Covid-19: Mkhize bekommerd oor toename in nuwe gevalle

Dr. Zweli Mkhize. (Foto: Elmond Jiyane)

’n Toename in nuwe Covid-19-gevalle oor die afgelope paar weke het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, bekommerd.

Mkhize, wat onlangs positief vir Covid-19 getoets het, het Woensdag gesê Suid-Afrika se jongste epidemiologiese verslae toon ’n toename van 9,1% in nuwe gevalle van Covid-19 oor die afgelope sewe dae terwyl ’n toename van 10,7% oor die afgelope twee weke waargeneem is.

’n Toename in nuwe gevalle is boonop in sommige provinsies opgemerk.

“Daar was oor die afgelope sewe dae ’n duidelike toename in die aantal nuwe gevalle in die Wes-Kaap. Die provinsie het ’n toename van 42% in nuwe infeksies aangeteken.”

Volgens Mkhize kan die beduidende toename in nuwe gevalle in die Wes-Kaap as ’n oplewing beskou word.

Die provinsiale departement van gesondheid het wel reeds sekere gebiede geïdentifiseer waaruit ’n beduidende aantal nuwe gevalle van die koronavirus spruit – waarvan een ’n kroeg in die suidelike subdistrik van Kaapstad. Daar is vroeër berig dat tot 63 mense Covid-19 opgedoen het ná ’n kuier by ’n kroeg in Claremont.

“Ons wag op verdere verslae van die Wes-Kaapse departement van gesondheid se reaksiespanne wat nou die subdistrikte met ’n groot toename in nuwe gevalle die afgelope twee weke moet teiken.”

Die minister doen intussen ’n beroep op alle provinsies om kontaknasporing en kwarantyn op te skerp.

“Mede-Suid-Afrikaners, wanneer ons beklemtoon dat die risiko van ’n oplewing steeds hoog is, doen ons dit nie om vrees in te boesem nie. Ons het as regering die verantwoordelikheid om mense op die hoogte te hou wanneer ons tendense opmerk. Dit sou onverantwoordelik van ons wees om ‘klein oplewings’ wat ons in sommige dele van die land sien te ignoreer.”

Mkhize sê verder dat die tempo van nuwe gevalle en sterftes die aanbevelings beïnvloed wat sy departement aan die nasionale bevelsraad vir die hantering van kwessies rakende die koronavirus maak.

“Soos ons voortgaan om die ontwikkeling van ’n entstof te monitor, is ons sosiale gedrag en ons voortdurende nakoming van gesondheidsprotokol die enigste wapen wat ons as land het. Almal van ons moet hierdie verantwoordelikheid aanvaar en diegene rondom ons altyd aanmoedig.”

Maroela Media het vroeër berig Mkhize en sy vrou, dr. May Mkhize, het self vroeër vandeesweek positief getoets vir Covid-19.

Volgens Mkhize sterk hy tans tuis aan terwyl sy vrou vandag uit die hospitaal ontslaan word.

Die minister sê ’n hoes is in dié stadium sy enigste oorblywende simptoom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dis my mening

Ag asb. Ons weet lankal teen die tyd jul beplan om die getalle hoër te laat lyk sodat jul weer die regulasies kan verskerp en so ons weer onder die duim hou!! Die bootjie is uit gery, wens jul word iets, miskien soos wakker!!

Jacobus

Maak wat mense doen wat omgee – gaan doen ‘n kursus in statistiek minister. Dit sal ons spaar van daaglikse dosering van die twak wat ons mense vreesbevange maak en van hulle menseregte beroof.

JohanR

En ons is NIE bekommerd oor die ANC nie. Ons wil net he julle moet #Voertsak. Ons sal seker in Febuarie 2021 waaneer SA op sy warmste is en die see en strande lyk te lekker, weer op Vlak 3 wees met die boggers!

Baardman

Twak, hulle is weer lus vir plunder en lê en niks doen. Ewe skielik is die Weskaap weer die groot probleem. Wat sê Persheks…tsek, los ons uit, ons werk en hou mense aan die lewe

Charles

Met die kamstige tweede golf wil hulle die middelklas die doodskoot gee, hulle wil ons afhanklik maak aan hulle, media speel saam om dit in ons kele af te druk.