Covid-19: Meshoe, ACDP-LP toets positief

Eerw. Kenneth Meshoe (Foto: David Ritchie, ANA)

Twee lede van die ACDP, waaronder eerw. Kenneth Meshoe, het positief getoets vir Covid-19.

Wayne Thring, adjunkpresident van die ACDP, het die nuus Vrydag in ’n verklaring bevestig.

Volgens Thring het Meshoe en LP Steve Swart die nuwe koronavirus opgedoen nadat hulle onlangs ʼn geleentheid by die Divine Restoration Ministries in Bloemfontein bygewoon het. Verskeie ander mense wat dié geleentheid bygewoon het, het daarna positief vir Covid-19 getoets.

Angus Buchan het ook die byeenkoms bygewoon en vandeesweek positief vir Covid-19 getoets.

Thring verduidelik dat Meshoe geen simptome getoon het nie hoewel hy Sondag vir die virus getoets is. Swart het matige simptome getoon en is Maandag vir Covid-19 getoets. Albei het hulself voor die tyd afgesonder.

“Eerw. Meshoe toon steeds geen simptome nie en bly in goeie gesondheid. Swart toon matige griepagtige simptome en herstel goed,” lui die verklaring.

Volgens Thring moes Meshoe vyf dae lank vir sy toetsuitslae wag en die departement van gesondheid verskeie kere bel vir die uitslag. “Dit het onnodige spanning op hom en sy gesin geplaas en tot onregverdige bespiegeling in die media oor sy toestand gelei.”

Maroela Media het vroeër berig meer as 200 mense het vroeër vandeesmaand die Jerusalem Prayer Breakfast-geleentheid (JPB) bygewoon, waaronder Buchan en Meshoe. Die departement van gesondheid het later ʼn beroep op al die kerkgangers gedoen om hulself dringend aan te meld om vir die nuwe koronavirus getoets te word. Dít nadat vyf oorsese gaste by die geleentheid positief vir die virus getoets het.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Estelle

Ek het baie respek vir Kenneth Meshoe – mag ons Vader hom aanraak en ten volle genees.

Jaco

Die man sit al vanaf 1994 in die parlement, so met al daardie jare se spaargeld plus ‘n huidige salaris van R1.3miljoen per jaar olus ‘n onthaaltoelae plus ‘n luukse motor plus ‘n vdt petroltoelae plus vernirt vlieg, sal hy behandeling kan bekostig en weer gesond word.
Eks amper seker dat hy die volgende Bybelvers in sy Bybel uitgekrap of toegeplak het:
Markus 10 vers 25:
Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.

Estelle

Ek gun hom sy geld – God seen hom. Hy dien die Here sy lewe lank. Niemand kan hemel toe gaan as dit nie vir God se genade is nie. Dankie tog dat God regverdig is en die laaste se het.