Covid-19: Minstens 55 gevalle by Tuks aangemeld

(Argieffoto: Unsplash)

Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys, het ʼn beroep op studente, dosente en personeellede gedoen om waaksaam te bly en aan Covid-19-regulasies te voldoen met die aanvang van die 2021- akademiese jaar.

Hy is besorg oor berigte van groepe Covid-19-infeksies in die tersiêre sektor.

Higher Health, die agentskap wat deur die departement aangestel is om studentegesondheid en welstand te bevorder, het aan Nzimande gesê uitbrekings by sommige instansies is uiters kommerwekkend. “Alhoewel Covid-19 hoofsaaklik nadelig is vir ouer lede van die bevolking, blyk dit dat die virus muteer en nuwe variante word vinnig deur jongmense versprei. Ongelukkig kan dit tot ʼn derde golf van infeksies lei,” het Nzimande gesê.

Hy het bevestig dat dit tans slegs die Universiteit van Pretoria is wat ʼn klein uitbreking ervaar. Daar is egter ook positiewe gevalle by ander universiteite en TVET-kolleges aangemeld. Dié gevalle word egter nog nie as klos-uitbrekings beskou nie.

“Minstens 55 studente van die Universiteit van Pretoria het teen Woensdag, 31 Maart 2021, reeds positief getoets,” het hy gesê. “Ons werk hard daaraan om alle kontakte op te spoor met behulp van die departement van gesondheid. Ons het ʼn groot groep studente en personeellede die afgelope paar dae getoets. Higher Health is steeds besig met toetse en sifting. Ons wag vir dié uitslae. Daar is ʼn moontlikheid dat die getal positiewe gevalle kan styg.”

Die minister het gesê Higher Health het ook opleiding oor Covid-19-protokol en ontsmettingsmaatreëls gereël vir meer as 180 personeellede wat onder andere by sekuriteit, koshuise en studenteondersteuning werk. Skoonmakers het ook opleiding ondergaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois ·

Neewat gaan toi toi maar lekker saam sonder maskers. Dis wat julle kry vir onnoselgyt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.