Covid-19-samevatting: Meer duidelikheid oor 10 000 veldwerkers

(Foto: Timothy Bernard/ANA)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Dinsdag meer duidelikheid gegee oor die ontplooiing van 10 000 veldwerkers wat mense vir die nuwe koronavirus gaan help toets.

Veldwerkers

Groot kommer heers sedert pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat misdadigers hulle as Covid-19-veldwerkers kan voordoen en mense beroof. Daar was reeds slenters waartydens booswigte hulself as mediese personeel voorgedoen het om toegang tot eiendom te bekom en mense te probeer beroof of ander leed aan te doen.

Mkhize sê in dié stadium gaan veldwerkers net siftings en nié toetse vir die virus doen nie. Enigiemand wat vermoedelik Covid-19 onder lede het sal na ʼn kliniek of hospitaal verwys word.

Volgens Mkhize is 5 400 veldwerkers reeds gemobiliseer en ʼn toetslopie is in Gauteng gedoen. Daar is tydens dié toetsfase beoog om tien huishoudings per uur te besoek en die minster sal die uitkoms van die toetsprojek vandag bestudeer om die doeltreffendheid daarvan te bepaal en toekomstige ontplooiings uit te stippel.

(Foto: Unsplash)

Diepsloot en Khayelitsha word volgende besoek en teen Vrydag hoop die departement om ander dig bevolkte gebiede wat kommer wek te besoek.

Die eerste mobiele toetseenhede word intussen Donderdag in die Vrystaat bekend gestel.

Die minister het ook die versekering gegee dat alle veld- of gesondheidswerkers wat met Covid-19-positiewe pasiënte in kontak kom, die nodige persoonlike beskermingstoerusting sal hê.

Daar is in dié stadium ʼn wêreldwye tekort aan sulke toerusting. “Ons wil ons gewaardeerde gesondheidsorgwerkers gerusstel dat hul veiligheid ʼn top-prioriteit is omdat ons nie kan bekostig om een van hulle weens Covid-19 of enige ander siekte te verloor nie,” het Mkhize gesê.

Kurwe plat af

Teen Dinsdagaand het Suid-Afrika ʼn bevestigde 1 353 Covid-19-gevalle gehad. Dit is ʼn styging van 46 van die vorige syfers wat bekend gemaak is. Vyf sterftes weens die virus is aangemeld.

Mkhize sê die departement is “versigtig optimisties” dat as daar na die dag se syfers gekyk word, die getal besmettings nie so vinnig toeneem as wat aanvanklik voorspel is nie. “Ons moet egter in ag neem dat ons nou die winter binnegaan en dít kan die dinamika beduidend verander.”

Mkhize sê ook as daar na ander lande se stappe gekyk word, kan Suid-Afrika die kurwe van besmetting laat afplat as al die regulasies wat die regering daaroor afgekondig word, nagekom word.

Hy het weer ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om tuis te bly.

(Foto: Denis Balibouse/Keystone via AP)

Passasierskepe

Intussen het die departement ʼn dringende beroep gedoen op passasiers wat onlangs op die MSC Orchestra gevaar het om die departement van gesondheid in onderskeidelik die Vrystaat en KwaZulu-Natal dringend te kontak.

Mkhize sê daar was twee bevestigde Covid-19-gevalle aan boord van dié skip.

Die eerste vaart het die Durbanse hawe op 28 Februarie op ʼn reis na die Portugese eilande verlaat en op 2 Maart teruggekeer.

ʼn Tweede vaart op dieselfde skip het op 13 Maart vertrek en op 16 Maart teruggekeer.

Die passasiers wat positief vir die virus getoon het, is afkomstig van KwaZulu-Natal en die Vrystaat.

Mkhize sê wat betref die Queen Mary 2 het al 26 mense aan boord negatief vir Covid-19 getoets. Die skip het op 16 Maart uit Fremantle in Australië vertrek, maar is toegang tot die Durbanse hawe geweier nadat verskeie passasiers glo verkouesimptome getoon het.

Die skip is Dinsdag toegelaat om die hawe binne te vaar en die Suid-Afrikaanse bemanning kon afklim. Die skip is ook toegelaat om nuwe voorraad in te neem, maar geen buitelandse burger is toegelaat om af te klim nie.

Die skip sal nou sy reis voortsit.

“Die ses Suid-Afrikaanse bemanningslede is na ʼn kwarantynfasiliteit in Durban geneem,” sê Mkhize.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Riaan ·

Die kurwe plat nie af nie, dit lyk net so want daar der duisende toetse uitstaande en agterstallig. ANC gaan later agterkom hulle kan nie die wereld n rat voor die oe draai nie.

netekalleen ·

As mens na die ander lande se statistieke kyk update hulle 3 tot 3 keer hulle stats n dag. Hier 1 keer in 2 dae as mens gelukkig is. Mens weet nie wat waar is of nie

Gawie ·

Ek volg die statistieke noukeurig van dag een af – daar word elke dag nuwe syfers vrygestel. Baie ander lande doen dieselfde.

JC Venter ·

‘n Tuinwerker sal my beter pas, hier is nou nogal heelwat te doen.

Pieter ·

Ag toe nou! Tuinwerk sal jou beslis nie doodmaak nie. Goeie oefening en hou jou besig

Lindi ·

Daar is nie ‘n manier dat ek enige van hulle naby my huis toelaat nie. Wonder waar kom al die werkers skielik vandaan teen watter prys?

netekalleen ·

Hoe gaan die spul geidentifiseer word deur ons inwoners? Enige skelm kan nou rondstap en “claim” hy of sy is deel van die 10 duisend.

netekalleen ·

https://sacoronavirus.co.za/
Gister op die site afgekom en amper 24 ure later wys hulle toets syfer en aantal positiewe diagnoses nogsteeds dieselfse. Wil hulle nou se in die afgelope 24 uur is daar geen nuwe toetse gedoen nie??

JC Venter ·

Die sacoronavirus waarna jy verwys se skakel waarop mens kan klik is ook sommer hier regs van die artiekels op Maroela Media.

Pampoen ·

Hulle het die geloofwaardigheid van die syfers prysgegee. Dis baie jammer.

Gawie ·

Pampoen, hoekom sê jy so? Het jy vir ons bewyse dat die syfers verkeerd is?

Grassie ·

Gawie – het jy vir ons enige bewyse dat die syfers wel korrek is? Ek betwyfel ook die korrektheid van die syfers. Op die dag waarop die afsondering begin het, het die syfers ook sommer afgeplat. Miskien was dit om die peoples te oortuig dat die optrede werk. Nie ek of jy of Pampoen kan enigiets “bewys” nie maar ons kan ‘n mening vorm as ons die sameloop van waarskynlikhede in ag neem.

Pampoen ·

Hi Gawie, Ja ek dink ek kan dit bewys. Volgens ‘n paar doktersvriende van my, neem dit vyf dae voordat hulle uitslae kry van die toetse. So die aantal positiewe resultate wat ons vandag sien, is eintlik vyf dae terug s’n. So mens sou eers ‘n moontlike afplatting in syfers kon sien vyf dae nadat afsondering begin het. Selfs dan sou die verandering eers baie stadig wees as ons dit vergelyk met oorsese tendense. So- nee wat – ek glo nie in fairy-tales nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.