Covid-19: Meeste WVF-eisers is vroue

(Foto: Luke Wilson/Unsplash)

Die meeste slagoffers wat Covid-19 by die werk opdoen, is in hierdie stadium vroue.

Volgens die departement van arbeid is meer as 80% van die eise wat tot dusver by die Vergoedingsfonds ingedien is dié van vroue – en dit is ʼn neiging wat in al die provinsies voorkom.

Die departement sê hy moet nie net werkers help wat deur die algehele afsondering geraak is nie, maar moet nou ook die toenemende getal eise hanteer van diegene wat die virus by die werk opgedoen het.

Die Vergoedingsfonds het tot dusver 941 eise ontvang, die meeste daarvan – 657 eise – uit die Wes-Kaap. Altesaam 533 van die eise is van vroue afkomstig. Die fonds het reeds 356 van die eise aanvaar, 69 is afgekeur en in 233 gevalle word ʼn beslissing nog afgewag.

In die Oos-Kaap was 99 van die 127 eise wat ingedien is afkomstig van vroue. Altesaam 26 eise is goedgekeur, drie is van die hand gewys en nog 98 is hangende.

KwaZulu-Natal het tot dusver 98 eise ingedien, waarvan 67 aanvaar, vyf afgekeur en 26 nog ʼn beslissing afwag. Altesaam 93% van eise was van vroue.

In Gauteng staan die eise op 54, waarvan 46 dié van vroue is. Tot dusver is 31 aanvaar, sewe eise is afgekeur en 16 word nog oorweeg. In Limpopo is twee eise ingedien, albei van vroue. Net een van die eise is aanvaar. In Noordwes is daar ook twee eise by die Vergoedingsfonds ingedien. Een eiser is ʼn vrou. Mpumalanga het tot dusver een eis gehad en die eiser was weer eens ʼn vrou.

Die departement het tot dusver net meer as R202 000 aan mediesefondskoste uitbetaal.

“Ons weet dat diegene aan die voorste linies, soos verpleeg- en ander mediese personeel deur die pandemie geraak word. Ons wil ʼn beroep op werkgewers doen om te verseker werkers het voldoende beskerming en die nodige beskermende toerusting om hul werk te doen.

“Ons syfers wys dat die meeste werkers verpleegpersoneel is wat die hoogste prys betaal sodat die res van ons ʼn tweede kans kry om die pandemie te oorleef,” het Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, gesê.

Die departement doen intussen meer inspeksies om te verseker daar word aan alle maatreëls voldoen.

“Ons sien ongelukkig steeds lae voldoeningsvlakke. Dit is sowat 57% in die private sektor en 47% in staatsdepartemente.”

Nxesi het gesê sedert die begin van die afsonderingstydperk is 2 475 kennisgewings op werkgewers beteken en dat dié werkgewers ʼn verantwoordelikheid het om na hul werkers om te sien.

“Werkers moet terselfdertyd weier om onder gevaarlike omstandighede te werk. Net vandeesweek het ʼn maatskappy arbeidswetgewing en afsonderingsregulasies verontagsaam en is hy skuldig bevind en beboet nadat die werkers alarm gemaak het. Werkers en hul werkgewer het ʼn verantwoordelikheid vir gesondheid en veiligheid, al is dit op verskillende maniere,” het Nxesi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Stelsels ….en personeel nie hiervoor toegerus nie. Hoeveel fondse nou al wanbestee a.g.v. stelsel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.