Covid-19: Meer as drie miljoen in Noordwes gesif

(Argieffoto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

Meer as drie miljoen mense het tot dusver siftingstoetse vir Covid-19 in Noordwes ondergaan.

“Dit is baie goeie vordering gegewe die algehele bevolking van Noordwes wat nou net minder as vier miljoen is,” het Thapelo Lekgwethwane, woordvoerder van die departement van gesondheid in Noordwes, gesê.

Uit dié getal is 2 636 vir toetse verwys.

Lekgwethwane het gesê massasiftingstoetse en die opspoor van diegene wat met Covid-19-pasiënte in aanraking gekom het, is die sleutel tot die bekamping van die vinnige verspreiding van die virus.

Noordwes se laboratoriumbevestigde Covid-19-gevalle is minder as 1% van Suid-Afrika se algehele gevalle.

Bojanala bly die koronavirus-episentrum van die provinsie met 60% van gevalle, gevolg deur die Dr. Kenneth Kaunda-distrik met 30% van gevalle.

“Uit die bevestigde gevalle word 38% verbind met trosuitbrekings van gevalle by myne by Bojanala Platinum.”

Teen Donderdagaand was die getal bevestigde Covid-19-gevalle in Noordwes 364 en een sterfte is aangemeld. Tot dusver het 59 mense in die provinsie van die virussiekte herstel.

Die syfer het gestyg nadat 74 bevestigde gevalle wat voorheen aan Gauteng toegeken is, na Noordwes oorgeskuif is. Die meeste van dié gevalle word verbind met myne in die Rustenburg-omgewing.

Lekgwethwane het gesê myne het brandpunte vir die virus in die provinsie geword en groter pogings is nodig om die verspreiding daarvan na die res van die myngemeenskap te voorkom.

Die provinsie het reeds sy aantal beskikbare hospitaalbeddens verhoog in samewerking met die private sektor en mynmaatskappye. Noordwes het ook probeer verseker dat hy genoeg voorraad het van medisyne wat gebruik word om Covid-19-komplikasies te behandel.

Noordwes is ook besig om bykomende suurstofpunte en ventilators aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Werklik? Meer as 3 miljoen getoets in Noordwes? Hahahahaha……!!!!! Say no more!

Baardman ·

Lees mooi, 2636 is verwys vir toetse, 3 miljoen is “gescreen”

Anoniem ·

Ja Baardman daar is ‘n groot verskil tussen “gescreen” en “getoets.

Trotse Boervrou ·

Jammer vir die verkeerd lees maar gescreen of getoets of wat ookal. Ek glo geen woord wat hul sê nie. Ons almal weet mos wat die ware toedrag van sake is…

TRP ·

Ek stem noggal saam, as ‘n inwoner van NW, die mense was oral in ons strate en mense het hulle samewerking gegee, al was dit op dag 64.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.