Covid-19: Minister uit hospitaal ontslaan  

Gwede Mantashe, minister van mineralebronne en energie, (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, is Sondagaand uit die hospitaal ontslaan, ʼn week nadat hy weens Covid-19 opgeneem is.

Mantashe en sy vrou het op 14 Julie positief getoets vir die virus. Hy is op 20 Julie in die hospitaal opgeneem.

“Die minister is deur sy mediese span aangeraai om vir nog sewe dae tuis te bly,” het Phumla Williams, woordvoerder van die kabinet, gesê. “Ons is dankbaar dat hy nou tuis is saam met sy gesin en op pad is om ten volle te herstel.”

Williams het intussen lede van die uitvoerende gesag en alle Suid-Afrikaners wat Covid-19 onder lede het, ʼn spoedige herstel toegewens. “Ons wil ook ons medelye betuig met die baie families wat geliefdes verloor het weens die virus.”

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het Saterdag positief getoets vir Covid-19. Dit was die tweede keer dat die minister vir Covid-19 getoets word.

“Minister Patel is opgewek en sal van die huis af werk terwyl hy in self-kwarantyn is,” het Williams gesê.

Patel het Vrydag nog aan die virtuele parlementêre begrotingsdebat oor sy departement se aangepaste begroting deelgeneem.

Ander ministers wat positief getoets het, is die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, wat sedertdien herstel het en die minister van arbeid, Thulas Nxesi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Is jy in die Steve Biko Akademiese Hospitaal behandel minister?

Blikke ·

As jy n minister is het jy darem die voordeel om langer as die gewone landsburgers in die hospitaal te bly en versorg te word. n Vriend verloor agv COVID wat hy in die hospitaal opgedoen het na n operasie. Die dokters kon hom nie gou genoeg ontslaan om plek te maak vir die volgende pasient nie en nou is hy dood. Wonder maar net soms hoekom dinge so gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.