Covid-19: Meeste gevalle dalk nié in Wes-Kaap

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Ian Landsberg/ANA)

Die Wes-Kaap het tans verreweg die meeste bevestigde gevalle van Covid-19 van al die provinsies in Suid-Afrika. Teen Donderdag is 13 826 (64%) van die land se 19 137 Covid-19-gevalle in dié provinsie aangemeld.

In teenstelling hiermee het David Makhura, die premier van Gauteng, die afgelope week gespog dat dié provinsie nog slegs 15% van al die Covid-19-gevalle aangemeld het. Teen Donderdag is slegs 12,8% van gevalle in Gauteng aangemeld (2 453).

Kenners meen egter dit beteken nie noodwendig dat die koronavirus onbeheers versprei in die Wes-Kaap of selfs dat dié provinsie soveel meer gevalle as Gauteng het nie. Die Wes-Kaap loop bloot voor met gevalle omdat dié provinsie die doeltreffendste toetsvermoë landwyd het. Kenners meen egter dat Suid-Afrika landwyd ʼn groot agterstand het in die aantal toetse wat gedoen word en die tyd wat dit neem om dié toetse te verwerk.

Teen Donderdag het die Wes-Kaap altesaam 100 721 toetste gedoen. Dit is heelwat minder as Gauteng, waar 166 394 toetse teen dié tyd uitgevoer is.

Jack Bloom, ʼn DA-lid van die Gautengse wetgewer, verduidelik egter dat die Wes-Kaap 50% meer toetse per capita as Gauteng doen, aangesien dit ʼn kleiner bevolking as Gauteng het. Bloom meen ook dat die Wes-Kaap mense op die regte plekke toets (sogenaamde brandpunte). Daarom dat meer mense positief toets in die Wes-Kaap.

Gauteng het baie massagemeenskap-siftingstoetse en Covid-19-toetse gedoen wat nie gefokus was nie en dus minder infeksies sou aanteken.

Bianca Capazorio, woordvoerder van die Wes-Kaapse wetgewer, verduidelik aan Maroela Media dat die wetgewer van ʼn doelgerigte gemeenskapstoets- en siftingsprogram gebruik maak. “Dit word gebruik om gebiede spesifiek te teiken waar hoër infeksiesyfers opgemerk word of waar ons glo dat daar ʼn groter risiko vir infeksie is. Ons het ook reeds gesif en getoets rondom risikogroepe wat in werkplekke en supermarkte ontwikkel het.

Gesondheidsorgwerkers doen voorbereiding om mense te toets by Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

“Hierdie ’veldbrandbenadering’ soek aktief na gevalle en risiko’s,” verduidelik sy.

Volgens Capazorio is dit egter nie net dié benadering wat daartoe gelei het dat die Wes-Kaap tot dusver ʼn hoër aantal infeksies as enige ander provinsie aangemeld het nie. “Ons het vasgestel dat die Wes-Kaap se kromme vinniger versnel het weens verskanste gemeenskapsoordrag wat ʼn groter aantal infeksies tot gevolg gehad het.

“As [ander provinsies] dit nog nie ervaar nie, sal hulle binnekort sien dat hierdie patrone in die komende weke opduik, aangesien elke provinsie die verskillende fases van die virus begin ervaar,” verduidelik Capazorio.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, waarsku dat dit dus te vroeg is vir enige provinsie om te spog met ʼn lae infeksiekoers.

“Weens die algehele landwye afsondering gaan provinsies op verskillende tye deur Covid-19 geraak word. Mense moet besef dat almal dieselfde pad as die Wes-Kaap gaan loop, hoewel die virus nie gelyk versprei nie.”

Mulder het gesê hoewel die Wes-Kaap se toetsvermoë beter is as dié van ander provinsies, is dit hoegenaamd nie voldoende nie, aangesien Suid-Afrika se toetsvermoë oor die algemeen tekort skiet.

Gauteng en die Wes-Kaap wag soms albei langer as ʼn week vir toetsuitslae om bekend te word.

Volgens Bloom wag Gauteng vier tot agt dae vir toetse se uitslae om bekend te word. In sommige gevalle moes pasiënte 11 dae lank wag om hul toetsuitslae te ontvang.

Dit beteken dat die provinsie se syfers in werklikheid sowat ʼn week agter is.

