Covid-19: Minder as 3 000 pasiënte in Netcare-hospitale

(Foto: Facebook)

Netcare het in dié stadium minder as 3 000 Covid-pasiënte in al sy hospitale reg oor die land.

Ten spyte hiervan is die hospitaalgroep steeds besig om sy kapasiteit vir noodpasiënte uit te brei.

Nog drie tydelike kliniese besluitnemingseenhede is by die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria, Netcare Ferncrest-hospitaal in Rustenburg en Netcare Pholoso-hospitaal in Polokwane gevestig. Dié eenhede kan 116 bykomende Covid-19-pasiënte akkommodeer.

Altesaam 15 ander besluitnemingseenhede is reeds in Netcare se hospitale in Gauteng gevestig  waar bestaande hospitaalsale in dié eenhede met 214 beddens omskep is.

“Ons ervaring van die tweede golf dui daarop dat die behoefte aan bykomende kapasiteit in ’n spesifieke gebied skielik kan ontstaan. Hierdie tydelike fasiliteite is baie nuttig om die druk op noodgevalle-afdelings in hospitale te verlig aangesien pasiënte in hierdie kliniese besluitnemingseenhede gestabiliseer kan word voordat hulle opgeneem word, indien nodig,” sê dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare.

Volgens Friedland is die doel van Netcare se kliniese besluitnemingseenhede om sy beskikbare hulpbronne op die doeltreffendste manier te benut om die grootste aantal pasiënte te help.

Die besluitnemingseenhede word sedert die tweede week van Januarie ingespan en het reeds byna 400 pasiënte gehelp.

“Hoewel hierdie tydelike fasiliteite help om die toename in Covid-19-noodopnames te hanteer, is ons kritiekesorgeenhede in baie van ons hospitale steeds onder geweldige druk ten spyte daarvan dat ons kapasiteit in hierdie hoogs gespesialiseerde eenhede vergroot het.”

Volgens Friedland is Suid-Afrika nog nie deur die ergste wat Covid-19-infeksies betref nie.

Hoewel Netcare se hospitale in die Oos-Kaap ’n afname in Covid-19-verwante opnames beleef en die Wes-Kaap se getalle begin stabiliseer, word baie pasiënte steeds in sy hospitale in KwaZulu-Natal, Limpopo en Gauteng met Covid-19 opgeneem.

“Ons hoop dat ons ’n kruin bereik het en dat ons binnekort sal sien hoe gevalle in hierdie gebiede begin afneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Hulle weet seker daar gaan verlank nog nie n vaksien wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.