Covid-19: Meer as 14 miljoen wêreldwyd doen reeds virus op

(Foto: Adhy Savala/Unsplash)

Suid-Afrika was teen Saterdag op pad om een van die vyf lande te wees wat die meeste deur Covid-19 geraak word en die feit dat meer as 14 miljoen mense wêreldwyd reeds die virus opgedoen het, wys dat ʼn terugkeer na ʼn lewe voor Covid-19 waarskynlik nog lank nie ʼn moontlikheid is nie.

Volgens die Johns Hopkins-universiteit staan die wêreldwye dodetal in hierdie stadium op 601 820 en ʼn verbysterende 14 060 402 mense het al Covid-19 opgedoen.

Die VSA het steeds die meeste gevalle – altesaam 3 641 539 Covid-19-gevalle is bevestig – en 139 176 mense in die VSA het weens die virus gesterf. Die VSA word gevolg deur Brasilië, met meer as 2 miljoen bevestigde gevalle en ʼn dodetal van oor die 77 000.

Lande met meer as 300 000 gevalle sluit in Indië, Rusland, Peru, Suid-Afrika, Mexiko en Chili. Suid-Afrika het teen Vrydagaand 337 594 bevestigde Covid-19-gevalle gehad. Die land se sterftetal staan in hierdie stadium op 4 804.

Suid-Afrika gaan Peru na verwagting binnekort verbysteek.

Engeland, Mexiko, Italië en Frankryk het volgens die universiteit elk reeds meer as 30 000 sterftes.

Talle kenners meen die syfer kan wêreldwyd veel hoër wees weens ʼn tekort aan toetse. En waar verskeie lande hul afsonderingsregulasies probeer verslap, volg ʼn vlaag nuwe infeksies dikwels.

Suid-Afrika se nuwe virus-episentrum is Gauteng, tuiste van nagenoeg ʼn kwart van die land se algehele bevolking en waar duisende arm mense opmekaar leef. Die Desmond en Leah Tutu-stigting het vroeër gewaarsku dat baie Suid-Afrikaners uiters kwesbaar vir die virus is omdat dit vir hulle bloot onmoontlik is om te voldoen aan regulasies oor higiëne en sosiale afstandhandhawing.

Suid-Afrika is ook verantwoordelik vir nagenoeg die helfte van die hele vasteland se Covid-19-gevalle en dit kan ʼn aanduiding wees van wat voorlê vir ander Afrika-lande wat met selfs minder hulpbronne moet sien kom klaar.

Die epidemioloog John Edmunds, ʼn lid van die Britse regering se noodadviesgroep, het vandeesweek gesê sonder ʼn entstof teen die virus gaan voor-pandemie-normaliteit nog lank nie ʼn werklikheid wees nie.

Bronne: Xinhua, AP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Hierdie syfers verteenwoordig 3,9% sterftes uit bevestigde gevalle. Alle bronne bevestig dat gewone griep se sterfsyfer tussen 9 en 13% van bevestigde gevalle is. Waar is die perspektief?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.