“Die aantal toetse uitgevoer is nie so belangrik soos die aantal toetsuitslae ontvang nie,” verduidelik Bloom. Hy skat dat die resultate van sowat 20 000 toetse in Gauteng nog uitstaande is.

Gesondheidsorgwerkers doen voorbereiding om mense te toets by Khayelitsha, Kaapstad (2 April 2020) (Foto: AP Photo/Nardus Engelbrecht)

Dokters in die Wes-Kaap wag gemiddeld sewe dae vir die uitslae van toetse om bekend te word. “Die vertraging in toetsuitslae plaas geweldige spanning op pasiënte wat daarvoor wag. Dié vertraging het ook ʼn negatiewe uitwerking op die departement se vermoë om mense op te spoor wat in kontak was met ʼn Covid-19-pasiënt en verhoog die risiko dat die virus verder versprei,” sê Capazorio.

Mulder sê Suid-Afrika toets ook hopeloos te min. Hy wys daarop dat die VSA, die land met die meeste Covid-19-gevalle ter wêreld, tot op hede 14 176 713 toetse uitgevoer het. Dit dui op 42 858 toetse per een miljoen mense in dié land, volgens die Covid-19-barometer Worldometer se statistieke.

Volgens dié statistieke het Suid-Afrika 506 861 toetse uitgevoer, ʼn skamele 8 559 per een miljoen mense in die land. Volgens die departement se syfers word gemiddeld tussen 15 000 en 20 000 toetse daagliks in die openbare en private sektor uitgevoer. Suid-Afrika se nasionale gesondheids- en laboratoriumdienste (NHLS) het vroeër beloof dat Suid-Afrika teen einde April sowat 36 000 toetse daagliks sal kan verwerk.

Volgens Mulder sukkel Suid-Afrika om die mas op te kom wat toetsing betref, bloot omdat die land se gesondheidstelsel reeds voor die Covid-19-pandemie oorlaai was en ondoeltreffend gefunksioneer het.

Dit kom neer op die regering se wanvermoë om te regeer.

Marc Mendelson, ʼn kenner in aansteeklike siektes verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, en Shabir Madhi, ʼn mediese navorser verbonde aan die Universiteit van Witwatersrand, het in ʼn onlangse akademiese artikel gesê NHLS het eenvoudig nie die kapasiteit om die aantal toetsmonsters wat aan hulle verskaf word, te toets nie.

Mendelson en Madhi wys ook daarop dat hoewel die Wes-Kaap se toetsvermoë beter is as dié van ander provinsies, die Groen Punt-laboratorium in Kaapstad ook nie kan byhou nie. Volgens hulle het dié laboratorium kapasiteit vir 1 000 toetse per dag en hoewel hulle dag en nag werk, het hulle teen 7 Mei ʼn agterstand van 10 000 toetse gehad.

“Die vinger kan natuurlik ook na Suid-Afrika se afhanklikheid van ander lande vir toetstoestelle gewys word. ʼn Tekort aan toetstoestelle is egter ʼn wêreldwye probleem,” lui hul navorsingsverslag.

Dié navorsers stel voor dat toetse bloot geprioritiseer moet word volgens die erns van ʼn vermoedelike Covid-19-pasiënt se simptome – toets diegene wat in ʼn hospitaal opgeneem is se toetsmonster eerste, verduidelik hulle.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Alleen Wolf ·

Dis pateties dat ons gesondheids stelsel slegs daarin kan slaag om toets uitslae eers na omtrent sewe dae bekend te maak terwyl my vriend in Eswatini wat ‘n ou klein landjie is met beperkte mediese fasiliteite sy uitslae binne vier en twintig uur kon kry.
Dit laat my wonder of hierdie regering ooit gereed sal kan wees vir die pandemie, al hou hulle ons in hierdie belaglike grendelstaat vir ewig en ‘n dag,.
Al hierdie uitslae wat so gereeld op media deurgegee word beteken dus NIKS, al wat bereik deur hulle aksies is die bevordering van hulle R.E.T. program deur die vernietiging van blanke besighede en welstand

Lorette ·

Ek stem saam met jou. Daar is net eenvoudig niks in hierdie eens pragtige SA wat nou meer behoorlik werk nie. Wie moet ons bedank – Zuma en sy vriende wat nou skotvry kom nadat hulle ons eens pragtige land met hul hebsug vernietig het! Ek het hoop gehad vir sy opvolger, maar ongelukkig is daar nog steeds ‘n Zuma in die parlement.

