryf. “Hulle was pa’s en ma’s, vrouens en mans, broers en susters, vriende en kollegas.

“Die pyn is vermenigvuldig met die wreedheid van hierdie siekte. Die risiko van besmetting het gesinne van hul geliefdes se siekbeddens weggehou. En die proses van rou en die viering van ’n lewe is dikwels onmoontlik gemaak.”

‘n Priester spreek sy seën uit oor doodskiste in Italië. (Foto: AP Photo/Antonio Calanni, File)

Altesaam 205 085 van die sterftes is in die VSA aangemeld, gevolg deur 142 058 in Brasilië, 96 318 in Indië, 76 603 in Mexiko en 42 090 in die Verenigde Koninkryk.

Italië, wat in ’n stadium die episentrum van die virus was, het 35 851 pasiënte aan Covid-19 afgestaan.

Maroela Media het vroeër vandag berig 16 586 pasiënte het reeds op tuisbodem weens Covid-19 gesterf.

“Die syfers het hul krag verloor om te skok, maar ek dink tog dit is baie belangrik dat ons verstaan ​​hoe groot hierdie getalle werklik is,” sê Mark Honigsbaum, skrywer van The Pandemic Century: One Hundred Years of Panic, Hysteria and Hubris.

Daar is tans meer as 33 miljoen bevestigde Covid-19-gevalle in 213 lande en gebiede reg oor die wêreld. Kenners waarsku boonop dat die werklike aantal gevalle waarskynlik hoër is aangesien nie alle Covid-19-gevalle opgetel of aangemeld word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacobus

Dit is bitter om ‘n naasbestaande te moet groet. Wanneer ‘n mens na die wêreld se bevolking, wat hoeka baie te veel is, kyk, help die sterftes die mensdom en die aarde niks nie.

Rosie

Mens kan dink wat jy wil maar kan nie sê wat jy wil nie