Covid-19: Meer duidelikheid oor gevalle in Gauteng versoek

(Argieffoto: Unsplash)

Kommer bestaan oor die skielike toename in die aantal Covid-19-gevalle in Gauteng. Akkurate syfers en ’n duidelike uiteensetting van brandpunte in dié provinsie word nou versoek sodat die virus nagespoor en beperk kan word.

“Mense het die reg om ingelig te word oor opkomende brandpunte, maar die Gautengse departement van gesondheid het nog geen distriks- en subdistriksyfers sedert 4 November uitgereik nie,” het Jack Bloom, leier van die DA in Gauteng, Donderdag gesê.

Dít nadat dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, Woensdag bekend gemaak het dat die land tans die tweede golf van Covid-19-gevalle beleef.

Luidens die Gautengse departement se syfers is 1 162 nuwe gevalle van die koronavirus Woensdag in die provinsie aangemeld. Dit is sowat drie keer meer nuwe daaglikse gevalle as verlede week.

Bloom sê daar heers egter vrae oor die akkuraatheid van die departement se syfers nadat in ’n stadium beweer is dat daar minder aktiewe gevalle in die provinsie was as Covid-19-pasiënte in Gautengse hospitale.

Die nasionale departement van gesondheid het derhalwe die provinsiale departement versoek om sy data te “sinchroniseer” aangesien dit nie sin gemaak het nie.

Die Stad Tshwane het intussen ’n beroep op Pretorianers gedoen om verantwoordelik op te tree in ’n poging om Covid-19 in die stad te beperk.

Altesaam 54 238 bevestigde gevalle is al in Tshwane aangemeld waarvan 537 tans aktiewe gevalle is. Altesaam 1 184 inwoners is aan die virus dood.

“Hoewel hierdie getalle nie op ’n skielike toename in gevalle dui nie, is daar steeds rede tot kommer,” sê raadslid Sakkie du Plooy.

Inwoners word gewaarsku teen byeenkomste waar alkohol verbruik word, asook versoek om by die stad se klinieke aan te klop indien hulle gedurende die feestyd vermoed dat hulle of ’n familielid moontlik Covid-19 opgedoen het.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Ek wens die DA-beheerde regering van die Wes-Kaap wil keer by die ANC-beheerde regering van Gauteng: doen die corona toetse halfwas en met ‘n traak-my-nie-agtige houding. Dit keer hierdie hemelhoë syfers van nuwe gevalle (meeste met in elk geval ligte simptome van Corona). Die DA in die Wes-Kaap se gedurige toets toets toets gaan hulle nog lekker in die rug steek: môre oormôre plaas die ANC-regering die Wes-Kaap op harde lockdown met as amptelike rede om Corona te keer, maar eintlik net om die DA in die Wes-Kaap en die wit mense in die Wes-Kaap te onderdruk.

MADELEIN

En 3 weke terug was daar minder as 200 gevalle in Gautenb…REGTIG!!!!!! Ek wil dan ook weet, of daar spesiale tellers aangestel is, want wraggies word daar DAAGLIKS nuwe getalle deurgegee, watter uitslae is so vinnig beskikbaar en word so akuraat getel??

JM

Laat Jacob Zuma die telwerk doen, dalk, net dalk, het julle dan die korrekte getalle …