Hennie ·

In ‘n neutedop dan: Die Wes Kaap regering is nie ‘n spul mamparras nie!

Lizanda ·

Sjoe, en dit neem julle 2 maande om tot hierdie slotsom te kom?

JohanR ·

Kom ons se die Wes Kaap is die enigste provinsie wat sy Corona statistiek reg aankondig, dan kan ons soe somme maak : WC Populasie 6,707,000 miljoen, 12153 gevalle, 235 sterftes. Gauteng Populasie 14,460,000 2453 gevalle, 27 sterftes. Dit is nou die syfers 21/05/2020. As ons nou se die WC verkondig hulle syfers korrek aan, en ons persentasie daai syfers uit met die WC syfers, dan moet Gauteng nou soe lyk: Gauteng Populasie 14,460,000 26201 gevalle, 507 sterftes. Iewers lieg iemand nie net oor Gauteng nie, maar oor al die ANC beheerde provincies. Ek het hier maar net my simpel berekening gemaak maar miskien kan ‘n prof of wiskunde deskundige dit nog verder neem. Al die ANC beheerde provincies sal na vlak 3 omdat hulle statistiek reg lyk, maar die WC sal op vlak 4 bly omdat hulle statistiek styg? Iewers gaan die verkeerde statistiek met die ANC opvang!

Pieter ·

Die is stadig om dit agter te kom. Ons weet die in die eerste week van Lockdown. Is oor die DA hulle werk doen en nie probeer agter af wees nie. Die ANC en hulle leuns sal nie stop nie, dus is S.A in so gemors. (Nes 1983 se Kerk Straat aanval wat toe gehou word.)

Grassie ·

Ek is nie oortuig van die korrektheid van die statistiek nie. Miskien word dit gemanipuleer met politieke motiewe. Wes-Kaap is die enigste provinsie wat nie deur die ANC beheer word nie en dit is vir hulle ‘n bitter pil om te sluk. Hulle sal graag die peoples wil oortuig dat die provinsie so swak regeer word dat die ANC moet oorvat. Die regering kan selfs die gedokterde syfers gebruik om te verhoed dat die Wes-Kaap saam met die res van die land afskuif na vlak drie, wat hul ekonomie erg sal knou. Ek glo darem nie dat hulle so laag sal daal nie maar ‘n mens weet nooit.

Burgermeester ·

Ek is vanoggend super stadig. Kan iemand vir my reg help asseblief? Bo in die berig word gestaaf dat die Wes-Kaap die doeltreffendste toetsvermoë het (ek bevraagteken dit glad nie). Maar, in die volgende paragraaf word daar geskrywe dat “…teen Donderdag het die Wes-Kaap altesaam 100 721 toetste gedoen. Dit is heelwat minder as Gauteng, waar 166 394 toetse teen dié tyd uitgevoer is”. As die Wes-Kaap meer doeltreffend is as Gauteng, hoekom dui die syfers aan dat Gauteng meer toetse gedoen het? Verstaan ek iets verkeerd, of kan dit dalk ‘n redaksie glips wees?

Lorna ·

Net n bewys van klomp mamp….. wat dink hul weet iets maar weet hul weet niks
Hul total is af die dat net die gesondheid ministers iets mag sê en Dan sê hy ook niks

johannes ·

Ek sukkel om die grafieke te lees van Maroela Media. Dit is te fyn vir my oë om op my slimfoon te lees, al vergroot ek dit. Seker die ouderdom wat aankruie..

Alleen Wolf ·

Moenie bekommerd wees as jy dit nie kan lees nie, dis in elk geval bollie

koos10 ·

Dan is dit mos net weereens ‘n bewys dat die inperking nie werk nie, maar nee, die regering hou voort daarmee.

Louens ·

Regerende party besig met politiek. Glo nie dat een provinsie so uit vehouding covid getalle het nie. Die regerende party speel politiek met getalle. Die Kaap provinsie is mos in die visier van die regerende party want die provinsie word mos nie deur hulle regeer nie. Daar is soveel politiek deur hulle aan die gang. Kan nie glo dat die ANC hulle besig hou met kleinlike politiek ten koste van mense se lewens nie. Dit wys jou dat hulle geen waarde heg aan menselewens nie maar eerder hoe vol hulle gatsakke gestop kan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.